Nuuskommentaar: Internasionale dag vir persone met gestremdhede

Vandag is dit internasionale dag vir die gestremdes.

‘n Eerste instink vir die keuse van ‘n onderwerp om vandag se nuus in konteks te plaas sou wees om die chaos in sekere provinsies oor die keuse van kandidate vir die ANC-leierskapskwessie onder die vergrootglas te plaas. Dit is belangrik. Ook die impak van die afsterwe, en skynbare uitsterf van werklike intellektuele persone gefokus op menseregte in die ANC-dampkring en vervanging met Zuma-tipe persoonlikhede roep om ontleding. Nog ‘n plaasmoord terwyl Afriforum ‘n optog teen dié euwel hou – na hulle eers die hof vir toestemming moes nader – verdien om onder die loep geneem te word. Die Wes-Kaapse landbou-onrus dreig om landswyd te versprei… Lady Gaga het die land op ‘n knop en stel vrae oor die vlakke van moraliteit.

Maar dit sou beteken dat die land se sowat 3 miljoen mense wat met die een of ander vorm van gestremdheid leef, nie op hierdie internasionale gedenkdag aan die beurt sou kom nie.

‘n Eerste probleem is dat dié mense dikwels eerder deur persepsies as hul gestremdhede gekniehalter word. Hulle verkies dus dikwels dat nie na hulle as gestremdes verwys word nie, maar eerder as na persone met ‘n gestremdheid, juis omdat daardie gestremdheid hulle nie algeheel strem in hul vermoëns nie. Daar is natuurlik gevalle waar die gestremdhede van so ‘n aard is dat die persoon werklik nie eens beskutte werk kan verrig nie.

Volgens die VN is 23,1 persent van die persone met gestremdhede wêreldwyd ekstreem arm, teenoor nie-gestremde mense se 17,9.

Wêreldwyd leef sowat 500 miljoen mense met die een of ander vorm van gestremdheid, sowat 80 persent hiervan in ontwikkelende lande, terwyl dit in Suid-Afrika sowat drie miljoen mense is. Na raming gebruik sowat 1,6 miljoen Suid-Afrikaners gebaretaal as eerste taal (Die amptelike sensus dui egter aan dat net meer as ‘n kwartmiljoen Suid-Afrikaners gebaretaal as eerste taal gebruik). Die 1,6 miljoen is meer as wat Ndebele, Tsonga, Swazi en Venda praat, wat amptelike tale is.

In ‘n wydlopende artikel deur adv. Jacques du Preez van die FW de Klerkstigting word gewys op die probleme waarmee Suid-Afrikaanse persone met gestremdhede te kampe het.

Een van die belangrikste vereistes om persone met gestremdhede by die 2 persent mikpunt van indiensneming in die openbare sektor te kry, is doeltreffende onderwys. Min lande kan egter volwaardige onderwys vir elkeen van die verskillende tipes gestremdhede bekostig. Trouens, streng gesproke behoort volkome dowe persone, en persone wat erg gehoorgestremd is, nie in dieselfde klas onderrig te word nie, omdat eersgenoemde sig as vernaamste wyse van onderrig gebruik, en die ander gehoor, al is dit met hulpmiddels. Vir outisme is daar vir elke een persoon wat in ‘n skool onderrig ontvang wat hierin spesialiseer, ‘n ellelange waglys. Nogtans sou ‘n Johannesburgse skool wat in dié gestremdheid spesialiseer, die einde van die jaar moes sluit, wat ter elfder ure afgeweer is.

Die absolute afdwing van spesialisskole vir gestremdhede sou veral in ontwikkelende lande doodgewoon beteken dat ‘n groot deel van die persone met gestremdhede geen onderrig sou ontvang nie, en daarom word ‘n benadering erken, wat bekend staan as inklusiewe onderrig. Dit bly ‘n peperduur stelsel, en daarom probeer baie lande geïntegreerde onderrig onder die dekmantel van inklusiewe onderrig toepas. Onder die nadele daarvan om kinders met skere gestremdhede doodgewoon in hoofstroomonderrig te forseer tel die sosiale probleme soos spottery waaraan reeds getraumatiseerde kinders onderwerp word.

Waar die een persoon met ‘n gestremdheid sal gedy onder die druk om in ‘n “normale” skool by te hou en te presteer, sal ‘n ander, soos ‘n sestienjarige wat steeds doek moet dra, waarskynlik weens die omringende trauma erg benadeel word. Dikwels is wegstuur na spesialisskole baie nadelig vir die kind omdat daar baie gevalle is waar maksimale ouerliefde en –betrokkenheid die beste terapie is. Baie ouers het al hul beroepe opgeoffer en verhuis om naby ‘n spesialisskool werk te kry en daar te kan woon.

Vir heelwat gestremdhede soos disleksie en outisme is vroeë intervensie noodsaaklik. Veral die vroeë intervensie met outisme is peperduur en gewoonlik buite die bekostigbaarheidsperk van ouers en hul mediese fondse. In baie gevalle bring dit slegs verbetering, maar stel nie die lyer in staat om volkome onafhanklik te kan funksioneer nie. Tog het kundiges in die VSA beraam dat ‘n gebrek aan, of gebrekkige vroeë intervensie, die staat op die duur veel meer kos.

Elkeen kan ‘n bydrae lewer om mense met gestremdhede te help, en so die land te help. Deur ‘n skildery te koop wat deur ‘n persoon met ‘n getremdheid maar met hierdie besondere splintervermoë, geskilder is doen veel meer as net die voorsiening van ‘n broodnodige inkomste. Dieselfde geld ‘n boek of artikel wat ‘n persoon wat van die nek af ondertoe verlam is, met ‘n pen getik is wat hy tussen sy tande klem. Dit inspireer en motiveer die persoon ook.

Dit is jammer dat die regering in sy strewe na rasbegunstiging soos “regstellende optrede” en BEE, ook dié gemeenskap teiken. Solidariteit het pas met sy “Stop Davies-veldtog” sukses behaal, maar daar is nog groot werk voor om dié gemeenskap op die beste moontlike trajek te kan plaas. Dit sou ook die uitleef van die grondwet nader aan die doel waarmee dit geskryf is bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.