Nuuskommentaar: Kollektiewe kaperjolle – Marikana tot Dagbreekkoshuis

Dagbreek-huiskomiteelede (v.l.n.r.) Pieter le Roux, Jacobus Toua, Patrick Zangwa & Sybrand Engelbrecht Foto: David Harrison, M&G

Twee nuusgebeure het pas groot nuusdekking, maar veral leserskommentaar ontlok. Die jongste sage van die Marikana-skietery is die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om die 270 mynwerkers wat aangekeer is, volgens die doktrine van gemeenskaplike oogmerke van moord aan te kla, en in die ander geval het ‘n groepie inwoners van Maties se Dagbreek “namens” al die inwoners en oud-inwoners verantwoordelikheid aanvaar, en verskoning gevra vir ‘n insident wat in 1939 plaasgevind het.

Intussen het die NVG skynbaar onder ontsettende druk geswig en die moordaanklagte voorlopig laat vaar.

Beide het dít in gemeen dat dit oor ‘n kollektiewe aanspreeklikheid handel, dat apartheid by beide betrek word, en derdens, ongelukkig, dat die waarheid omtrent die eerste slagoffers was.

Die bedoeling in hierdie kommentaar is nie om oor die suiwerheid en meriete van die doktrine van gemeenskaplike aanspreeklikheid stuiwertjies in die armbeurs te gooi nie, maar om te wys hoe dit politieke implikasies vir die land inhou. Van die wêreld se voorste regsbreine is immers met mekaar oor die regsbeginsels oorhoeks.

Wat Marikana betref, het ‘n joernalis wat nie die naam van ‘n joernalis se agterent werd is nie, ‘n ongelooflike kluitjie gebak deur te skryf dat die doktrine van gemeenskaplike oogmerk ‘n “skepping van die apartheidsregime” was. Dié wolhaarstorie is wêreldwyd versprei en het selfs net so in dele van die Europese media verskyn – waar die media baie meer aandag aan die Balkanverhore geskenk het waar die beginsel gereeld toegepas is, en groot debat ontlok het. In Suid-Afrika het selfs akademici, darem buite die regsfeer, dié twakstorie ook heelhuids ingesluk en vir dieselfde prys gaan verkwansel.

Dié beginsel, trouens verskeie beginsels wat in Engels onderskei word deur onder andere  “common purpose” en “common design” is reeds baie oud en vorm deel van die internasionale reg en die gemenereg. Die Internasionale Appèltribunaal van die strukture wat misdade teen die mensdom in die Balkan ondersoek het, het dit soos volg beskryf: “… the Appeals Chamber arrived at the conclusion that ‘international criminal responsibility embraces actions perpetrated by a collectively of persons in furtherance of a common criminal design’.”

Die probleem is nie die herkoms nie. Die probleem is dat dit juridies omstrede is, en nie maklik toegepas kan word nie.

Die voorbeeld wat graag uit die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis aangehaal word is die geval van die Upington 14. ‘n Groep mense is aangekla van die moord op ‘n polisieman in 1985, waarvan 14 volgens die beginsel van “gemeenskaplike doel” skuldig bevind en ter dood veroordeel is. Die appèlhof het die doodsvonnisse later tersyde gestel, en gelas dat elf dadelik vrygelaat word. Almal het later amnestie verkry.

Een van die aanvanklike terdoodveroordeeldes, Justice Bekebeke, het later Noord-Kaapse hoof van die OVK geword, en is later as die Noord-Kaapse direkteur-generaal aangestel.

Wat die Dagbreek-verskoning betref, word die 1939-insident kwistig voor die deur van die “apartheidsregime” en selfs dr. Hendrik Verwoerd gelê, wat eers in 1948 aan bewind gekom het, met Verwoerd wat eers in 1958 eerste minister geword het.

Dit verander nie aan die feit dat die 1939-gebeure erg was nie. Wennie du Plessis, wat onder meer administrateur van Suidwes was, het in sy boek, Die Goue Draad, die aanloop tot die insident en provokasie daarvoor beskryf. Provokasie of te nie, skryf hy dat die gevolge tragies was en dat hy skaam daaroor is.

Een van die vele hindernisse in die weg van kollektiewe aanspreeklikheid, is die Geneefse Konvensie se verbod op kollektiewe straf. Die bedoeling hiervan is juis om te keer dat onskuldiges nie aanspreeklik gehou en gestraf word vir iets wat iemand in hul groep gedoen het nie. Die feit dat iemand heel waarskynlik aandadig was, beteken niks as dit nie bewys kan word nie, en ‘n voorbeeld hiervan was toe een van die beskuldigdes wat in verband met die moord op Eugene Terre’Blanche aangekla is, nié aan die moord skuldig bevind is nie.

Kollektiewe straf word om baie goeie redes deur die internasionale reg verbied. Een van die grootste besware internasionaal teen die toepassing van raskwotas by regstellende aksie is dat dit onskuldiges ook straf, wat self geen rassebevoordeling beleef het nie en selfs onder haglike sosio-ekonomiese toestande grootgeword het. Hierteenoor kan kinders van miljoenêrs weer die voordele van die stelsel kry, bloot omdat hulle die regte velkleur het.

Die gedagte aan kollektiewe aanspreeklikheid en straf skreeu teen die mees basiese beginsels van natuurlike geregtigheid, en word as barbaars ervaar.

Reg of verkeerd, die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om al die aangekeerde mynwerkers van moord aan te kla en die doktrine van gedeelde aanspreeklikheid toe te pas, het Suid-Afrika se internasionale beeld enorme skade berokken. Elke burger in die land gaan kollektief die gevolge dra van beleggers se reaksie. Dié besluit het bykans oornag 40 000 Google-trefslae oor die ganse wêreld ontlok. Byna al die berigte, soos met die skietery self (wat “maar” ongeveer 34 000 trefslae opgelewer het wat dit met Sharpeville in verband bring), tref vergelykings met die vorige bedeling.

Die ganse hantering van die Marikana-debakel deur die regering laat dit al hoe meer lyk of dit erg deur die magstryd binne die ANC beïnvloed word.

AMCU se ontstaan blyk tot ‘n groot mate die gevolg van ‘n persoonlike vendetta deur Gwede Mantashe te wees teen die stigter  van AMCU toe dié nog in die NUM was. Die NUM was nog altyd die ruggraat van Cosatu, en Mantashe is ‘n getroue bondgenoot van Zuma.

Popcru is, soos die NUM ‘n filiaal van Cosatu …

Pres. Jacob Zuma, wat sedert hy president geword het al talle kere erg deurgeloop is oor sy uitsprake wat op aanvalle op die onafhanklikheid van die regbank en die nasionale vervolgingsgesag neerkom, asook aanstellings van politieke lakeie in sowel die polisie en vervolgingsgesag, is nou volgens sy woordvoerder vasbeslote om nie in die regsprosesse in te meng nie …

Die klimaat was nog nooit so gunstig soos nou om die wêreld te oortuig dat Zuma en sy kornuite nié die goeie ouens is nie. Zuma en sy lojaliste het immers die meeste van die aanvoorwerk van die skade aan hul (en kollektief die land) se beeld self gedoen.

Dit bied ‘n oop deur om die wêreld daarop  te wys dat die regering stroomop in die wêreld is oor kwessies soos minderheidsregte en veeltaligheid. Dit bied die geleentheid om die wêreld attent te maak op die omvang van plaasmoorde, soos wat AfriForum nou meer intensief wil doen.

Tog is dit ook die tyd waarop dit belangrik is dat elkeen wat as ambassadeur vir die goeie sake optree, dit fatsoenlik doen. Daar is reeds gesien hoe enkele woorde wat beskryf is as twee minute van waansin, wat teenoor die oorsese media geuiter is, ‘n omvattende veldtog deur ander ernstige skade kan berokken.

Baie van die internetkommentare by die Dagbreek-berigte strek veel verder as waarskynlik geregverdigde kritiek op die studente wat nou namens ander op die verskoning-wa spring, en is doodgewoon barbaars en skadelik vir die beeld van almal wat Afrikaans praat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae