Nuuskommentaar: Korrupsie in klein koevertjie of kolossale koffer?

Dit is hartverskeurend dat die land wat demokrasie aan die wêreld bekend gestel het, Griekeland, se demokrasie nou so broos is dat gesukkel word om die regstaat te laat funksioneer.

“As ‘n taal twee woorde vir korrupsie het, dan weet jy daar is ‘n groot skroef los.” So skryf die Griekse ekonoom, Jason Manolopoulos. Sy boek, ‘Greece’s Odious Debt’  skets ‘n somber prentjie oor hoe moeilik dit nou sal wees om korrupsie in die land uit te roei.

Die een Griekse woord vir korrupsie, fakelaki, beteken letterlik ‘n klein koevertjie. Dit mag klein wees, maar dit ondermyn die staat. Met dit wat in die klein koevertjie van hande verwissel, verdwyn probleme soos mis voor die son, en tot Jan Taks kyk anderpad.

Die ander woord, miza, verwys na iets groter, soos ‘n koffer. Soms wil dit wat vereis word, net nie in die klein koevertjie pas nie.

Nie alleen sukkel die staat om te vorder wat die keiser toekom nie, die keiser dok ook op waar hy nie moet nie. Salarisse van amptenare wat lank reeds dood is, word steeds betaal, en daar is vele meer voorbeelde van uitgawes wat daar nie moes wees nie.

Baantjies vir boeties is ook ‘n probleem. Hy wys daarop dat die destydse minister van verdediging in 2009 vlak voor die verkiesing in een naweek 269 mense in diens geneem het, almal vriende van die minister. Sy opsomming is dat Griekeland te korrup is vir die euro.

Die afgelope paar jaar verwys verskeie kommentators na Suid-Afrika as land waar korrupsie endemies geword het. Koerante is vol berigte van korrupsie en vermeende korrupsie, met die omstrede wapentransaksie wat steeds soos ‘n albatros oor die land sweef, tot die boekedebakel nou met die grootste probleem blykbaar in Limpopo.  Terselfdertyd is daar frustrasie omdat korrupsie-ondersoeke teen verdagtes nie vorder nie, waar die teruggetrekte hofsaak teen die president self soos ‘n seer duim uitstaan. Waar openbare druk skynbaar wel die proses deur die howe voer, is die strafstelsel skynbaar oorgretig om polities-goedgeplaastes vroeg uit te kry, sodat selfs die skynbare merietegeval vir mediese parool  vir Jackie Selebi nou erg gegogga word.

Terwyl verskeie misdaadtipes in Suid-Afrika volgens die polisiestatistiek minder word, neem handelsmisdaad steeds skerp toe. Op die jongste korrupsiepersepsie-indeks het Suid-Afrika in een jaar met tien plekke teruggesak, met verskeie Afrikalande wat as minder korrup as Suid-Afrika beskou word. Suid-Afrika beklee nou die 64ste plek teenoor Botswana in die 32ste en Namibië in die 57ste plek, met verskeie Afrikalande tussenin.

Suid-Afrika is nog effens beter as Griekeland in die 80ste plek daaraan toe, maar teen die huidige tempo gaan Suid-Afrika Griekeland binne twee jaar verbysteek.

Suid-Afrika, soos baie lande in die wêreld, betaal die prys vir die korrupsie in Griekeland. Griekeland se probleme dra daartoe by dat die Europese Unie sukkel om sy ekonomiese probleme af te skud en dit affekteer weer Suid-Afrika wat deur onder meer handelsbande ingebind is.

Groter diversifikasie van handelsbande is noodsaaklik, maar nouer bande met Indië, 95ste op die indeks, China (75ste), Zimbabwe (154ste), Venezuela (172ste), Angola (168ste) en Viëtnam (112ste) kom teen ‘n prys.

Die skoonmaakaksie moet beslis tuis begin. Die kiesers het ‘n dure verantwoordelikheid om met hul kruisies ‘n duidelike stem teen korrupsie uit te bring, anders word, soos in Griekeland, die regstaat so ondermyn dat die demokrasie ‘n klug word.

Dan gaan al hoe meer vrae gevra word oor die luukse vuurwaens waarin duidelik onbekwame politici rondgerits word, terwyl ‘n 17-jarige meisie op ‘n ashoop onder die wiele van ‘n vragmotor beland het. En sy was nie al wat desperaat iets bruikbaars en selfs eetbaars voor ewe behoeftiges probeer opraap nie.

Daar is nie ‘n mooi of aanvaarbare kant aan korrupsie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.