Nuuskommentaar: Kommunikasie oor Mandela

Skermskoot van pres. Jacob Zuma en Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, op een van ZANews se satiriese video’s (http://www.zanews.co.za/zanews/dailynews/2013/01/24/zuma-gets-lost-in-macs-translation)

Die een koerant na die ander het nou reeds hul huldeblyke aan oud-pres. Nelson Mandela begin publiseer, weliswaar met enkele aanpassings (soos om voorsiening te maak daarvoor dat hy nog leef).

Dié huldeblyke het in die “laai” begin stof opgaar. Met die publikasie het dit egter duidelik geword wat koerante en rubriekskrywers meen Mandela se nalatenskap moet wees. En die gevoel is dat dit die nalatenskap vir almal moet wees. Hierdie boodskap, in sy suiwerste kristalvorm, is versoening. Versoening, sodat almal tuis in die land kan voel, en dat die land se energie daaraan spandeer kan word om die land te bou.

Daar is ook ‘n duidelike toon om te argumenteer wat die nalatenskap nié moet wees nie. Verskeie hoofartikels en rubrieke maan witmense, dikwels nie eens baie diskreet nie, om nie die ergste – byvoorbeeld geweld – te verwag by Mandela se afsterwe nie. Daar word omsigtigheid aan die dag gelê om nie die emosionele term, nag van die lang messe, in te span nie. Veel eerder word gesuggereer dat ‘n paar witmense dalk uit vrees vir geweld, as “voorsorg” self tot geweld kan oorgaan. Dat daar goeie rede is om oor hierdie aspek bekommerd te wees, blyk uit sommige van die kommentare op Maroela se twee rubrieke wat oor die onderwerp handel, met enkele kommentare wat moeilik as iets anders as vasgelegde histerie beskryf kan word. Dit kan hier en hier gelees word.

Die probleem is die wyse waarop oor Mandela se toestand gekommunikeer word – en ongelukkig dra die “wie” daardie kommunikasie behartig, ook nie tot die geloofwaardigheid by nie.

Met die lang hospitalisasie van die brandslagoffer, Pippie Kruger, het die dokters gereeld self met die media gekommunikeer. Niemand het getwyfel aan wat hulle bekend gemaak het nie. Ook die ouers het gereeld met die media oor die toestand gepraat.

In Mandela se geval kom die verklarings deur die presidensie. Ongelukkig, in mediese terme, beteken terme soos “kritiek maar bestendig” nie veel nie omdat, soos dokters dit uitwys, dit amper enigiets kan beteken. Die media sal dus ook ander bronne probeer inspan, maar omdat die familie self min sê, en dan vaag, is ook dit nie ‘n goeie bron nie. Boonop is daar nou ook moontlik regsaksie oor die inligting wat familie in hofstukke gebruik het om die herbegrafnis van familielede af te dwing, en AFP op sterkte van hierdie inligting ‘n berig die wêreld ingestuur het dat Mandela al ‘n ruk lank in ‘n permanente vegetatiewe toestand verkeer, en dat dokters die familie reeds aangeraai het om die masjiene af te skakel.

In dié stadium is die algemene gevoel dat die inligting in die hofstukke nie korrek was nie, maar die vraag bly steeds hoekom dit in die eerste plek daarin staan, en hoekom ‘n regspraktisyn sy toekoms op die spel sou plaas om ‘n kluitjie in te span om ‘n voorsittende beampte wolle oor die oë te trek. Die gevolg is natuurlik dat gerugte soos veldbrande versprei. Daar het selfs ‘n taamlike wye bespiegeling ontstaan oor “hoekom die ANC Mandela aan die lewe hou” en tot wanneer? Tot na sy verjaarsdag? Aanvanklik is bespiegel dat dit tot tydens of na pres. Barack Obama se besoek “uitgestel” sou wees.

Intussen verskuif die vergrootglas al meer na Mandela se familie, en die familietwiste. In die proses het die breedsprakige Temboe-koning ook weer met omstrede uitsprake gekom, en gesorg dat hy self in sy woorde-skermutselings met Mandla Mandela onguur onder die vergrootglas beland. Na die koning gesê het as Zuma nie met sy korrupsie ophou nie, sal hy nie ophou dagga rook nie, het Mandla na dié rokery verwys, toe hy gesê het die koning het waarskynlik weer iets gerook om ‘n sekere omstredenheid kwyt te raak.

Die lang siekbed gee geleentheid om die boodskap van versoening – elkeen met sy eie baadjie daarom gedraai – na ‘n gehoor wat luister oor te dra.

Dit was die afgelope Sondag baie duidelik in die rubrieke van Flip Buys, grootbaas van Solidariteit, “Kan die ANC SA sien soos Mandela?” en van Max du Preez, “Begin die mini-Mandela in elke buurman sien” wat soos gebruiklik ook gesorg het dat ‘n paar mense se moermeters begin oploop het.

Sommige mense dweep met Mandela, en ander sien weer net die slegte dele van sy lewe raak. Dit is jammer, want dit skep op sy eie ‘n spanning tussen mense wat eintlik almal baat sou vind daarby as die goeie nalatenskap uit die slegte – en daar is slegtes ook – onttrek kan word en die land realisties daarop kan bou. Nie almal is euforie-junkies nie, en om die euforiese herinneringe onverdun aan hulle te probeer opdwing, skep net weersin.

Die nadeel van die lang wag te midde van gerugte in ‘n land waar baie mense mekaar, en nog meer die regering nie vertrou word nie, is egter ook nie goed nie. Laat die dokters nou praat, en vrae beantwoord. En as sekere inligting op sterkte van die familie se versoeke nie gekommunikeer kan word nie, sê dit dan ook.

Anders sal die sweempie van vermoede dat iemand goedkoop politiek uit die situasie probeer maak nie weggaan nie. En die familie se versugting tot privaatheid is lankal daarmee heen. Die publiek verdien darem ook nie dat ‘n familielid wat by die hospitaal opdaag op ‘n Sondagoggend verskeie nuusbulletins lank die hoofnuus is nie. Dit laat onbedoeld weer ‘n klomp gerugte los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.