Nuuskommentaar: Is SA in ʼn noodtoestand?

Wanorde en geweld

Die huidige vlag stakings en die geweld waarmee dit gepaard gaan, het die vraag laat ontstaan of dit nie nodig is dat ‘n noodtoestand afgekondig word nie. Die gewone onderhandelingstrukture op die myne het tot ‘n groot mate in duie gestort, en veral die vervoerstaking gaan met grootskaalse vandalisme, plundery en ernstige aanrandings gepaard.

Boonop het die NUM die polisie daarvan van traagheid beskuldig om diegene in hegtenis te neem wat verantwoordelik is vir die dood van sy lede by myne by Rustenburg.

As die grens tussen ‘n verklaarde noodtoestand en noodmaatreëls vervaag, beleef Suid-Afrika in sekere opsigte reeds elemente van ‘n noodtoestand – die weermag wat ingeroep is om die polisie na die Marikana-skietery te ondersteun, en die polisie wat tenkvragmotors moet vergesel sodat brandstof versprei kan word. Ook die uitlatings uit regeringsgeledere oor hoe die persoon wat die Nkandlagate-skandaal aan die groot klok gehang het, gaan gejag word en les opsê herinner aan optredes wat tipies in noodtoestande sou geld.

Alle ferm optrede om anargie en wanorde te keer moet egter nie met maatreëls tipies van ‘n noodtoestand vergelyk word nie. Met die onlangse wanorde en plunderorgie in die Nederlandse dorpie Haren, het die owerhede, na hulle aanvanklik met die broek op die knieë betrap is, vinnig en beslissend opgetree. Verskeie belhamels is aangekeer en die regsproses is op dreef.

Naakte politiekery dra baie tot die krisis in Suid-Afrika by. Terwyl die Cosatu-geaffilieerde Satawu die land wurg en onberekenbare ekonomiese skade aan die land aanrig, word vandale skynbaar erg langtand vasgevat. By Marikana was dit ‘n onafhanklike vakbond, AMCU, wat die hoofrolspeler was, en benewens die nou reeds berugte skietery, is so ferm opgetree dat die aanklagte van moord teen die aangekeerdes op hul eie makkers wat deur die polisie geskiet is, internasionaal opslae gemaak het.

Herskryf van die geskiedenis uit fiksieboeke

Trouens, die politiekery neem die vorm aan dat die geskiedenis uit ‘n fiksieboek herskryf word. Eers het die minister van Mynwese gesê sy het voor die Marikana-skietery nie van AMCU gehoor nie, terwyl sy voorheen reeds ‘n afspraak met die vakbond gehad het wat sy gekanselleer het. AMCU was ook die hoofrolspeler by die Implatsstaking by Rustenburg vroeg vanjaar, wat daartoe gelei het dat die NUM by sy kongres in Mei vanjaar reeds AMCU se rol hoog op die agenda gehad het. Die skietery was eers middel Augustus.

Tog help die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, nou skryf aan die fiktiewe geskiedenis deur te beweer AMCU het voor die Marikana-skietery nie bestaan nie, en is ‘n skepping van die mynbase. In werklikheid het AMCU tot stand gekom na Gwede Mantashe die stigter van AMCU jare gelede uit die NUM uitgewerk het.

Suid-Afrikaners ervaar daagliks dat die herskryf van die geskiedenis in ‘n heterogene land spanningsvlakke hoog opjaag. Dit word onder meer gesien in hoe die persepsie gevoed word dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en dikwels in die aansprake oor hoekom plekname moet verander.

Grondwetlike vereistes vir ‘n noodtoestand

‘n Werklike noodtoestand behels volgens die meeste definisies dat daar ‘n inperking op die publiek se menseregte gemaak word, en dus ‘n inperking van die grondwet soos dit onder normale omstandighede geld.

Volgens die Suid-Afrikaanse handves van menseregte kan ‘n noodtoestand afgekondig word in tye van oorlog, insurgensie, natuurrampe of algemene wanorde. Die doel daarvan moet wees om die situasie te normaliseer, dus nie om die bevolking te onderdruk, en onderdruk te hou nie.

Terwyl baie sou argumenteer dat die wanorde ‘n noodtoestand regverdig, is dit nie iets wat ‘n land polities maklik aanpak nie.

‘n Noodtoestand in Suid-Afrika verg vele prosedures en gereelde hersiening.  Dit mag nie vir langer as 21 dae geld nie, maar kan deur die parlement se algemene vergadering met 30 dae op ‘n slag verleng word, en na die eerste verlenging, moet 60 persent van die parlementslede vir die verlenging stem – ook eers na die saak in die parlement gedebatteer is.  Die geldigheid van ‘n noodtoestand kan ook in enige bevoegde hof getoets word.

Selfs onder ‘n noodtoestand geniet aangehoudenes nog heelwat van die regte wat hulle normaalweg het. Om ‘n noodtoestand volgens en in pas met die grondwet uit te roep verskil drasties van die onwettige tipe noodtoestande wat regerings soms uitroep wanneer byvoorbeeld die grondwet opgeskort word, die parlement ontbind word en opposisiepartye verbied word.

Die tipe noodtoestand wat gereeld in Amerikaanse flieks oor rampe soos aardbewings uitgebeeld word waar die veiligheidsmagte sonder aansiens des persoons op plunderaars skiet, is onder die Suid-Afrikaanse grondwet in wese ondenkbaar.

Toepassing van ‘n noodtoestand

Verskeie benaderings word met noodtoestande gevolg. Suid-Afrika, met die vorige bedeling, het toe die onluste in sekere gebiede kritieke afmetings aangeneem het, aanvanklik in daardie gebiede ‘n noodtoestand afgekondig. So is ‘n noodtoestand in gebiede in wat vandag Gauteng is, en distrikte soos dié van Parys afgekondig. Die teorie was om dit deur die sogenaamde oliekolbenadering aan te spreek. Die teorie word vergelyk met ‘n oliedruppel wat op ‘n dam water gegooi word, wat dan geleidelik uitkring en die water daaronder “glad” maak.

Die oliedruppel het ‘n volledige pakket ingesluit, met die vernaamste dat die owerheid projekte aangebied het om binne-in hierdie gebied sigbaar te wees. Daar is ook beeldbou-aksies gehou, en spesifieke aksies om goeie verhoudinge te bou, soos sokkerwedstryde tussen soldate en inwoners van so ‘n area.

Dit het ook vir ligter oomblikke gesorg. Tydens ‘n staatsekspo in die middel van Thumahole, Parys se destydse swart woongebied, is die verrigtinge die eerste dag behoorlik deur besoekers oorstroom. Die volgende dag daag omtrent nie ‘n siel op nie, en ondersoek is ingestel. Dit blyk toe dat iemand deur die nag die vals berig versprei het dat daar die volgende dag toegangsgeld gehef sou word. Dit het terselfdertyd getoon hoe ‘n klein bietjie kostelose vindingrykheid ‘n peperduur staatsoperasie kon neutraliseer.

Dié benadering het, soos voorspel, geboemerang. Die subversiewe elemente het gewoon tot buite hierdie areas beweeg, en kort voor lank brand die buurdorpe. Oplaas is die noodtoestand landswyd afgekondig.

In ‘n grondwetlike demokrasie is die afkondiging van ‘n noodtoestand vir enige ander rede as ‘n oorlog of natuurramp, ‘n ingrypende daad en grens in baie opsigte daaraan dat ‘n staatsgreep uitgevoer word, behalwe dat dit die regering van die dag is wat dit uitroep.

Politieke sosioloë beskryf die dinamika onderliggend tot die geweld en wanorde goed – ‘n teelaarde wat uit onvergenoegdheid spruit met omstandighede en gesagsinstellings. Strukturele verdrukking kan onvergenoegdheid laat opbou, en oplaas dien iets as sneller. Oormatige politieke beloftes wat tot oormatige verwagtinge lei, gepaardgaande met ‘n reuse inkomstegaping skep die perfekte resep vir wanorde.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jurie

There will NEVER be employed a defenceforce against the citezins of south afrika, even if the country burns!!! Mandela