Nuuskommentaar: Is Eskom se 16%-verhoging aanvaarbaar?

Gaan jy van April 2013 tot April 2015 elke jaar 16% meer moet opdok as Eskom sy sin met tariefverhogings kry? Die kort antwoord is: Nee – dit kan heelwat meer of minder as 16% wees. Wat dit sal wees, hang van die tussenganger tussen jou en Eskom af. Die tussengangers, soos munisipaliteite, bepaal die tarief waarteen hulle aan verbruikers elektrisiteit verskaf, nie Eskom nie.

Die tariefverhoging waarvoor Eskom by die Nasionale Energiereguleerder aansoek gedoen het, is die verhoging in die inkomste wat Eskom mag in – nie werklik ʼn verhoging in tariewe nie. Hoe hulle hierdie verhoogde inkomste by hul verskillende klante in en watter verhogings in watter tariewe ingestel word om daarby uit te kom, is ʼn afsonderlike saak.

Eskom se belangrikste klante is munisipaliteite, industriële gebruikers, buitelandse entiteite, mynhuise en landbou-ondernemings. Huishoudings wat direk vanaf Eskom elektrisiteit aankoop, koop slegs 4,7% van Eskom se krag aan. Verreweg die meeste huishoudings in Suid-Afrika ontvang hul elektrisiteit deur middel van tussengangers – munisipaliteite – wat Eskom se elektrisiteit dan teen ʼn hoër prys aan huishoudings verkoop. 41% van die elektrisiteit wat Eskom genereer word aan munisipaliteite verkoop. Munisipaliteite verkoop ook krag aan besighede en sommige nywerhede.

Terwyl Nersa skynbaar strenge regulering van Eskom se toegelate inkomste toepas, publiseer dit ten opsigte van munisipale verhogings slegs ʼn jaarlikse gidstarief. Munisipaliteite moet aansoek doen indien hulle meer as hierdie gidstariewe wil vra. In 2012 was hierdie gidstariefverhoging 11,03%, maar verskeie munisipaliteite het dit oorskry en dit blyk of die proses waarvolgens Nersa veronderstel is om hieroor beheer uit te oefen, moontlik disfunksioneel is.

Benewens die feit dat munisipaliteite dus as ʼn filter dien en die prys van elektrisiteit by die meeste huishoudings sal beïnvloed op ʼn wyse wat ander faktore as Eskom se 16%-verhoging inkorporeer, is daar selfs ʼn verdere komplikasie. Munisipaliteite probeer tegelyk om sekere huishoudings – byvoorbeeld dié wat as armer geag word – te subsidieer, sowel as om ekstra inkomste uit elektrisiteitsheffings te genereer. Dit bring mee dat, afhangende van die verbruikerskategorie waarbinne ʼn persoon of huishouding val, die uiteindelik verhoging méér of mínder as 16% kan wees.

Beteken dit dat 16%-verhoging van Eskom se gemiddelde tariewe aanvaarbaar is? Nog geensins nie. Die probleem is dat Eskom ʼn monopolie op elektrisiteitsverskaffing het en nie onder behoorlike markdruk is om sy kostestruktuur af te bring en op effektiewe wyse in markvraag na elektrisiteit te voorsien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.