Nuuskommentaar: Kop optel na Marikana maar hóé?

'n Vrou huil tydens 'n gedenkdiens Donderdag by Marikana. Foto: Werner Beukes/SAPA

“Moenie die een ding doen, en die ander nalaat nie.” Dié eeue oue waarheid staar Suid-Afrika nou vierkantig is die oë na die Marikana-ramp en die rimpeleffek op die wêreldmening en op beleggersvertroue.

Die mooiste huldeblyk wat Suid-Afrika aan die slagoffers kan bied is om iets uit die insident te leer, en dit wat geleer is toe te pas.

Die slegste is om ‘n mens in die voorval te verlekker – iets wat ongelukkig na aanleiding van talle kommentare op webartikels nodig is om gesê te word.

Die skandaligste is waarskynlik om opportunisties vir eie gewin politieke punte te probeer aanteken terwyl die situasie skaamteloos uitgebuit word.

Die laagste vorm van reaksie is om ‘n verlammende, besluitelose “regeerstyl” te  probeer verdoesel deur nou eers te rou en krokodiltrane te huil terwyl ministers wat skandalig swak is steeds sonder enige tik oor die kneukels in hul poste sit…

Om bollie te praat vererger die probleem. Min mense is waarskynlik beter geplaas om te oordeel hoe die voorval Suid-Afrika se aansien in die buiteland geskaad het, as dr. Leopold Scholtz, waar hy reageer op pres. Jacob Zuma se stelling dat hy nie kan sien hoe dit beleggersvertroue in Suid-Afrika kan raak nie. Hy skryf vandag in Die Burger: “Ek is geen ekonoom nie, en van beleggingspatrone weet ek min. Maar ek het wel die internasionale media nougeset dopgehou, en as die breë trant van die beriggewing en ontledings ’n leidraad kan wees, het die algemene vertroue in Suid-Afrika ’n kwaai knou gekry.” (Die moet-leesartikel kan hier gelees word) 

Marikana staan nie geïsoleerd nie, en daar moet gewaak word dat die negatiewe fokus wat dié insident op die land geplaas het, nie soveel aandag en energie wegtrek van sake van groot belang nie. Toe die skietery plaasgevind het, was die Limpopo-handboekkrisis besig om hand oor hand oor die land uit te kring, met die vinger wat na al hoe meer ander provinsies gewys word. Dit is ver van opgelos. Net so was daar landswyd protesoptredes oor dienslewering. Dit sal ‘n groot fout wees om dit nou – al is dit tydelik – te probeer ignoreer om eers uitsluitlik op Lonmin te fokus, want molesmakers se sukses hang van aandag trek af, en as die bestaande vlakke van geweld nie die gewenste aandag trek nie, is erger dade om wél raakgesien te word heel moontlik.

Fokus op die regsterrein

‘n Aantal sake op die regsterrein toon aan hoe verspreid die land se probleme is:

–       Afgetrede appèlregter Ian Farlam is aangewys om die kommissie van ondersoek na Marikana te lei. Dit is belangrik dat dié ondersoek gelei word deur ‘n persoon wat politiek onverbonde is, en ook ervaring moet hê om sin te maak uit ‘n groot klomp goeie en slegte getuienis en voorleggings wat die probleem vanuit ‘n groot verskeidenheid hoeke – ook vakgebiede – bekyk. Die land en die wêreld moet vertroue hê dat dié verslag die instrumente in die hand gee om te voorkom dat so iets weer in Suid-Afrika gebeur.

–       In verskeie dele van die land is nie-regeringsorganisasies, en veral AfriForum, met regsaksies teen munisipaliteite en ander owerheidsinstellings besig wat hulle aan ernstige versuim skuldig maak. Dit is ‘n hartseer werklikheid dat dit nodig is om die howe in te span om verkose verteenwoordigers te dwing om hul sosiale kontrak met die kiesers, en die kiesers se kinders na te kom. In ‘n regstaat en grondwetlike demokrasie is dit egter ‘n vanselfsprekende opsie as ander opsies nie werk nie.

–       Maandag word die appél van die Zimbabwiese regering teen ‘n beslagleggingsbevel teen sy nie-diplomatieke eiendom in Suid-Afrika aangehoor na die Zimbabwiese regering nie aan die uitspraak van ‘n SAOG-tribunaal gehoor gegee het nie. Dié saak spruit voort uit die beslaglegging op blanke boere se plase sonder vergoeding. Zimbabwe het geweier om uitvoering aan die hofuitspraak van die tribunaal, waartoe hy homself ingebind het, te gee, en die Suid-Afrikaanse regering het soos sy ander SAOG-vennote hul ook aan liederlike pligsversuim skuldig gemaak.

–       Vandag lewer die Hooggeregshof in Kaapstad uitspraak in ‘n interdik wat Solidariteit teen die Departement van Korrektiewe Dienste  (DKD) aanhangig gemaak het. Die DKD pas ‘n beleid van rasbegunstigde aksie (race based affrimative action) toe waar aanstellings en bevoderings volgens die land se nasionale demografie gedoen word. In veral die Wes-Kaap werk dit erg diskriminerend teen veral bruin kandidate in, en Solidariteit het met ‘n hofsaak begin. Die DKD het egter reeds met die aanstellingsproses begin om ‘n rasgekeurde aanstelling in die plek van die beste kandidaat in ‘n pos, ‘n bruin man, te maak, vandaar die aansoek vir ‘n interdik. Die veronderstelde beleid van regstellende aksie in Suid-Afrika spruit uit ‘n beperking op die grondwetlike verbod teen diskriminasie, onder meer op grond van ras. ‘n Beperking op ‘n reg mag egter nooit so uitgelê word dat dit die oorspronklike reg so aantas dat dit in wese ongedaan gemaak word. In hul boek, Fundamental Rights in the New Constitution deur Cachalia, David, Madoena en  ander word verkies om eerder die term “corrective action” te gebruik, maar desnieteenstaande het dit in Suid-Afrika die beslag rasbegunbstigde aksie gekry, ‘n benadering wat in die VSA reeds teenspoed in die Supreme Court gekry het, en ook deur pres. Barack Obama teengestaan word. Hoewel “net” ‘n interdik sal vandag se uitspraak baie belangrik vir die land wees. (Die uitspraak sal later in ‘n volledige nuuskommentaar onder die loep geneem word).

Ander invalshoeke

‘n Groot rol vir die juridiese is belangrik, maar om die juridiese te verabsoluteer is gevaarlik. Om die dinamika van die land se probleme te verstaan is die politieke sosioloë en ander soos antropoloë onontbeerlik. Om die hele pakket te beskryf is die politieke wetenskaplikes onontbeerlik.

Oorvereenvoudig gestel: Om ‘n wet te maak dat bevolkingsgroepe of mededingende vakbonde goed met mekaar oor die weg moet kom, gaan nie werk nie. ‘n Grondwet wat nie op die werklike dinamika’s wat die politieke sosioloë bevind het geskoei is nie, maar eerder op die politieke korrektheid van die dag, gaan baie moeilik ‘n land sinvol vooruit neem.

Geleenthede

Kan die negatiewe impak van Marikana geleenthede vir minderhede bring?

Dr. Scholtz beskryf dit so: “Hoe wrang dit ook al klink, hier is kanse vir die minderhede, mits dit pynlik versigtig gehanteer word. Met ’n regering wat slegs uitblink in onbekwaamheid en korrupsie, is die bedding om die belange van Afrikaans en minderheidsregte in die buiteland te bevorder beter as ooit tevore. Maar die pad lê vol mynvelde. As ’n mens probeer om Afrikaans as “wit” taal te verkoop, kan jy maar vergeet. Ja, jy sal vordering maak by die regse ekstremiste, maar as jy ’n deurbraak by die gematigde hoofstroom wil maak, sal jy enige sweem van apartheid en rassisme moet ontwyk.”

‘n Meerderheid hoef nie stief met minderhede te wees nie. ‘n Pragtige voorbeeld is Taiwan.  Die regering van Taiwan het ‘n “noodtoestand” uitgeroep om die Inheemse Rukai en ander inheemse groepe se tale wat met uitsterwing bedreig word, te red. Van Taiwan se 42 inheemse tale word nege as bedreig beskou. Een van die tale het slegs tien sprekers.

Die sprekers van die inheemse tale bewoon Taiwan al sowat 8 000 jaar lank, maar vier eeue gelede het Chinese daarheen begin migreer, en maak nou 98 persent van die bevolking uit. Met die aankoms van die regering van Chang Kai-shek se regering van die vasteland af in die 60gerjare, is die inheemse bevolking aangemoedig om met die Chinese te assimileer. Sedert 2008 implementeer die regering egter maatreëls om die inheemse tale te bewaar, maar nou word noodmaatreëls ingestel om die tale wat die meeste bedreig word te bewaar.

Onder die stappe om dit te bewaar is die versameling van geskrewe rekords en opnames van die tale. Die regering het sowat $220 000 vir vanjaar vir die bewaringsaksie bewillig.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae