Nuuskommentaar: Hou op om apartheid te blameer – Trevor Manuel

Minister Trevor Manuel

Op Menseregtedag vanjaar beskryf die Sentrum vir Grondwetlike Regte Suid-Afrika se rassesituasie soos volg: “Suid-Afrika kan hoegenaamd nie as ‘n nie-rassige demokrasie beskryf word nie. Ras is steeds ‘n groot verdelende faktor en bepaal steeds de facto en de jure toegang tot indiensname, en maatskaplike, onderwys- en ekonomiese voordele. Regeringsbeleid word toenemend op ras gebaseer en dit is kommerwekkend dat die nasionale diskoers – en soms op aggressiewe wyse – ‘n rasse-ondertoon het wat nie deur die regering afgekeur word nie – en die regering steun soms selfs hierdie neigings.”

Suid-Afrikaners het dit opnuut beleef in die vorm van politici, waaronder die president self en die minister van polisie, wat in wese ANC-mislukkings op die brood van apartheid smeer. Binnekort is dit presies 22 jaar sedert die laaste apartheidswet uit die wetboek geskrap is, met neo-apartheid nou in volle swang.

Byna gelyktydig plaas twee bekendes gelyktydig die kwessie van apartheid op die tafel. Minister Trevor Manuel gebruik ‘n belangrik platform, waar onder meer adjunk-president Kgalema Motlanthe en die minister vir die staatsdiens, Lindiwe Sisulu teenwoordig is, om te apartheid kan nie meer vir alles wat verkeerd loop geblameer word nie.

Prof. Jonathan Jansen, rektor van Kovsies en bekende rubriekskrywer, skryf   in sy jongste rubriek in Media 24 se koerante dat apartheid nog baie lewend in kerke in Suid-Afrika is.

Die Burger (lees hier), Volksblad (lees hier)  en Beeld (lees hier) loof Manuel vandag in hul hoofartikels. In die sosiale media gons dit, meestal goedkeurend. In die kommentaargedeeltes op die internet word Jansen erg oor die kole gehaal oor wat hy geskryf het, en eintlik as Paasboodskap bedoel het. Polarisasie is op die oog af aangeblaas.

Daar moet geen fout gemaak word nie – volgens die berigte het Manuel steeds rasbegunstiging goedgepraat en na die huidige gemors as “middelmatigheid” verwys. Jansen, daarenteen, verwys gereeld na sy strewe om veral op sy kampus akademiese uitnemendheid sonder ‘n rassebril te behaal. Die wyse waarop hy onder meer die Reitz-4-kwessie hanteer het, het daartoe bygedra dat hy deur die Nederlandse koerant as oud-president Nelson Mandela se opvolger as ikon van versoening genoem is. Jansen het ook reeds op sy Facebook-profiel hom sterk teen die hedendaagse rasseklassifikasie op al wat amptelike vorm is uitgespreek.

Wat Manuel gesê het strook grootliks met die grondwet. Die grondwetskrywers het duidelik nie die tydelike beperking op gelykheid, waardeur regstellende aksie gemagtig is, bedoel om 22 jaar na die opskorting van apartheid steeds sonder brieke en sonder sonsondergang in die wetboeke geduld te word nie en byna eksklusief ras as norm in te span nie. Regstellende aksie het ook lank reeds ontspoor en is nou bloot rasbegunstiging deurdat dit grootliks reeds-reggestelde oor en oor bevoordeel, en ‘n hele nuwe generasie rasbenadeeldes weer begin benadeel – nie net wit nie, maar ook bruin soos Solidariteit se hofsaak teen die DKD getuig.

Jansen se klem op transformasie is minder in pas met die grondwet. Die woord “transformasie” kom glad nie in die grondwet voor nie, terwyl daar wél in onder meer artikels 30 en 31 voorsiening gemaak word vir taal- en kultuurregte, en die assosiasie met taal-, godsdienstige en kulturele gemeenskappe.  Die nuwe, beplande koshuistoegangsbeleid op die Universiteit van Stellenbosch kom juis onder skoot.

Manuel spreek ‘n betreklike eenvoudige kwessie aan: Moenie rasbegunstiging (hetsy “regstellende optrede” of SEB) as verskoning gebruik vir korrupsie, en dan die gevolge op apartheid blameer nie. Niemand met gesonde verstand kan hiermee fout vind nie.

Jansen spreek ‘n veel komplekser kwessie aan waar verskillende agtergronde en ervarings verskillende persepsies vorm. Daar was dadelik die volgende vrae aan Jansen: As apartheid so lewend in die kerke is, hoe het hy dit self reggekry om eredienste in “wit” gemeentes by te woon, waaronder die Hervormde Kerk? Hoe het ‘n “wit” Gereformeerde gemeente in dieselfde stad dan ‘n bruin vrou as diaken?

Al drie die Afrikaanse susterkerke is al deur ‘n “apartheidsmeule” waarin gebloei is. Die NG Kerk het na die dokument, Kerk en Samelewing, die totstandkoming van die APK beleef. Die Hervormde Kerk het al ‘n hele aantal gemeentes afgestaan na die sinode die sogenaamde “apartheidsbesluit” geneem het, hoewel die steeds-Hervormers dit duidelik stel dat die onvrede eerder oor fundamentele leerkwessies handel. Die GKSA was onder meer in die spervuur omdat die gemeente op Reddersburg toegang tot eredienste en kategeseklasse aan bruin kinders van die kinderhuis wou weier “ter wille van ouer lidmate.” Die kerkverband het hierteen opgetree.

Kulturele kwessies soos taal, en dikwels verskillende verwagtinge van spiritualiteit, speel gewoonlik ‘n veel groter rol daarin dat mense op die oog af volgens ras in verskillende kerkgenootskappe, of selfs gemeentes verdeel. Dit is ook nie eie aan Suid-Afrika nie, met pres. Barack Obama wat self lidmaat van ‘n byna eksklusiewe swart kerk is, terwyl hy self deur sy blanke grootouers grootgemaak is. Jansen verklaar self dat sy huistaal Engels is en sy dogter nie vlot in Afrikaans is nie, wat eerder in die weg sal staan van lidmaatskap van die Hervormde Kerk, as ‘n onwilligheid van die NH Kerk om hom en sy gesin as lidmate te ontvang.

Die verskillende spiritualiteite is ‘n uiters sensitiewe kwessie wat veral in die bewindstyd van pres. Zuma duidelik geword het vir die meer openlike uitleef en stel van die rol van voorvadergeeste en praktyke wat die “blanke” kerke as animisties en selfs lynreg in stryd met die Bybel beskou. Vroeg vanjaar het Zuma onder meer aangekondig dat daar vanjaar ‘n “nasionale reinigingseremonie” sou plaasvind, en emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu in sy kerkverband in ‘n verleentheid gestel deur ook aan te kondig dat hy Tutu gaan vra om dit te lei. Dit is internasionaal deur die media gekritiseer.  Intussen, so lyk dit, het Zuma se adviseurs hom “ingehaal” en het die storie doodgeloop, en Tutu ook geen so ‘n uitnodiging ontvang nie.

Kortom, minderheidsregte is ‘n internasionale reg wat saam met individuele regte menseregte vorm. Wyle Max van der Stoel was in die Joop den Uyl-era ‘n vurige eksponent teen apartheid, en tydens sy afsterwe veral bekend vir sy rol in die bevordering van minderheidsregte, as eksponent van menseregte.

Dit klink nou ondenkbaar dat pres. Jacob Zuma die volgende toespraak sou lewer:

“Uitgelese verteenwoordigers van die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika. Ek wens julle hartlik geluk met die viering van Geloftedag. Ek het geen twyfel dat julle hierdie pragtige vakansiedag met die toepaslike seremonies sal vier nie, en so jul tradisies lewend sal hou.

“Ek vertrou dat jul prestasies in die komende jaar sal vermenigvuldig. Wees verseker daarvan dat ons gemeenskaplike vaderland veel sterker daaraan toe is met julle en jul sukses.”

Tog is dié toespraak gelewer, maar deur pres. Serzh Sargsyan van Armenië, ter viering van die Assiriese minderheid se Nuwejaarsvieringe. Die Assiriese gemeenskap, veral diegene wat tot die Assiriese Kerk van die Ooste behoort, het hul Nuwejaar vanjaar op 4 April gevier.

Die Assiriërs, net soos die Armeniërs, is Christene, en vele deel ‘n geskiedenis van volksmoord aan die hand van die Turke vroeg die vorige eeu. ‘n Hele aantal het tydens die volksmoorde saam met die Armeniërs uit Turkye na die hedendaagse Armenië gevlug.

Hoewel die meeste Assiriërs Armeens goed onder die knie het, is hulle gesteld op die handhawing van hul eie taal en tradisies. Verskeie staatskole bied ook onderrig in Assiries aan.

Maar tog, as Zuma se uitsprake sedert hy president geword het, nagegaan word, word onder meer die volgende gevind wat bitter na-aan Sargasyan se toespraak kom:

–       Na ‘n braai met Afrikaners, waaronder Steve Hofmeyr en Dan Roodt in 2007 is Zuma soos volg in die media aangehaal: “A lot of things have changed and it is now a real pleasure to sit around a table with Afrikaners.”

–       In 2009: “Our being here today is not because we are campaigning. We are here because we are engaging with the Afrikaner community which we believe is important in terms of this country.”

–       In 2011, in ‘n onderhoud  met Beeld, soos gedra in News 24: “The Afrikaner should find his own Nkandla, President Jacob Zuma said on Wednesday. Not a geographical area, but a psychological home where he’s safe and has the freedom and confidence to live and express the things that are important to him. Zuma said in an interview with Beeld – the first with an Afrikaans newspaper since he became president – he has a deep understanding for the need of some Afrikaners for a home of their own.”

–       Ook die Koisan se regte is al uitgespreek, soos aangehaal uit IOL in 2011: “South Africa must fully recognise the status of the Khoi and San people.”

Zuma is egter bekend daarvoor dat hy, soos ‘n goeie eertydse indoena, by elke kampvuurtjie vertel wat die uitgebreide familie daar wil hoor. Op Julius Malema se tuisdorp in dié jongeling immers as kroonprins voorgehou. Net jammer van die *&^% media wat by die ander kampvure gaan klik oor wat by elke kampvuur gesê word. Zuma is, so beskou, ook blatant oor minderheidsregte deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma by verlede jaar se Kliptown-beraad gerepudieer.

Leiers moet bedag daarop wees dat hul uitsprake die land en sy mense vorentoe neem – so ver moontlik buite-om die beperkings van ‘n mens se eie perspektiewe. Dit het Manuel nou gedoen en die asem word opgehou dat hy nie gerepudieer word nie, of selfs net verklaar word dat hy buite konteks aangehaal is nie, of dat dit bloot in die vrot vat van weersprekings versuip gaan word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Mossie ·

Ek is nie snaaks nie maar die woord apartheid kom net voor as hulle hul sin in alles wil kry.Ons moet alles verander en opgee om alles vir hulle te doen en gee,ons mag niks he of doen nie,hoe baie plekke en dinge doen hulle waar daar geen wit is nie,maar ons gee maar alles oor aan hulle en verloor alles want as daar wit in is ,is dit onregverdig en rassisties. Ek is 54 jaar oud en het in al my jare nog nooit gesien dat bruin mense slawe was nie,hulle het nog altyd op loekasies gebly of in jou jaart en n selare gekry as hulle vir jou werk.Ek het nog nooit gesien dat hulle sleg behandel wor nie,as ek gesien het sou ek defnitief hulle part gevat het.Al wat ek weet is dat daar plekke was wat as blank en nieblank was.En hulle het hulle eie stede gehad waar hulle kon doen wat hulle wou.Nou het ons niks en mag niks he nie.Wat sou hulle doen as van ons wit mense hulle plaasmense begin uitmoor soos wat hulle met ons mense oen,dit is so algemeen dat dit nie eens meer snaaks is nie en dit hou net aan en aan,maar hulle se of doen niks daaromtrent nie en se nie dit is rassisties nie. Om afrikaans te wees is so erg vir hulle, dat dit volgens hulle weggeneem moet word ,is dit nie rassisties nie.My man en n vriend van ons was al aangeval deur swartes, net omdat hulle in die winkel afrikaans gepraat het.Ek is nie rassisties nie en sal vir hulle opkom as dit moet,maar ek voel hulle gun ons niks ,nie eens om te lewe nie.Wees bietjie regverdig,julle maak dat van die wit mense n haat in julle gaan kry. Konsentreer liewerste op die krimenele wat ons en julle uitmoor en besteel as om altyd die skul by ons en rassisme te soek.

Adele Matthee ·

Baie dankie Trevor Manuel, vir hierdie stuk waarheid – ek as blanke RZA burger waardeer dit baie watn ek het ook agter gekom dat die huidige korupte kultuur wat die land regeer en die se leier nie kan tel nie en ook nie besef dat daar is mense met ‘n Ik wat nie grens aan onoselheid nie – die leuens en korupsie waarmee ding gepaart gaan is net een te veel en mens het geen respek vir die persone wat dit doen nie – geen land kan regeer word met korupsie en leuens nie – wonder net wanneer mense se oe oopgaan oor die blanke sinlose moorde wat so gereeld gepleeg word en daaraan iets gedoen gaan word .. Voorspoed met jou standpunt wat jy neem – miskien kan jy die volgende president word waarvoor ‘n mens meer respek sal kan he…

Callie Cal;itz ·

Mnr. Manual,
Dankie vir jou nugtere waarhede. Ek is net bevrees jy het net te veel gesê, en Zuma en sy afhanklikes gaan nie daarvan hou nie. Wil jy nie asseblief jou beskikbaar stel as Presidentskandidaat nie ? Ek is seker die oorgrote meerderheid agtergeblewenes (nou WIT) sal vir jou stem. Saam met Adv. Thuli Modensela ,
Mamphela Rhamphele en Cyril Rhamaposa kan julle ‘n gedugte leierskorps begin.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.