Nuuskommentaar: Kom veilig by die huis

karOor sowat drie weke kyk die verkeersowerhede weer na die syfers van hierdie Kerstyd se padslagting omdat sommige slagoffers van padongelukke eers na die afsnydatum van 10 Januarie van hul beserings omkom. Daar kan dus nog nie veel afleidings gemaak oor die skynbare jongste geringe afname in padsterftes van 1 475 mense in 1 230 noodlottige ongelukke nie.

Ongelukkig dui die syfers daarop dat die term ongeluk effens onvanpas in baie gevalle was. Altesaam 70 % van hierdie ongelukke was reg van voor, wat daarop dui dat minstens sommige nie die gevolg van ongelukkige omstandighede was nie, maar roekeloosheid.

Vanjaar is gekenmerk deur ‘n baie streng wetstoepassingsveldtog, wat goed deur ‘n mediaveldtog ondersteun is, maar daar was steeds ‘n toename in die totale aantal ongelukke. Boonop is die afsnydatum van 10 Januarie minstens gedeeltelik onvanpas aangesien die binnelandse skole eers op 18 Januarie, dus ‘n week later, open. Minstens ‘n deel van die vakansieverkeer sou buite die afsnytyd op die land se paaie wees. Statisties sou die insluiting van die laaste week egter nie ‘n besondere invloed hê nie, omdat Suid-Afrika se padsterftes tradisioneel in Desember ‘n hoogtepunt, en in Januarie wanneer min of meer dieselfde mense huiswaarts keer, ‘n laagtepunt bereik.

Onder die planne wat oorweeg word is om bestuurders te belet om binne drie jaar na hulle hul rybewyse bekom het, enige alkohol toe te laat wanneer hulle agter die stuurwiel inklim. Die maksimum spoedperk mag dalk ook na 100 kilometer per uur verlaag word.

‘n Land kan egter die strengste wette hê; as dit nie toegepas word nie sal dit steeds nie die padslagting verminder nie. Dit is ook gebiedend noodsaaklik dat die leiers ‘n voorbeeld stel – nie net ten opsigte van die berugte roekelose hoëspoed blouligbrigades wat ander padverbruikers terroriseer nie, maar oor die ganse spektrum. Hoewel verskil word oor die impak van Rudy Giuliani se zero-verdraagsaamheid-veldtog na hy in 1993 burgemeester van New York geword het, in die afname in dié stad se misdaadkoers, is belangrike beginsels tog neergelê. Dit omvat die gedagte van kruipende misdaad – as die wegsmyt van sigaretstompies deur motorvensters straffeloos bly, word die saadjies van kruipende aanvaarding en toleransie van ernstiger misdaad gesaai. ‘n Volgende rek die grens van sogenaamde aanvaarbare misdaad ‘n trappie verder, tot misdaad oor die ganse spektrum hande uitruk. Die gedagte is om hierdie proses te stuit deur selfs die geringste oortreding as ‘n ernstige oortreding te behandel.

Die toepassing moet egter sigbaar genoeg wees dat die boodskap deeglik tot die hele bevolking deurdring.

‘n Tweede noodsaaklikheid is dat die leiers die voorbeeld moet stel. Die begrip dat leiers die verkeerde voorbeeld stel en tot algemene ongehoorsaamheid teenoor die owerheid lei, staan as anomie bekend. Die sosioloë omskryf anomie as ’n toestand van wetteloosheid voortspruitend uit ’n gebrek aan maatskaplike norme. Dit tree in weens die verbrokkeling van die maatskaplike bande tussen mense. Dit beskryf ook ’n gevoel van vervreemding voortspruitend uit die gevoel van doelloosheid. Dit dui op ’n gebrek aan etiek of etiese kodes.

Uit syfers wat die Mediese Navorsingsraad uit nadoodse ondersoeke bekom, was 61% van die voetgangers wat in ongelukke gesterf het, onder die invloed van tiermelk, en 59% van die bestuurders.

Hoewel nie noodwendig dieselfde norme gebruik is nie, lyk dit of padsterftes in Suid-Afrika per 100 000 van die bevolking aan die toeneem is. In 2001 het Statistiek Suid-Afrika bereken dat die padsterftesyfer 9,9 per 100 000 van die bevolking was. In 2006 was dit 11,8, en volgens die jongste internasionale syfers wat vir Suid-Afrika gebruik is, was dit onlangs 20,2. Dit maak Suid-Afrika se paaie die 72ste gevaarlikste ter wêreld. Australië se koers is 6,8, dié van Nederland slegs 4 en Japan 3,8.

Strenger wetstoepassing en meer beperkende wette sal in beginsel help, maar solank die owerhede nie oor die hele morele spektrum die voorbeeld stel nie, sal al die pogings om te keer dat nog meer mense die huis in die koerante haal vergelyk kan word met pogings om die see met ‘n paraffienpompie leeg te pomp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.