Nuuskommentaar: Internasionale dag vir inheemse groepe

Foto: Mieliestronk.com

Vandag is internasionale dag vir inheemse groepe. Inheemse groepe verwys normaalweg na die nageslag van ‘n land se oorspronklike inwoners, wat hul eiesoortige kultuur bly behou, en onderskei word van die hoofstroom van daardie land. Hulle is dus gewoonlik minderhede, en juis daarom is daar baie aandag aan hoe hul minderheidsregte deur die lande waarin hulle woon beskerm word.

Volgens die VN is daar nou sowat 370 miljoen inheemse mense ter wêreld, wat sowat 6 persent van die wêreldbevolking, maar ongeveer 30 % van die wêreld se 900 miljoen baie arm mense uitmaak. Hulle is deel van sowat 5 000 identifiseerbare groepe wat in 72 lande woon. Die FW de Klerkstigting het ‘n insiggewende verklaring oor die onderwerp uitgereik wat hier gelees kan word.

Ongeveer ‘n 100 miljoen mense, meestal inheems, is lede van instansies wat lid is van die Onverteenwoordigende Nasies- en Volke-organisasie (UNPO). Via hierdie organisasie se lewendige werk kan die lot van ook die inheemse groepe wêreldwyd goed gevolg word. Daar word daagliks nuus versprei oor sake en optredes wat inheemse groepe raak; groepe waarvan baie van ons nog nooit eens gehoor het nie.

Soms is dit betreklik maklik om te bepaal watter groepe die eerste inwoners was, en dus werklik kwalifiseer om as inheems getipeer te word. Die voorouers van die oorgrote meerderheid inheemse inwoners van die Amerikas het volgens die jongste aanduidings meer as 14 000 jaar gelede uit Asië gemigreer, met twee latere groepe, en selfs ‘n beperkte terugmigrering na Asië. Die aborigines van Australië se aansprake op inheems staan op vaste bene, en so ook die Maori’s in  Nieu-Seeland.

Soms is die saak minder duidelik. Onlangs is in die parlement van Bangladesj  aangedring dat die land 75 minderhede, in plaas van net 27 soos nou, erken. Die meeste is ook inheems, en die voorstelle het tydens ‘n parlemente bespreking plaasgevind wat spesiaal aan die Internasionale Dag vir Inheemse Groepe gewy is.

In Suidelike Afrika sal die Koi, en veral die San as die inheemse bevolkings kwalifiseer. Onlangse opgrawings in die Lebomboberge op die grens tussen KwaZulu-Natal en Swaziland het aan die lig gebring dat ‘n “moderne” kultuur minstens 44 000 jaar gelede, 20 000 jaar vroeër as wat voorheen gemeen is, in die omgewing bestaan het. Die tegnologie het baie ooreenkomste getoon met dit wat die San steeds gebruik.

Inheemse groepe geniet volkeregtelik naas minderheidsregte ook pertinent inheemse regte, maar baie dikwels trek juis hulle die kortste lootjie. Trouens, hul eerste blootstelling aan die latere bewoners was dikwels katastrofies, soos die uitbreek van dodelike pandemies weens ingevoerde siektes waarteen hulle geen weerstand gehad het nie, en blatante uitmooraksies.

Spesiale grondwetlike maatreëls soos gewaarborgde setels verdoesel dikwels kwalik dat die roof van grond en ander vorme van minagtende verdringing steeds voortgaan. Aan die ander kant het die Christen ‘n sendingtaak, en daaruit voortspruitend ‘n missie om beter mediese sorg, voedingsprogramme en vele meer te voorsien wat dikwels onafwendbaar ou kultuurgebruike verdring.

Dat die tradisionele kriteria vir die identifikasie van groepe, waaronder inheemse groepe, onder druk kom blyk daaruit dat die VSA waarskynlik in die 2920-sensus sy tradisionele kriteria vir ras en etnisiteit sal moet wysig. Al hoe meer mense identifiseer hulle self nie meer volgens die bestaande kriteria nie, en met die vorige sensus het 19 miljoen Amerikaners hul ras as “ander” aangedui as die vyf keuses waaruit hulle kon kies.

Die groot les wat uit die viering van die Dag van Inheemse Groepe geneem kan word, is dat hul dubbele beskerming min waarde het as minderheidsregte nie behoorlik gestalte kry nie. Daarsonder word inheemse regte grootliks op waaisand gebou.

Aan die ander kant mag die feit dat ‘n volk wat nié inheems is nie, nie gebruik word om daardie volk sy minderheidsregte te ontneem nie. ‘n Baie relevante voorbeeld is die lot van die Rohingya – ‘n Indo-Germaanse volk van ongeveer ‘n miljoen, in Mianmar.  Die organisasie, International Coalition for the Responsibility to Protect (R2P) berig hieroor soos volg: “Burmese authorities had not only failed to implement measures to halt and prevent violence in the Rakhine state but had opened fire on civilians, beat people with sticks, and stood by watching violence unfold such as killings, beatings and the destroying or burning of buildings. On July 12, the nation’s President Thein Sein said the only solution to the crisis was to expel the Rohingya fromMyanmarto other countries or to UN refugee camps. Current laws in the country deny citizenship to the Rohingya population…”

Mianmar se argument is dat die Rohingya eintlik  Bangladesji’s is wat tot baie onlangs nie in die land se geskiedenis vermeld is nie, en dus baie onlangs eers na die land sou verskuif het. Hulle word egter reeds in die 18de eeu in ‘n Britse koloniale verslag as deel van die destydse Birma se bevolkingsamestelling vermeld en beskryf.

Ook die Afrikaner is die slagoffers van gereelde beskrywings as setlaars, wat daarom ‘n mindere of selfs geen aanspraak het om in die land te wees nie. Die feit is egter dat op die Koi en San na niemand dan in die land volwaardig geregtig sou wees om in die land te wees nie. Dit sou ook absurde gevolge elders ter wêreld hê met onder meer die Indiese bevolking wat nie in Indië hoort nie, die Chinese nie in Taiwan nie, die Japannese nie in Japan nie en die Amerikaners nie in die VSA nie.

Inheemse regte se grootste waarde bly in die noodsaaklikheid daarvan om hierdie groepe te laat oorleef. Die anker vir vreedsame en betekenisvolle voortbestaan is egter die erkenning van minderheidsregte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae