Nuuskommentaar: Kinderseks

‘n Vrou van enige ouderdom kan, indien sy minderjarig is, sonder om eens haar ouers in kennis te stel, ‘n aborsie ondergaan. Volgens die wet wat kinderseks hanteer, kan sy, indien sy tussen 12 en 16 is, krimineel vervolg word vir handjies vashou met ‘n ander minderjarige, selfs al het die kafoefel net ‘n gesoenery en geen penetrasie opgelewer nie. Ouers en voogde kan ook vervolg word as hulle dit nie by die polisie aanmeld nie.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het die bepalings van die wet oor kinderseks ongrondwetlik verklaar.

Die reg, per definisie, behoort nie absurd te kan wees nie. Maar dit is dikwels, veral waar die reg aangepas moet word wanneer ‘n land van een waardestelsel na ‘n ander beweeg, en die wetgewing aangepas moet word om daarby aan te pas. Dit is ‘n proses wat nie oornag kan plaasvind nie. Suid-Afrika het wat dit betref, breedweg beweeg van ‘n regsideologie van Christelik-Nasionaal waar dobbel, pornografie, aborsies op blote aanvraag verbied is, na ‘n liberale wat sterk tekens van permissiwiteit (alles toelaatbaar) toon.

Die aansoekers teen die bepalings oor die kriminalisering van instemmende onderlinge kinderseks het veral beswaar gehad oor die wet, soos dit nou staan, die kinders se reg op privaatheid en die reg op waardigheid sou skend. Beide aspekte word in die Handves van Menseregte, en dus die grondwet, beskerm.

Dit is moeilik om dit anders te stel as dat die reg op privaatheid in die uitleg van liberale grondwette misbruik word. In besprekings daarvan word die ma se reg op privaatheid – haar liggaam – bo haar ongebore baba se reg op lewe geplaas wat die ma se reg op privaatheid geskend het bloot deur daar te wees. Ander aspekte van privaatheid word kwalik bespreek.

Die ironie is dat die reg op waardigheid in die vertolking van liberale grondwette op die oog af ondergeskik gestel word aan uitdrukkingsvryheid. Dit het byvoorbeeld ‘n polemiek afgegee toe ‘n kwaadwillige begin het om skoolmeisies in die kuberruim op ‘n sletlys te plaas, en die diensverskaffer die kwaadwillige teen vervolging wou beskerm weens sy reg op privaatheid. Die kuberruim is gesaai van soortgelyke voorbeelde waar kubergoggas ‘n skrikbewind voer terwyl hulle lafhartig agter skuilname skuil. Ook die bekende skildery-voorval in Suid-Afrika het die reg op waardigheid teenoor die reg op uitdrukking gestel.

Die interessantheid is dat die handves van Menseregte in artikel 28 ook kinderregte hanteer, maar die inhoud hiervan kan kwalik op die situasie wat voor die hof gedien het, van toepassing gemaak word. Die fokus in die Handves is eerder op ander – die ouers of voogde – se verantwoordelikhede om hul kinders te beskerm en te versorg. Die kind se eie keuse word ook ontneem in ‘n geval waar hy byvoorbeeld sou kies om werk te doen wat onbehoorlik vir sy ouderdom is.

Subartikel 2 bepaal egter duidelik dat die kind se beste belang moet geld in alle gevalle waar die kind geraak word.

Die uitspraak moet nou eers deur die Grondwetlike Hof bekragtig word alvorens dit deel van die presedentereg word.

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte meen die skrywers van die wet het ‘n wye verskeidenheid aspekte nie behoorlik deurdink nie. Ook prof. Pierre de Vos wys op vreemde taboes in die wet, soos selfs handjies hou, en wat die “skuldiges” aan die kriminele vervolgingstelsel kan uitlewer.

Aan die ander kant plaas die Handves van Menseregte groot verantwoordelikhede op ouers en voogde om in die beste belang van hul kinders op te tree. Volgens die handves is enige persoon onder agtien vir die doeleindes van kinderregte ‘n kind, en word sy besluitnemingsbevoegdhede grondwetlik aan bande gelê, juis om ouers in staat te stel om in die beste belang van hul kinders op te tree.

Aan die ander kant is nie alle ouers of voogde rolmodelle nie, en is daar wetlike ingryping nodig om kinders soms teen hulle te beskerm.

Dit is geen geheim nie dat die land ‘n moraliteitskrisis beleef, en dat daar dringend iets daaraan gedoen moet word. Pas het die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal ‘n ernstige knou weg, om maar een voorbeeld te noem. Uit kerklike en verwante kringe is die vrees dat die wyse waarop die gevolge van immoraliteit aangespreek word, juis die probleem voed. ‘n Tipiese voorbeeld van wat – die hoender of die eier – eerste was is die kwessie van jeugdige aborsies. Waar word die bus gestop? Deur sulke aborsies te verbied, of eers die vlakke van moraliteit te verhoog?

In die Christen-demokrasie word ‘n hoë premie geplaas op gesinswaardes, en die ouers se rol in die opvoeding van hul kinders. Dit is te verstane dat daar uit hierdie kringe besware sal wees as dié ouers aan die een kant grondwetlik met ‘n wavrag verantwoordelikhede opgesaal word om in hul kind se beste belang op te tree, maar gestroop word van die reg en die middele om dit te doen.

Ongeag die bevindings van die grondwethof, is dit dringend noodsaaklik dat weer na die wet, en verskeie ander wette, gekyk word – in belang van die kinders en die land se toekoms. ‘n Nuwe of gewysigde wet moet dit duidelik maak dat die wet nié immoraliteit aanmoedig nie, maar op ‘n gebalanseerde wyse die beste belang van die kind nastreef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

vasti ·

As ons mense maar net sal verstaan wat Goddelike grense is…. Dat ouers veronderstel is om hul kinders binne veilige grense groot te maak, en voor te berei op die lewe…. Ook weer sodat elke generasie die positiewe kringloop kan voltooi… Geen egskeiding.. Pak slae op ‘n goeie tyd. Minimum TV.. Maksimum buitelug en oefening… Gesonde familiebande. Gesonde vriendskapsbande, en ‘n gemeenskap wat in liefde omsien na die weduwees en wese… Grense is daar om die goeie goed binne te hou, en die slegte goed buite te hou… Geen grense of verkeerde grense in alle fasette van die lewe druis in teen God se wil, en verwoes lewens generasies ver…. Komaan Suid-Afrika… Is ons dan nie die erfgename van Abraham nie? Ruk jou reg

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.