Nuuskommentaar: Israel as regisseur van eie lot – maar dan ook van die wêreld

Benjamin Netanyahu

Israel se geduld met die VSA-geleide diplomatieke pogings om oorlog met Iran af te weer, is nie onbegrens nie. Israel se premier, Benjamin Netanyahu, het pas tydens ‘n besoek aan die VSA opnuut beklemtoon dat sy land die reg het om homself teen ‘n kernbereiging uit Iran te verdedig, en dat Israel nie veel langer kan wag nie.

Die premier het beklemtoon dat hy nie sal toelaat dat sy land in die skadu van vernietiging sou leef nie. In ‘n onderhoud met pres. Barack Obama het Netanyahu beklemtoon dat sy land nog nie ‘n besluit oor militêre ingryping in Iran geneem het nie, maar ook dat sy land nie sal weg deins vir militêre ingryping nie. Israel, meen hy, is regisseur van sy eie lot.

Maar as Israel die regisseur van sy eie lot is, sal die wêreld in die geval van ‘n Israelse aanslag op Iran se kernaanlegte meer as net ‘n gehoor wees. Die wêreld beleef reeds van die pyn in die vorm van hoër brandstofpryse al het Libië se olie weer begin vloei. Suid-Afrika sal nie sonder skade daarvan afkom nie.

Baie lande besit kernwapens, en dit word dikwels as feit gestel dat Israel ook sulke wapens het. Stratege beskou die waarde van die besit van kernwapens daarin om dit nié te gebruik nie. Die blote besit daarvan skep soveel afskrikking dat dit in werklikheid vrede bevorder, al is dit ‘n vrede wat vergelyk daarmee om met ‘n brandende vuurhoutjie op ‘n vat kruit te sit. Sou Israel argumentsonthalwe deur Egipte aangeval word en ondergang in die gesig gestaar word, kan Israel as laaste uitweg die Hoë Aswandam vernietig en daarmee die wêreld van ongeveer die helfte van sy Arabiese bevolking stroop. ‘n Vyandige Egiptiese regering sal dus twee keer dink.

Die grootste swakheid in die model is dat die besit van kernwapens as afskrikking vereis dat die besluitnemers geestelik baie stabiel moet wees. In die arena van kernmagte word terme gebruik soos die vermoë om eerste toe te slaan, om daardie aanval genoegsaam te kan oorleef om tweede te kan toeslaan, en om dan nog derde te kan toeslaan, veral met die lansering van kernwapens vanaf duikbote. Dit behels dat hierdie lande in hoofsaak mekaar se kernwapens teiken, eerder as om stede en ander bevolkingskonsentrasies te vernietig. Die sogenaamde MIRV, vuurpyle wat met die inkom in die atmosfeer veelvuldige kernbomme loslaat, verseker egter ook dat baie burgerlikes in die slag sal bly.

Die probleem is dat die Iranse leierskap, insluitend die Ajatollas en president Mahmoud Ahmadinejad, nie as rasioneel beskou word nie.  Ahmadinejad het in ‘n stadium kwalik ‘n geleentheid laat verbygaan om hom te verbind tot die uitwissing van Israel, en om die Joodse volksmoord aan die hand van die Nazi’s te ontken. Veral laasgenoemde opmerking word in Europa as ‘n seker teken beskou dat iemand se kop erg raas, soos wat die Kommandokorps onlangs na ‘n los opmerking op ‘n TV-program ervaar het. En Israel hét al in die verlede ‘n Iranse kernaanleg wat in aanbou was, met ‘n lugaanval vernietig.

Israel se belang by Iran as bedreiging is ook nie iets ver nie. Iran se Moslem-bevolking is oorwegend Sjiïete, en handhaaf daarom noue bande met die Sjiïetiese Hisbolla in Libanon. Sirië bied ‘n belangrike deurgangsroete vir wapens aan Hisbolla, wat moontlik is omdat pres. Bashar al-Assad tot die Alaawiete-sekte, ‘n sekte van die Sjiiete behoort. Iran en Hisbolla doen hul bes om Assad se minderheidsbewind in stand te hou.

Suid-Afrika ontvang sowat 25 % van sy ingevoerde ru-olie uit Iran. Van Suid-Afrika se raffinaderye is aangepas om juis hierdie olie te raffineer, en laat die land dus baie kwesbaar. Die beskikbaarheid van hierdie olie hang egter nie net van Israel se moontlike voorspringoperasies teen Iran af nie, maar ook van Iran se dreigemente om die straat van Hormoes te sluit, wat ook ander oliebronne buite bereik kan plaas.

Dié krisis slaan boonop toe juis wanneer die wêreld deur kollektiewe optrede die wêreld-ekonomiese krisis die hoof probeer bied.

Dié wêreld kan nie ‘n dodelik gevaarlike onstabiele Iran bekostig nie, maar dis ‘n posisie wat nie sommer oornag gaan verander nie. Voortgesette gekookte verkiesings sal hiervoor sorg. Op die oog af lyk dit of Iran se kernaanlegte wat skynbaar kernwapens gaan vervaardig, vernietig moet word. Wie dit gaan doen, en met watter sanksie van die wêreld, is die vraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.