Nuuskommentaar: Kan die land Zuma bekostig?

Die nuus is gister bekend gemaak dat die land se BBP-groeikoers in die eerste kwartaal ‘n teleurstellende 0,9% beloop het, aansienlik laer as die koers van 1,5% wat wyd verwag is. Terselfdertyd, maar nie onverwant nie, het die rand tot sy laagste vlak in vier jaar getuimel.

Die land se ekonomiese vertoning kan na twee hoofstrome herlei word – die ekonomiese, fiskale en monetêre kwessies waarvan baie oneweredig internasionaal versprei is, en politieke en bestuursfunksies in Suid-Afrika wat weens ‘n groot aantal uiters swak ministers en  die beleid van kaderontplooiing ook erg ineengestrengel geraak het.

Die vraag of die land pres. Jacob Zuma kan bekostig is nie nuut nie, en word dikwels ook deur saakmakende instansies in die buiteland gevra. Die nuwe lewe wat die vraag gister gekry het, is nie net oor die harde ekonomiese syfers gevra nie, maar ‘n wye reeks politieke persepsies wat met die Glynnis Breytenbach-saak weer oopgeboor is.

Breytenbach is as ‘n voorslag vervolger van die Nasionale Vervolgingsgesag beskryf, wat meer as ‘n jaar gelede geskors is toe sy besig was om te werk aan verskeie hoë profielsake wat regstreeks of onregstreeks na Zuma en sy seun Dumisane gevoer kan word. En die Guptas.

Die verbintenisse tussen die Zumas, wat ook ander Zumas insluit, en die Guptas het nou reeds so verweef geraak met hoe die land regeer word dat daar ook na die Zupta-aangeleentheid verwys word.

Enigeen wat sy oog op internasionale indekse hou sal verbaas wees as Suid-Afrika skielik goed sou presteer. Die land het onder meer op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks getuimel en die laaste twee jaar met 14 plekke teruggesak. Die land daal ook vinnig op die persvryheidsindeks, wat dikwels met persepsies van korrupsie verband ou. Korrupsie word deur die wêreldbank beskou as ‘n strooptog op die land se toekoms. Voorts boer Suid-Afrika ook op die indeks vir mislukte state agteruit.

Presies wat het die Nasionale Vervolgingsgesag gedink gaan gebeur toe, moontlik in opdrag van die regering waar iemand se tone raakgetrap is, aangekondig is dat die Breytenbach-uitspraak vir hersiening na ‘n hof geneem gaan word? Dié besluit self is nie so skadelik nie, maar die mond-uitspoelery oor die dissiplinêre komitee was ongaaf en het ‘n boodskap uitgestuur dat onafhanklike regspraak nie goed afgaan nie.

Bedenkinge oor of die regering enige erns het om die nasionale ontwikkelingsplan te implementeer groei by die dag. Die ANC word immers hierin sterk uit eie geledere gerysmier. Veral Numsa, wat met die NUM oorhoeks is oor die posisie van Zwelinzima Vavi, skaar hom openlik by die groep wat die plan teenstaan. Intussen druk minister Rob Davis hardnekkig voort met die deurvoer van die sogenaamde smouswet, wat nie alleen die reeds oorgereguleerde ekonomiese sektor verder gaan kniehalter nie, maar boonop die lisensiëringsfunksie en ander ingrypende magte aan die sektor wat die swakste presteer, munisipaliteite, toeken. Dit skep nie net nog ‘n teelaarde vir korrupsie en wanbestuur nie, dit burokratiseer ‘n spartelende ekonomie.

Dit is geen geheim nie dat die ANC, na amper 20 jaar se regering, met groeiende proteste oor swak dienslewering te kampe het, en daarom sy kiesers se steun deur ander kwessies opvorder. In tipiese Mugabe-styl na dit moeilik begin raak het om die blaam vir alles wat verkeerd is steeds op die vorige bedeling te pak, word die grondkwessie ook hier gedryf, hoewel op die oomblik nog op ‘n meer verantwoordelike skaal as oorkant die Limpopo. Tog, die ongebreidelde steun vir Mugabe dra tot ‘n onrustigheid hier by.

Vrydag bied die Ad hoc-komitee vir die beskerming van eiendomsreg ‘n konferensie aan met die titel: Grondbesit in Suid-Afrika (Die Groot leuen.)

Duideliker as die tema kan die organiseerders dit nie maak dat hulle meen die regering gaan onsagkens met die waarheid om in sy opvordering van populisme nie. En dit is gif vir die ekonomie.

In die Gazastrook lanseer Hamas dikwels hul mortiere en vuurpyle van skoolterreine en selfs die dakke van hospitale af. Wanneer die Israeli’s  terugslaan, word Israel daarvan beskuldig dat dit burgerlike teikens aanval.

Die ANC verskil nie veel hiervan nie. Wanneer die ANC se flaters uitgewys word, word die kritici as dislojaal teenoor die land sleggesê, soos onlangs ook met AfriForum gebeur het.

Sonder dat Nkandlagate, die wapenskandaal en ander aspekte eens hier onder die vergrootglas geplaas is, kan die vraag weer gevra word: Kan die land Zuma bekostig?

Baie van die ekonomiese probleme is buite die beheer van Suid-Afrika. As die VSA nies, kry die wêreld verkoue, en ‘n peiling het pas aangetoon dat net 60% van die Amerikaners meen hul huise is meer werd as dit wat hulle daarop skuld. Positiewe tekens is daar ook, soos dat beleggingsvertroue in die VSA die hoogste sedert 2007 is. Maar geen land kan net op die internasionale ekonomie staatmaak om vanself reg te ruk nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Pieter Tegmann ·

Die land kan nie meer Zuma of die ANC bekostig nie hulle vat ons vinniger na n Zimbabwe toe as wat Mugabe dit kon regkry.

piet ·

IETS RASTIES SAL BY DIE STEMBUS MOET GEBEUR, WANT DIE GESPUIS EN DIE WAT VIR HULLE STEM HET DIE LAND IN DIE AFGROND IN VERNIETIG. STAAN SAAM, BID SAAM OM VAN DIE SATANS ONTSLAE TE RAAK. EENDRAG MAAK MAG

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.