Nuuskommentaar: Kleinfontein, groot bohaai

‘n Groot storm het rondom die nedersetting Kleinfontein buite Pretoria losgebars na die burgemeester van Tshwane aangekondig het hy wil die gebied besoek, en The Times daaroor berig het.

Skielik is die regering geskok “omdat daar burgers is wat nie in ‘n demokratiese Suid-Afrika wil integreer nie.”

Die DA-jeug wil ‘n protesgeleenheid teen die “rassisme”  hou, al lees die betrokke deel van The Times se berig soos volg: “We do not think in terms of race, we think in terms of culture…”

Ja, daar is Afrikanergroeperings wat ras as een van die dominante faktore stel om selfbeskikkingsregte of belange op te eis. Op die oomblik loop die Bruin Belangeforum van Peter Marais deur hieroor, maar die kritici neig om mis te kyk dat die ANC se beleid van diskriminasie teenoor nie-swart, danksy sy beleid van neo-apartheid, baie daarmee te make het.

Die kritici neig ook om taamlik stil te wees oor die bestaan van instansies soos die Black Lawyers Association, die Black Management Forum, die Black Journalist Association en vele meer.

Dié storm het ironies losgebars in dieselfde week as wat Wêrelddag vir kulturele diversiteit en dialoog en ontwikkeling gevier is. Boonop is dit hierdie week ook die “Trots om inheems te wees”-week.

Oor presies wat die Suid-Afrikaanse grondwet oor die reg op kulturele diversiteit te sê het, word al lank en hard kopgestamp. ‘n Standpunt dat die grondwet, baie eenvoudig gestel, as liberaal-dominant onsimpatiek staan teenoor regte wat met diversiteit verband hou word wyd aanvaar, maar dié standpunt doen nie weg met die selfbeskikkingsreg wat onder meer in artikel 235 van die grondwet geskryf staan nie.

Maar wat sê die grondwet werklik oor kulturele diversiteit? Die FW de Klerkstigting, wat immers op geen manier as “regs” beskou kan word nie, het ‘n wydlopende verklaring ter viering van die Wêrelddag vir kulturele Diversiteit uitgereik en die grondwet ten slotte as ‘n “kultureel-progressiewe grondwet” beskryf. (* ‘n Artikel oor dié verklaring volg onderaan die berig)

Die internasionale reg beskou menseregte as ‘n regte met twee dele – individuele regte, en minderheidsregte. Die onlosmaaklikheid hiervan is byvoorbeeld goed gedemonstreer deur die loopbaan van wyle Max van der Stoel, in Suid-Afrika veral bekend as Nederlandse minister op die voorpunt in die stryd teen apartheid, maar wat sy latere lewe aan minderheidsregte gewy het. Dat die volkeregtelike minderheidsregte nie altyd in onafhanklik state manifesteer nie, enersyds weens die komplekse bepalings van die volkereg maar ook weens baie state se weerstand hieroor blyk daaruit dat daar maar met moeite op kaarte gesoek sal word na entiteite soos Somaliland (wat nie met Somalië verwar moet word nie) en wat pas y 22ste jaar van eensydige onafhanklikheid gevier het, en al verskeie verkiesings gehou het, Puntland, Balochistan, Nagalim, Suid-Azerbadjan, Tibet,  Kerscassia, Koerdistan, Khmer Krom, Sürgünlik en vele meer.

Hoewel dit duidelik is dat die Afrikaner en ander minderhede volgens die grondwet en die internasionale reg, mits ras nie as norm ingespan word nie, op minderheidsregte geregtig is, is die struikelblokke daarvan eerder ‘n politieke as regskwessie. In ‘n onderhoud met  Beeld  het Gwede Mantashe in antwoord op ‘n vraag oor minderheidsregte vir die Afrikaner dit dadelik as buite die kwessie gestel, en dit met wit (dus weer die rasding) bevoorregting gelyk gestel.

So is by geleentheid in die nuwe Suid-Afrika besluit ‘n besoek van Nieu-Seeland se Maorispan is onwelkom. ‘n Krieketwedstryd tussen die land se beste Afrikaanssprekende en Engelssprekende spelers wat niks met ras te make het nie, is in opdrag van “bo” afgelas.

‘n Verkiesing is onderweg, en daar is duidelike tekens dat die ANC by gebrek aan iete konkreets daarvan ‘n rassesensus wil maak, soos die gereelde blaam wat op apartheid geplaas word vir dinge wat nou verkeerd loop – tot Limpopo se skoolboekkrisis. Vanselfsprekend sal ander partye wat om dieselfde kiesers meeding hierop reageer, maar dit beteken nie dat lukraak wanvoorstellings oor die grondwet en ander se regte gemaak kan word nie.

Dr. Tjaart van der Walt, eertydse president van die RGN, se stelling in die aanloop tot die nuwe bedeling dat geen grondwet, nie eens die beste ter wêreld, sal kan werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie, bly steeds uiters relevant.

Orania het getoon hoe ‘n benadering van welwillendheid baie respek en selfs vriende kan wen, selfs al stel betreklik min Afrikaners belang daarin om daar te gaan woon. Vir baie Afrikaners het dit ‘n hoofstad in die hart geword, veral in die konteks van, in die woorde van Kovsies se kanselier, dr Khotso Mokhele, “die algemene agteruitgang om ons.”

Die Kleinfontein-debakel toon duidelik dat die land erg gepolariseer is en dat stereotipes diep gesetel voortleef.

Wedersydse respek sal nou goed wees om hierdie hekkie oor te steek. Klein begin is groot gewin.

* Die “kultureel-progressiewe grondwet”

“Die Suid-Afrikaanse Grondwet neem ten volle kennis van die uiteenlopende aard van ons samelewing en verklaar dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – verenig in ons diversiteit. Sterk grondwetlike beskerming word deur die Handves van Regte verleen aan alle Suid-Afrikaners se taalregte, kultuurregte en die reg om aan kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe te behoort.”

So sê adv. Jacques du Preez van die FW de Klerkstigting in reaksie op die Wêrelddag vir kulturele diversiteit en dialoog en ontwikkeling, wat gister wêreldwyd gevier is.

Die term “kulturele diversiteit” word gebruik om die verskeidenheid menslike samelewings of verskillende kulture in ‘n spesifieke streek, of die wêreld as ‘n geheel, te beskryf. Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het in 2002 erkenning verleen aan dié dag om wêreldwye bewustheid te skep oor die belangrikheid van interkulturele dialoog, diversiteit en insluiting.

‘n Belangrike tema van hierdie dag is ons begrip van die waarde van kulturele diversiteit en om op grond van hierdie begrip te leer om beter saam te leef.

Die skuld vir die ondoeltreffendheid van veral die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en PANSAT kan nie net op dié twee instellings geplaas word nie.

Groter druk moet toegepas word op die Regering en die Parlement omdat beide die Kommissie en PANSAT aan die Nasionale Vergadering verantwoordelik moet wees. Kan die versuim om enige daadwerklike stappe te doen om hul doeltreffendheid te verbeter dui op ’n gebrek aan ernstige politieke toewyding om respek vir kulturele en taaldiversiteit te bevorder, asook die handhawing van goeie verhoudinge tussen ons verskillende gemeenskappe?

Daar is dikwels wrywing wanneer verskillende kulture saamwoon in dieselfde geografiese gebied. As Suid-Afrikaners moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake in die openbaar te maak dat een van ons bevolkingsgroepe se kultuur, tradisies of erfenis van meer waarde is as die ander. Ons Grondwet verbied dit. As ‘n nasie moet ons nie in die openbaar menings deel dat sommige kulture en mense in Suid-Afrika minder as ander werd is nie. Die uitwerking van sulke uitlatings doen afbreek aan die sosio-kulturele samespel van ons land en die beginsel van gelykheid waarop dit gegrond is.

Daar is verskeie maniere om verskillende kulture op ons eie te verken. Besoek ‘n kunsuitstalling of ‘n museum wat aan kulture toegewy is. Nooi familie of mense van ‘n ander kultuur of geloof wat in jou buurt woon om ‘n maaltyd saam jou te geniet en ruil jul menings uit oor die lewe. Neem ’n rolprent uit of lees ‘n boek wat oor ‘n ander land of geloof handel. Nooi mense uit ‘n ander kultuur om aan jou gebruike deel te neem. Lees meer oor die groot denkers van ander kulture. Versprei jou eie kultuur oor die wêreld en leer oor ander kulture deur die gebruik van sosiale en elektroniese media.

Bou jou kennis op oor die Grondwet en ander bronne wat tot jou beskikking is en eis jou grondwetlike regte op ten opsigte van taal, kultuur en erfenis.

Indien daar ‘n wedersydse respek getoon kan word vir verskillende kulture, kan ‘n gesonde respek vir kulturele diversiteit en menslike kreatiwiteit bevorder en geïmplementeer word – in ooreenstemming met ons kultureel progressiewe Grondwet.

Kulturele diversiteit en die belangrikheid daarvan in ‘n aantal internasionale regsinstrumente erken:

  • Die Universele Verklaring Betreffende Kulturele Diversiteit, aanvaar deur UNESCO in 2001, is ‘n kragtige regsinstrument wat nie net kulturele verskeidenheid as ‘n “gemeenskaplike erfenis van die mensdom” erken nie, maar wat ook dié beskerming as ‘n uiters etiese imperatief beskou,wat onlosmaaklik gekoppel is aan die respek vir menswaardigheid;
  • Die UNESCO Konvensie vir die Beskerming en Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele van 2005 erken die besonderse natuur van kulturele goedere, dienste en aktiwiteite as voertuie van identiteit, waardes en betekenis en ook dat, terwyl die kulturele goedere, dienste en aktiwiteite belangrike ekonomiese waarde het, en dit nie net kommoditeite of verbruikersgoedere is wat as handelsvoorwerpe beskou moet word nie; en
  • Kulturele diversiteit word ook bevorder deur die Verklaring van Montreal van 2007.

Deur middel van hierdie en ander bepalings maak ons Grondwet voorsiening vir die nodige raamwerk van respek vir verskillende kulturele belange in Suid-Afrika, asook vir hul beskerming en bevordering. Dit bemagtig ons as Suid-Afrikaners om ‘n gemeenskap van individue te bou wat toegewyd is aan diversiteit en die stryd teen kulturele polarisasie en negatiewe kulturele stereotipes.

Kan ons egter as Suid-Afrikaners – op hierdie dag – werklik sê dat ons ‘n wedersydse respek en begrip eerbiedig en koester vir mekaar se verskille en verskillende kulture?

  • Hoekom het dit so lank geneem om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en sy regulasies in werking te stel sodat behoorlike uitvoering gegee kan word aan die bepalings van artikel 6 betreffende amptelike taalgebruik deur die Regering?
  • Waarom voldoen die Wet nog steeds nie aan van die taalvereistes in artikel 6 van die Grondwet nie?
  • Waarom is daar nog so baie skadelike en aanstootlike diskoers op grond van ras – nie net op moderne sosiale media platforms nie – maar ook in die openbare en op politieke gebied in Suid-Afrika?
  • Waarom is daar nog so min waardering en respek onder Suid-Afrikaners vir die rykdom van die kulturele, taalkundige en historiese erfenis van ander gemeenskappe?
  • Hoekom het die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe so min gedoen om sy grondwetlike mandaat – om respek vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te bevorder – uit te voer?
  • Hoekom het die Pan Suid-AfrikaanseTaalraad (PANSAT) sy grondwetlike plig versuim om toestande vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale te bevorder en te ontwikkel, en respek te bevorder vir ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word?
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Stefan Schrader ·

Dit sal baie intressant wees om te sien wat die misdaadstatestieke vir plekke soos Kleinfontein en Orania is. Noem my “rassisties”, maar ek sal my geld daarop sit dat dit aansienlik laer is as die van ooreenkomstige nedersettings wat deur ander kulture gedomineer word. Ek sien daarna uit om verkeerd bewys te word.

Die regering en DA kan seker teen Kleinfontein gekant wees, as hulle sulke kulturele afsondering afkeur. Maar hoe hoog op die prioriteitslys behoort dit te wees? Die inwoners van Kleinfontein doen nie skade aan enigiemand nie. Ek is onbewus van ‘n probleem met geweld, diefstal, verkragting, onwettige dwelmmiddels. Daar vind geen destruktiewe en ontwrigtinde betogings plaas nie.

Moet die regering en die DA nie eers aan die dinge aandag skenk wat daagliks, aktief die land en ander burgers skade berokken, voordat hulle hul beperkte bronne wend na iets wat hoogstens as ‘n irritasie of onwenslik bestempel kan word nie?

Danie Kriel ·

Mnr Du Preez

U herinner ons tereg daaraan dat ons ons grondwetlike regte moet opeis te opsigte van taal , kultuur en erfenis maar wanneer ons dit doen, sonder om enigeen aanstoot te gee, soos in Kleinfontein en Orania, word ons van rassisme beskuldig. Daar is legio ander voorbeelde van pogings van die Afrikaner se kant om dit wat deur harde werk en groot kostes en opofferings verdien is en wat ons regtens as ons eie beskou, maar wat deur die ANC-regering en sy meelopers nie erken word nie. Dink maar net hoe die geskiedenis opsetlik verdraai en verwring word en skoolkinders gebreinspoel word om ons te haat. Kyk en hoor wat berig die media oor die wreedhede wat met plaasmoorde gepaardgaan, steeds voortspruitend uit daardie opruiende lied van MENEER Malema, Skiet die Boer. Dan stap die moordenaars daar weg met ‘n selfoon en die politiek korrekte media maak dit af as ‘n eenvoudige inbraak, want die edele barbaar was honger. Onthou u die stryd wat ons moes voer om die haatlied stop te sit? Dink aan die stryd wat ons oor jare al voer om die straatname in Pretoria (ons ERFENIS) te behou. Al hierdie vergrype deur ‘n régime wat hom in alle opsigte getoon het as ‘n verbete vyand van die blanke in SA, en veral die behoudende Afrikaner.

Ag nouja, dit help tog nie om ‘n misleide liberalis tot ander insgte te bring nie.Dit blyk duidelik uit die vrae
wat u stel,wat aan die verkeerde adres gerig is..

A Fourie ·

Hoekom kan rasse diskriminasie NET TEENOOR swartes gepleeg word, maar nie teenoor wittes, bruin mense, chinese, japanese of Indiers nie of enige ander volk nie?

Joey Odendaal ·

Ek het net een vraag: Hoekom sien die DA en die ANC regering Kleinfontein en Orania as ‘n bedreiging?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.