Nuuskommentaar: Hulle stink so lekker, want hulle drink so lekker, en die loslaat van die rasding

Argieffoto

Wangedrag deur toeskouers by sportgeleenthede kom nie van gister af nie. Van boefagtige belhamels op die paviljoen tot mammas wat langs die veld waar kleinman dit uitkap, die kluts kwytraak en die wag voor die mond laat glip, laat ander toeskouers warm om die kraag.

Die vastelandse Europa was erg omgesukkel oor Engelse sokkerboewe wat hul spanne oorsee gevolg het, en in besoekende stede amok gemaak het. Die indrukwekkende gekonfiskeerde arsenaal van wapens het eerder aan tsotsi’s as aan sportondersteuners herinner. Ook hier is al teen PSL-klubs opgetree wat skuldig bevind is daaraan dat hul ondersteuners hulle aan boefagtige optrede skuldig gemaak het.

Groot gewag word nou gemaak van insidente op Nuweland en Kingsmead, wat uiteindelik ook een lewe gekos en Suid-Afrika se internasionale beeld weer bollie gemaak het.

Verby is die dae toe toeskouers die vindingrykste planne “moes” maak om die ondeunde voggies paviljoen toe gesmokkel te kry. Byna elke “ekspert” het sy “resep” gehad oor hoe om die vuurwater in nartjies ingespuit te kry, en ander het weer gespesialiseer daarin om Coke-bottels weer geseël te kry na die inhoud erg gekruie is. Borgskappe verseker sedertdien dat die donderweer in kanne sommer binne die stadions verkoop word, en ja, die sportbase is stram, en nukkerig, om iets behoorlik aan die probleem van gevolglike gesuipte toeskouers te doen – al kla die ander toeskouers ook hoe, en bring nie meer hul meisies en gesinne saam nie, of bly self weg om nie in onsmaaklikhede betrokke te raak nie.

Maar selfs nugter toeskouers is passievol oor hul spanne en kan erg emosioneel raak as ‘n ander, veral met Bacchus se hulp, onsmaaklikhede oor sy span kwytraak, en die stiefregter boonop sy span kroek…

Baie manne sien net nie meer kans om hul gesinne of vriendinne saam te vat rugby toe nie, want die gesuiptes en gopse kan bitter onsmaaklik raak met vroue, en veral jongerige meisies.

En dan is daar die papbroeke wat gekoester in ‘n bondel maats skielik vreeslik dapper en skoorsoekerig raak in die “wete” dat hy nou onaantasbaar is, tot met ‘n onaansienlike Simson of “Jackie Chang” in vermomming geskoor word en die belhamels tot die groot vreugde van die ordentlike toeskouers afgeransel word nog voor die bang sekuriteitsbeamptes ‘n vinger gelig kry.

Dit is die “gewone” pawiljoenresep vir moeilikheid.

Dan is daar die bykomende Suid-Afrikaanse kwessie.

Daar word nou al gesê dat besoekende krieketspanne van die Indiese subkontinent tuiswedstryde in Durban, en in ‘n mindere mate in Johannesburg en Centurion speel, soos ‘n duidelik-uitkenbare deel van die bevolking die besoekende spanne ondersteun. By baie van hulle is geen sweempie teken van lojaliteit teenoor die land wat hulle voed en waar hulle boonop die voordeel van rasbegunstiging ervaar nie.

Dan is daar Nuweland. Speel die Springbokke teen ‘n buitelandse span, het die Suidpawiljoen wat in die skeidingsdae die bruinmense sit- en staanplek gebied het, omtrent soos een man die besoekers ondersteun. Veral die All Blacks. Die woorde het af en toe oor en weer gevlieg, maar die witte wat ‘n Kaapse man met sêgoed gaan koudsit, moet nog gebore word. Dit is min of meer so aanvaar.

Wanneer die ‘WiePie’ ‘n buitelandse span aangedurf het, was daar bietjie verdeelde lojaliteit op die suidpawiljoen.

Dié situasie het eerder verdiep as verdamp na apartheid opgeskort is. Minister Trevor Manuel wat nou so baie kloppe op die skouer kry, is, of was minstens, ‘n vurige All Black-ondersteuner en sy dislojaliteit tydens die wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika het nie oral goed afgegaan nie. Nou is selfs die twee dogters van die Stormers grootbaas groot All Black en Crusader-ondersteuners.

Wanneer dit oor binnelandse kompetisies handel, word toeskouers wat “tuisspanne” ondersteun, veral sedert die beroepsera, eintlik vir lojaliteitsgekke gehou – van die spanne het so woes elders gekoop dat dit die sportsoort in hul eie bonde eintlik eerder kneus deur talent te smoor. Die toppunt was toe twee “Engelse” Premiership-ligaspanne teen mekaar gespeel het met nie ‘n enkele Engelse speler in een van die twee spanne nie. Tog bly toeskouers fanaties lojaal.

Dit blyk nou dat die rugby-ringkoppe oor hierdie probleem juis nie All Black-wedstryde aan Nuweland toeken nie. Die analoog by krieket sou wees dat Durban en Johannesburg nie internasionale wedstryde sou kry as Pakistan Indië of Sri Lanka aangedurf moet word nie.

Wit Suid-Afrikaners wat nie die Bafana Bafana omarm nie word as min of meer melaats beskou, al steun hulle nou ook nie juis enige ander land se sokkerspan nie., en al begin die vreemdeling-in-eie-land-behandeling nou al na kwarteeu aanstap.

Daar is deurlopend vrae oor die Afrikaner se lojaliteit aan die land, hoofsaaklik omdat lojaliteit teenoor die ANC dikwels met lojaliteit teenoor die land verwar word, en min wittes verstaanbaar trek vir die ANC het.

Maar vat aan ‘n Springbok, of dit nou ‘n wit swart of bruin Springbok is, of beledig ‘n Protea – of dit nou Amla of Philander is, en kyk watter moeilikheid jy alles van wit ondersteuners te wagte kan wees. Dink maar aan die spontane toeskouersreaksie as die “Beast” die bal begin dra.

Dan lyk die prentjie heelwat anders oor wie werklik lojaal teenoor die land en sy sportspanne is as die algemene prentjie wat voorgehou word.

Wanneer die rasseding in Suid-Afrika kop uitsteek, kompliseer dit die situasie dikwels oneindig omdat dit in ‘n groter foutlyn plaasvind. Dit het wortels, en tentakels. Dit betrek onmiddellik gemeenskappe eerder as net ‘n paar individue – dink maar aan die sogenaamde “leeuvoer-insident” en wie vir wie agter bakkies aansleep. Dit is dus meer as die gewone waar ‘n klompie toeskouers mekaar “uitsorteer.”

En boonop is Suid-Afrikaners passievol oor rugby.

Ongelukkig het dit nou dieper gesny as die onskuldige steun aan ‘n span van keuse. Om die probleem aan te spreek gaan die wysheid van Salomo verg voor daar nog ‘n tragedie kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.