Nuuskommentaar: Koppesnellers los op Zuma

President Jacob Zuma

Met die stout seun van Suid-Afrikaanse politiek vandag (uiteindelik) voor die hof, is dit amper moeilik om te dink dat belangriker sake hulle nou elders afspeel. Die arbeidsonrus en die presedent wat in die praktyk van loononderhandelinge ontstaan het, is byvoorbeeld ‘n veel belangriker saak.

Nog een is die aanval van dr. Barney Pityana op die land se leierskap wat nie visioenêr is nie, en die regering se amptelike reaksie daarop, en moet ook nie uit die oog verloor word nie.

Pityana en sy bekwaamheid is self nie heeltemal onomstrede nie, en veral sy voorsitterskap van die Menseregtekommissie was nie heeltemal teksboek-leierskap nie. Tog is sy CV indrukwekkend, veral soverre sy kwalifikasies en publikasies betref. Dit is indrukwekkend genoeg dat hy ernstig opgeneem moet word as hy sê Suid-Afrikaners moet aanspreeklikheid aanvaar vir die land se mislukkings, omdat hulle leiers gekies het sonder visie en basiese vaardighede.

Die woordvoerder van die presidensie, Mac Maharaj, het ergerlik gereageer en onder meer gesê die opmerkings voldoen nie aan die vereistes van intellektuele gesprekvoering nie. Maharaj sê verskille is nodig in ‘n demokrasie, maar moet plaasvind binne die grense van ordentlikheid en moet nie beledigend wees nie.

Intellektuele swart mense ervaar dit blykbaar toenemend as ‘n verleentheid dat die land se president nie veel formele skoolopleiding gehad het nie, en gereeld die aandag daarop vestig deur uitlatings wat op onkundigheid oor elementêre demokratiese en staatkundige sake dui. Boonop hoef ‘n kritikus nie veel moeite te doen om wavragte voorbeelde te kry dat sake nie verloop soos dit moet nie, met onder meer die ouditeur-generaal se verslae wat oor munisipale sake verdoemend is.

Tog is Pitjyana se aanval waarskynlik ook deel van die strategie om Zuma die einde van die jaar uit die kussings te lig. Die tydsberekening hou waarskynlik daarmee verband dat Zuma, kort na een van sy onlangse blapse oor hoe die demokrasie nou eintlik behoort te werk, die VN gaan toespreek het oor regsoewereiniteit, ook op die terrein van die internasionale reg. Dit, en swak vertalings van die begrippe na die Afrikaanse nuus laat hom verspot voorkom.

Gelukkig vir Zuma word hierdie flaters effens versluier deurdat hy ook Afrika-populistiese kwessies opper.

Pityana, as teoloog en regsgeleerde, kon dit klaarblyklik nie meer hou nie.

Pityana is duidelik nie ‘n geïsoleerde swart intellektueel wat gefrustreerd is dat Zuma, blapse ten spyt, nog hoegenaamd meer as net ‘n kans staan om die einde van die jaar polities te oorleef nie. Onder van die ander bekende swart intellektuele wat al kritiek op Zuma gelewer het is dr. Mamphela Ramphele  en Moletsi Mbekhi.

Die ANC het immers ‘n lang tradisie van intellektuele leierskap – en dan Zuma.

Dit is ‘n gevoelige kwessie. ‘n Kabinetslid het al ‘n beroep op die publiek gedoen om nie so die spot met ministers te dryf nie,  omdat dit by buitelanders die indruk skep dat die land deur ‘n klomp ape regeer word. Dit knou beleggersvertroue.

Goeie leierskap behels eerder die navolg van goeie advies, as om deur eie kennis te wil lei. ‘n Goeie leier moet darem ook kan onderskei tussen goeie en slegte advies. Zuma beskik skynbaar oor goeie adviseurs, maar daar is oor ‘n wye front ook al vrae gevra oor wie die president gereeld van sulke onbeskryflike swak en duidelik onkundige advies bedien, dat hy sulke flaters begaan. Die wyse waarop Maharaj reageer laat die vermoede ontstaan dat hy meer as net ‘n woordvoerder is, en ook in die praktyk ‘n belangrike adviseur is.

Malema se styl sal verseker dat die skerp openbare aandag van die werklike aanslag op Zuma se leierskap weggefokus bly. Geen verantwoordelike leier sal te nou met Malema geassosieer wil word nie. Maar Zuma het hom eens tot kroonprins verklaar, iets waaroor hy, as hy kon, sy hare net so uit sy kop sal wil trek, net soos oor sy opmerking dat hy sy dag in die hof wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Mens is heimlik bly oor die kritiek op Zuma asook die ANC ook vanuit swart geledere wat daarop dui dat die algemene afwysende houding van die meerderheid blankes van Zuma, nie blote vooroordeel is nie maar tog goed gegrond is. Mens hoop maar op ‘n leiersverandering by die ANC en dat dit Suid-Afrika ten goede sal welgeval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.