Nuuskommentaar: Is daar ‘n moderne perspektief op die Gelofte?

Kan die Gelofte in ‘n moderne idioom vir hedendaagse Afrikaners vertolk en aangebied word?

Alvorens dié mynveld  betree word, is dit ook nodig om ‘n klippie of twee uit die skoen te kry. Geloftefeeste is lank in verskillende vlakke van blatantheid vir politieke doeleindes misbruik, en die ou sonde gepleeg om die geskiedenis te verdraai. Die sleureffek hiervan word vandag steeds gesien, soos ‘n radiostasie wat in sy bespreking van Geloftefees slegs blanke getalle in die laer weergee asof dit al mense was wat in die laer was. Ouer bronne het wel die benaderde getalle van bruin bediendes en Biggar se swart skerpskutters verskaf, maar dié het geleidelik uit die geskiedenisboeke verdwyn, en het onlangs weer hul verskyning gemaak.

‘n Paar jaar gelede het ‘n Potchefstroomse teologiese professor in ‘n artikel in Die Kerkblad die hedendaagse Afrikaners uitgetrap omdat hulle nie hul geskiedenis ken nie, maar toe uitgebrei oor die opofferings van die vroue in die laer. Andries Pretorius het egter geen vroue op die strafekspedisie toegelaat nie.

Die Afrikaner kan nie die vinger na die ANC wys vir die verdraaiing en herverpakking van geskiedenis wys, soos onder meer in die verandering van plekname as die Afrikaner self agter die deur staan nie.

Die tweede relevante aspek is wat die term “modern” beteken. In Suid-Afrika het dit ten nouste met die begrip, liberalisme, verweef geraak wat op sy beurt ten regte of ten onregte, met permissiwiteit geassosieer word. In hierdie denke is daar nie ruimte vir groepsidentiteit, en dus die Afrikaner as entiteit met regte nie. In die proses word die Gelofte dikwels uitgerangeer. Minderheidsregte is egter ook ‘n moderne begrip en word in die meeste saakmakende lande saam met individuele regte as menseregte beskou.

Kortom, on Geloftedag te gedenk is op sigself nie ‘n outydse of uitgediende konsep nie.

Met die samestelling van Ditsem Vrystaat se Geloftefeeskalender is veel te wete gekom oor ‘n diverse behoefte by verskillende mense. Aan die een kant ‘n groep mense wat ‘n moderne fees los van politiek reël, en aan die ander kant feeste waar godsdiens en politiek deeglik verweef word. Met ‘n wye spektrum tussenin.

‘n Deel van die feeste word duidelik gereël deur mense wat dit eksklusief binne ‘n sekere dampkring wil hou, terwyl ander wel oper is, maar sekere ekstreme groeperings wil uithou. Die aanbieding van baie feeste word dus styf teen die bors gehou, en dit is ‘n enorme en peperduur werk om hul besonderhede te bekom. Radiostasies wat twee jaar gelede nog kennisgewings van dertig of meer feeste in hul omgewing ontvang het om bekend te stel, het verlede jaar skielik so min as drie gekry.

Selfs bekende, tradisieryke feeste het van die radarskerms verdwyn, en word grootliks aan die gang gehou deurdat gereelde feesgangers self die boodskap uitdra.

Daar is dikwels ‘n baie duidelike vrees dat van die feeste gekaap kan word.

Van die feeste wat op die internet bekend gestel word, se bekendstelling word so bewoord dat mense in ‘n ander politieke raamwerk by voorbaat weet hulle is onwelkom.

Wat die betekenis van ‘n Gelofte, ‘n Verbondsvolk, die aanloop en betekenis van die Gelofte van Bloedrivier is, en hoe dit eers lank daarna deur die Afrikaner herdenk is, is verlede jaar breedvoerig in Maroela bespreek.

Niks in die aanloop, van Piet Retief se manifes in die Grahamstown Journal, dui op ‘n verstokte benadering nie. Rietief spreek hom teen slawerny uit en ten gunste van behoorlike arbeidsverhoudinge. Dit handel voorts oor goeie verhoudinge met volke wat hulle sou teenkom. Selfbeskikking, wat nie vreemd aan die moderne verwikkelinge in die internasionale reg is nie, word beklemtoon.

Trouens, die posisie waarin die Afrikaner bevind is in die UNPO se jaarverslag opgeneem.

Ook die volk se verbintenis met God is nie ‘n outydse begrip nie, en het onder meer in Amerika weer sterk opgang gemaak, sodat dit weer ‘n vername kwessie in die Amerikaanse presidentsverkiesing geword het.

Staan Geloftedag ver van Versoeningsdag?

Die kort antwoord is dat ‘n Verbondsvolk ‘n Christelike volk is, wat die Wet van God nastreef. Dit behels eerstens liefde vir God, en tweedens liefde vir die naaste, en selfs die vyand.

Die aanslae teen die Afrikaner en sy taal is legio. Selfs sy godsdiensopvattings is onder druk. Dit onderstreep die belangrike waarheid dat ‘n oorlog nie net op die slagveld beslis word nie, dat een veldslag nie ‘n oorlog behels nie, en dat die sinvolle uiteinde van ‘n oorlog vrede is. Vir werklike vrede is versoening nodig.

Daar is nie kitsoplossings nie – ook die FW de Klerkstigting het gekla dat die ANC aktief besig is om dele van die nasionale vredesakkoord te begrawe en daar was onlangs weer regstreekse dreigemente in hierdie verband.

Daar lê nog baie werk voor.

En ja, daar is ‘n moderne konteks waarteen Geloftedag beoordeel kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

INA GOSS ·

Waar kan ek die woorde van die Gelofte kry, ek wil dit graag deel op facebook?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.