Nuuskommentaar: In vaste vertroue of daarsonder, snoerwet ‘n heksebrousel

Nederlandse kinders glo Sinterklaas, en voor dit politiek inkorrek geword het, Zwarte Piet, bring geskenke uit Spanje. Maar nou kom daar groot kopsorge vir Europa uit Spanje. Met ‘n klein Gideonsbende vol vaste vertroue kan ‘n groot oormag bestorm en verwilder word. Wanneer daar egter verwarring in die kamp gesaai word, is dit moeilik om die aanvallers so ver te kry om die regte ding te doen. Dit, volgens ekonome, is wat nou in Spanje aan die gebeur is, en waaruit Suid-Afrika ‘n paar belangrike lesse kan leer.

Spanje se ekonomiese probleme sluimer al lank, maar die bevolking is met wanvoorstellings, disinformasie en die blote weerhouding van inligting in die war gestuur. Verlede jaar het die kiesers die sosialistiese regering aan die broek se sitvlak gevat, en by die deur uitgeskop. Die nuwe regering het huisskoonmaak beloof, maar ook eufemismes gebruik om die omvang van die probleem te beskryf. ‘n Gebrek aan deursigtigheid het die wanvoorstelling in stand gehou.

Skielik is die Spanjaarde met die harde werklikheid gekonfronteer, en die ou klowe van wantroue in die regering en die regering se ekonomiese planne staan vierkantig in die pad van oplossings. Spanje is Europa se vierde grootste ekonomie, en dié krisis hou groot gevaar vir die hele Europa in. Die baie kortstondige positiewe sentimente op die Europese beurse na die Griekse kiesers ‘n pro-Europese keuse uitgeoefen het, moes dadelik swig onder die druk van slegte nuus uit Spanje.

Pres. Barack Obama van  die VSA het pas by die G 20 ook moed probeer inpraat, want ‘n positiewe gees is nodig om ‘n positiewe ekonomie te kan bou. Hy het sy volle vertroue in Europa uitgespreek om self sy ekonomiese krisis aan te spreek, al sal dit nie in een omvattende stap gedoen kan word nie. En met die VSA kniediep in die knoffel, het hy dit duidelik gemaak Europa kan nie hulp uit die VSA verwag nie. Maar Europa is pas geskud deur ‘n verslag van Transparency International oor hoe omvangryk korrupsie in Europa, veral Suid-Europa is, en hoe gebrekkig wetgewing is om deursigtigheid te verseker en so te voorkom dat instansies invloed by politici kan koop.

Maar dan moet perspektief verkry word. Suid-Afrika beklee die 64ste posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, terwyl veral Noord-Europese lande skrum vir die boonste plekke op die indeks. Suid-Europese state vaar minder goed, met Frankryk in die 25ste plek, Spanje in die 31ste plek, Portugal in die 32ste (wat met Botswana gedeel word), Italië 69ste en Griekeland (80ste). Suid-Afrika val dus ruim in tussen die Europese lande wat in die sop is, die sogenaamde Pigs-lande.

Die groot ontsteltenis oor die beoogde snoerwet in Suid-Afrika is dus ruim te verstane. Groter deursigtigheid was hoog op die wenslys van omtrent almal wat voorleggings aan die G 20 gemaak het – in so ‘n mate dat die president van die Europese Kommissie, José Manuel Barroso verslaggewers aggressief toegesnou het hulle het nie na die G 20 gekom om lesse in demokrasie te ontvang nie. Barrosso gaan nog swaar sluk aan hierdie woorde, want goeie demokrasie word deur deursigtigheid gekenmerk, en sy woorde gaan die reeds diep wantroue teenoor die deursigtigheid van die Europese Kommissie net verder verdiep.

Die ANC se volharding om die snoerwet op die wetboek te plaas, lyk al te veel na ‘n toordokter se brousel om ‘n ernstige siekte aan te spreek. Die laaste ding wat die land nodig het is om soos die Spanjaarde op ‘n dag wakker te word en te besef dat nie oop kaarte gespeel is met ‘n wye verskeidenheid amptelike syfers en ander inligting nie. Intussen is sluimerende wantroue in dié syfers ook sleg vir die ekonomie.

Daar is niks mee verkeerd om die silwer randjie te soek nie – trouens, dis noodsaaklik om die positiewe gees te voed wat nodig is om die ekonomie reg te ruk. ‘n Oggendstond met goud in die mond is nog beter. ‘n Silwer randjie word egter nie verkry deur die donker wolk ook silwer te verf nie.

In die Suid-Afrikaanse mediawêreld is daar groot ontsteltenis oor Suid-Afrika so laag op die persvryheidsindeks is en die kreeftegang gaan, maar Verslaggewers sonder Grense meet nie net drakoniese maatreëls, of voorgenome maatreëls deur die staat teen mediavryheid nie. Dit meet ook die invloed wat sakelui in die media koop om ‘n sekere beeld voor te hou, en verklaar waarom Griekeland en Italië maar effentjies op dié indeks vaar. Dit meet ook die impak van politieke korrektheid en selfopgelegde agendas. Met ander woorde, hoe gefiltreer om sekere agendas, soos politieke agendas te dien, ervaar die lesers die koerante.

Hoe wyd is die volgende nuus oor Suid-Afrika vanjaar in die media gedra?

– Suid-Afrika het pas op die indeks van mislukte state agteruit geboer en word deur byvoorbeeld Botswana in die skadu gestel
– Persvryheidsindeks: 42ste, teruggesak van die 38ste posisie verlede jaar, en die 21ste posisie in 2003. In 2003 was Suid-Afrika die mees persvrye land in Afrika maar deel nou die sewende posisie met Botswana.
– Korrupsiepersepsieindeks: Suid-Afrika beklee nou die 64ste posisie, en het sedert verlede jaar met tien plekke teruggesak. Namibië is in die 57ste posisie en Botswana in die 32ste posisie.
– Wêreldvredesindeks: Suid-Afrika is in die 127ste posisie teenoor die 122ste posisie verlede jaar. Botswana is 32ste, en Namibië 49ste.

Slegte, onaptytlike nuus, maar weerhou hierdie nuus van die kiesers, en kyk hoe dit op die einste indekse boemerang. Daardie indekse word vrylik oorsee gepubliseer, en deur beleggers fyn bestudeer. Die manier om sake op die indekse te verbeter is deur dit reg te stel, nie te verswyg nie. Spanje is die jongste voorbeeld van wat gebeur as ‘n regering sy mense deur ‘n gekkeparadys gelukkig probeer hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.