Nuuskommentaar: Krisis in die Straat van Hormoez en die impak van die afstof van geopolitiek op Suid-Afrika

Indien Iran se dreigemente realiseer om die Straat van Hormoez effektief genoeg te sluit sodat ‘n derde van die wêreld se olievoorrade geraak word, sal Suid-Afrika se strategiese belangrikheid weer onder die loep kom.

Die gebeure en soortgelykes lei daartoe dat daar nie te veel stof op die werke van die vaders van geopolitiek vergaar nie, hoewel met ander oë na die belang daarvan gekyk word.

Geopolitiek, ook bekend as geostrategie, het sedert die tweede helfte van die 19de eeu as vertakking van politieke geografie ontstaan. Die bekendste denkers op die gebied was kapt. AT Mahan wat na die belangrikheid van seeroetes gekyk het, Halford Mackinder wat na die belangrikheid van landbesetting en veral in die sogenaamde Eurasiese hartlandgebied gekyk het, en De Seversy wat lug-oorheersing deur die bril van sy Noordpoolprojeksie bekyk het.

Die belangrikheid waarmee na die uitgangspunte gekyk word het verander namate nuwe tegnologie ontwikkel het. Kernwapens en interkontinentale missiele het De Seversky se idees lewend gehou, hoewel die beginsels van eerste slaan en tweede slaan, die belangrikheid van duikbote met kernwapens gesorg het dat Mahan se gedagtes weer nuwe stukrag gekry het.

Hoewel geopolitiek as ‘n min of meer verouderde benadering beskou word, het dit nooit heeltemal verdwyn nie – bloot in ander variasies bly voortleef. Die bekende Monroe-leer met die gedagte van die sogenaamde “hemisfeer defence” het lank ‘n impak gehad. Die ontstaan van Navo as geografiese verdedigingsmag se impak strek veel wyer as die Noord-Atlantiese gebied, met die Middellandse See wat uiters belangrik is soos blyk uit die belangrikheid dat Turkye lidland van Navo moet wees.

Dit is ook goed gedemonstreer tydens ‘n beraad oor internasionale terreur en wêreldsekuriteit wat in die middel sewentigs gehou is.

By dié geleentheid het Ciro Zoppo die belang van die Middellandse See beklemtoon, en het Piere Hasner na Europa se belang gekyk. Brian Jenkins het onder meer opgemerk dat internasionale terreur ‘n nuwe element van internasionale verhoudinge geword het.

Trouens, die opkoms van kernafskrikking en internasionale terreur het nuwe lewe in die geopolitiek geblaas. Die konsep het min of meer soos volg gewerk: Weens die katastrofale uitwerking wat kernwapens op die kernmoondhede self sou kon hê, is terreur as oorlog deur afstandbeheer ingespan om strategiese voordele te verkry. Spesifieke dele van die wêreld kon om verskillende redes, of ‘n kombinasie van meer as een rede, meer belangrik as ander wees. Mahan se seemag-gedagtes is gebruik om gebiede se belang in terme van strategiese seeroetes te bepaal, terwyl ander meer ekonomies na belangrike fokuspunte gekyk het, soos die aanwesigheid van aardolie en strategiese minerale. Dit is meer korrek om gekombineerd hierna te kyk – die belang van die Straat van Homoez sou immers nietig gewees het as dit nie was vir die ru-olie wat hierlangs verskeep is nie.

Suid-Afrika se potensiële beheer oor die Kaapse seeroete het opnuut aandag getrek na die kwesbaarheid van die Seuz-kanaal in die Israel-Arabiese konflik geblyk het.

Moderne geostratege het gou opgelet dat daar by bykans elke strategiese geografiese punt op die aardkors terreur bedryf is, en dat die meeste van dié groepe ‘n Marxistiese grondslag gehad het. Gou-gou is die afleiding gemaak dat dit die Sowjet-Unie was wat dit as oorlog deur langafstandbeheer aanstig om strategiese voordele bo die VSA dwars oor die wêreld te verkry, maar op ‘n intensiteitsvlak wat nie ‘n Amerikaanse konvensionele en veral nie ‘n kernreaksie sou ontlok nie.

‘n Vinnige oorsig dui daarop dat daar óf meriete in die siening was, óf dat toeval ‘n reuse rol gespeel het.

Suid-Afrika en Suider-Afrika het byvoorbeeld netjies in die prentjie gepas. Benewens die seeroete, is die gebied wat strek tot in die teenswoordige DRK se Katanga-provinsie ‘n broodmandjie van strategiese minerale wat wissel van aardolie wat in Angola ontdek is, tot kobalt, chroom, vanadium, platinum en ander. In Suid-Afrika was die ANC en die PAC veral bedrywig, en het die Poqo-voorvalle die oë van die wêreld onder meer vasgevang. In bykans elke land was insurgensie – ook insurgente met ‘n Marxistiese grondslag, soos die MPLA in Angola, Mugabe met sy ZANU in die destydse Rhodesië en Frelimo in Mosambiek.

Die Horing van Afrika is ook belangrik weens die seeroetes wat dit beheer, soos nou blyk uit die meer as net lastigheidswaarde van die Somaliese seerowers. Die Sowjet-Unie het gou ‘n stewige vastrapplek in Somalië onder die beheer van Siad Barre gekry, terwyl omliggende gebiede soos Noordoos Kenia en die Ogaden onder irridentistiese insurgensie begin deurloop het. Ethiopië onder die leiding van die pro-westerse keiser Haile Selassie het in ‘n stadium met ses etniese afskeidingsoorloë tegelyk te make gehad. Toe sy bewind omvergewerp is, en hy deur die Marxis Haile Mengistu vervang is, het die Sowjet-Unie nie ‘n oomblik geaarsel nie, Barre die rug toegekeer en met Kubaanse hulp die Somalies uit die Ogaden verdring.

Min of meer dieselfde het in ander strategiese gebiede gebeur, soos die MIR en Monteneiro’s in onderskeidelik Chili en Argentinië, die ‘n rits organisasies rondom die Panama-gebied, met Suid-Afrika se ambassadeur wat in El Salvador ontvoer en vermoor is as herinnering.

Rondom die Suezkanaal was ‘n groot groep Palestynse terreurbewegings aktief, die meeste onder die sambreelliggaam van die PLO.

Die Straat van Gibraltar was nog ‘n interessante studie, met Brittanje wat in beheer is van Gibraltar, maar Spanje wat weer Ceuta en Melilla aan die Marokkaanse kus besit. In Spanje was veral die Baskiese terreurgroep, ETA bedrywig, terwyl die Weste Marokko se besetting van Wes-Sahara min of meer openlik gesteun het en so die Marxistiese Polisario in obskuriteit probeer dwing het.

Na die Koue Oorlog het die geopolitiek weer stof begin vergaar, maar die opkoms van Moslem-radikalisme soos gemanifesteer in die Ajatollah-revolusie in Iran, die Taliban in Afganistan en Al-Kaida verhinder dat die stoflaag te dik word.

Die Arabiese Lente het gou die strategiese Suezkanaal gebied bereik, maar toestande in ander Arabiese lande soos Jemen en Bahrein hou ook implikasies vir ander belangrike seeroetes in.

Al het Iran in Augustus verlede jaar ‘n belangrike strategiese bondgenoot in die steek gelaat te hy sy geldelike hulp aan Hamas opgeskort het omdat Hamas nie vir Sirië se Assad in die bresse getree het nie, kan Iran op kort kennis weer strategiese kapitaal koop en Hamas as bedreiging vir Suez heraktiveer. Hierdie kanaal word baie maklik geblokkeer deur skepe daarin te sink. So kan die wêreld se pogings om die Straat van Hormoez oop te hou, binne ‘n ommesientjie grootliks geneutraliseer word.

Die Kaap as seeroete bly belangrik, maar die belangrikheid daarvan word grootliks bepaal deur faktore elders. En dié faktore dra daartoe by dat Suid-Afrika ‘n duideliker buitelandse beleid moet ontwikkel, waarin Suid-Afrika se belange nie te dwars van die belange van die wêreld kan staan nie.

As dit in belang van die wêreld se groot moondhede word om Suid-Afrika met die oog op regeringsverandering te destabiliseer, is bykans alles wat nodig is om dié destabilasie te veroorsaak aanwesig, van heterogeniteit tot polarisasie tot ideologiese onverdraagsaamheid op die pole. Selfs liberale grondwette is nie hierteen bestand nie. Benewens Satre en Fanon, het ‘n groep Franse intellektuele ‘n begronding aan anargie self verskaf, terwyl die sogenaamde Angry Brigade in Brittanje tande gewys het. Die Ierse Republikeinse Leër en selfs meer radikale groepe het terreur gesaai terwyl beide Brittanje en Ierland liberale demokrasieë is.

Vir Suid-Afrika moet die hantering van dié konflikpotensiaal egter nie afhang van die belang wat iemand doer ver daarin het nie – om die land in vrede en harmonie optimale ontwikkelingsgeleenthede te bied, moet ‘n selfopgelegde taak wees. Solank gemeenskappe vervreem word, en Malema en kie steeds revolusionêre praatjies maak, so lank word die land gepolariseer en sal die versoeking altyd daar bly dat iemand iets daaraan doen om strategiese voordeel te put.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Louis du Plessis ·

OM GROND TE DEURGROND

1 Wat ‘n heerlike artikel om, soos die skrywer beoog, “die impak van die geopolitiek af te stof”! Verskeie invloedryke en bekroonde eietydse historici, soos Jared Diamond en Ian Morris, doen presies dit, en ontleed historiese tendense onder meer deur middel van die invloed van aardrykskundige faktore.

2 Met verwysing na verskeie geografiese entiteite soos die Straat van Gibraltar, die Middellandse See, die Suezkanaal, die Horing van Afrika, die Straat van Hormoez, die huidige opkoms van die mag van Iran, en die Kaapse seeroete, ontbloot die skrywer die volgende beginsel oortuigend: Slegs met ‘n deeglike begrip van die elemente van geografie – water en landboupotensiaal, en grond, ligging en grootte van ‘n gebied – kan die rol van ‘n volk, staat en beskawing en hulle oorlewingstrategie deurgrond word.

Gemsbok ·

Ek dink nie die Kaapse seeroete is van sodanige strategiese belang nie.

Benewens die invloed van die Suezkanaal wat ‘n korter roete na die Ooste vanaf Europa bied, moet daar ook twee ander belangrike veranderinge sedert 1652 of selfs 1806 binne rekening gelaat word wat die strategiese waarde van die Kaapse seeroete verminder het:

1) Tegnologiese verandering in skeepsontwerp, versiening en aandrywing het veroorsaak dat skepe nie meer in Suid-Afrika hoef aan te doen vir vir voorraad nie, tewens hulle hoef nie eens meer Suid-Afrika se gebiedswaters te betree in hul vaart om die Suidpunt van Afrika nie.

2) Die ekonomiese enjinkamer van die wêreld het weg van Europa af verskuif na die Amerikas en die Verre Ooste, met geen nodigheid vir handel tussen die Amerikas en die Ooste om verby Afrika te vaar nie.

Suid-Afrika se strategiese waarde wat minerale betref is ook aan die taan. Ons is reeds deur China verbygesteek as die grootste produsent van goud, ons het geen olie nie en ons troefkaart, platinum, is slegs belangrik omdat dit in dieselenjins gebruik word, iets wat oor die langertermyn geleidelik deur groen vorms van energie vervang sal word. Daarbenewens beweeg die ontwikkelde ekonomiëe van die Weste weg van mineraal-intensiewe bedrywe na diensbedrywe.

Wat internasionale magspolitiek betref, sal Suid-Afrika grootliks niemand se aandag trek nie, want Suid-Afrika se hulpbronne sal altyd beskikbaar bly vir die koper wat hoogste bod plaas. Oorlog of insurgensie is ‘n baie duurder alternatief.

Herman Toerien ·

Hallo Louis en Gemsbok. Baie dankie vir die reaksie. Dis regtig baie sleg om onderwerp na onderwerp aan te pak sonder terugvoer, of selfs net positiewe terugvoer te kry. Wanneer ek die artikels instuur stuur ek dit terselfdertyd na ‘n groep akademici, van politiek regs tot links, en ook van verskillende bevolkingsgroepe. Ek vra dat hulle kommetaar lewer veral wanneer hulle nie met iets saamstem nie. Uiteraard kry hulle nie altyd kans om te lees nie, en kry ek meestal positiewe reaksie.
Louis het goed waargeneem wat ek probeer doen het – die romatiek van die geoplitici afgestof maar daarop gewys dat die antwoord meer kontekstueel is as bloot geografiese ligging.
Wat die Kaapse seeroete betref: Ek sou graag dat iemand met meer kennis as ek bietjie die aspek ook toelig vanuit die tegniese oogpunt. Soos ek onthou uit die tyd toe die Suezkanaal destyds gesluit was, is dat die tenkskeepe so lank gebou is om loned te wees, dat die ronding van die aarde ingebou moes word. Diepsee ontwikkel egter groot golwe so ver uitmekaar dat die lang skepe weerskante van so ‘n golf uit die see steek, of dat die voorkant en agterkant elk in ‘n golf is, terwyl die middel in die lug hang. Met ‘n vol vrag kan die skip middeldeur knak. Skepe het dus so na as moontlik aan die kus probeer vaar, behalwe wanneer hulle diepsee toe is om skelm hul teks skoon te spuit en ons kort voor lank op die strande in die olieklonte trap. Om om Kaap Hoorn te vaar is nog gevaarliker.
Ek stem egter saam uit ‘n veiligheidsoogpunt is die Kaap se belangrikheid grootliks uitgedien is, en ook hoe minerale verhandel word. Wanneer genoeg lande in ‘n oorlog betrokke raak kan dit natuurlik effens verander, nie net oor vliegtuie en skepe se reikwydte nie, maar ook land tot see-missieltegnologie. Oorlog ter see word al baie lank nie net in die omgewing waar die oorlogvoerende land slaags is gevoer nie, soos die herkoms van ons liedjie “Daar kom die Alabama” van getuig. Die wêreldgemeenskap moet ook deeglik sorg dat seerowery nie ‘n werklike wêreldwye probleem word nie, trouens, as die huidige nie behoorlik kortgevat word nie en kriminele bendes begin dit kaap, by wyse van spreke, kan dit ‘n liederlike kopkrapper word. Ek onthou ek het ‘n jaar of wat gelede ‘n artikel geskryf oor die probleem van “seerowery” (piracy) op die Dunau. Die moontlikhede ter see is veel groter.
Oorwegend het ek darem probeer laat blyk dat ek eerder nostalgie oproep as iets wat veral nie in isolasie of vasgehaak in die verlede beoordeel kan word nie.
Net ‘n slotopmerking – deur die eeue het baie nasies geglo hulle woon op die middel van die aarde, waaronder die oorspronklike stigters van China. Vandag is dit meer ‘n geestelike ingesteldheid – min mense sal nie half ergerlik voel as hul land weens sy ligging as onbelangrik afgemaak word nie. En die mens is nou maar ‘n skepsel wat volgens sy persepsie van die werklikheid eerder as die werklikheid reageer. Nogmaals baie dankie vir die reaksie.
Herman

Gemsbok ·

Jy moet maar verskoon as ek van tyd tot tyd duiwelsadvokaat speel, Herman. Dit is in die deurtrap van verskille, eerder as aanvaarding van die ooglopende ooreenkomste, waar ons dikwels die juwele kan opgrawe.

Vandaar dalk ook jou behoefte vir ‘n bietjie verskil.

Die gedagte oor groot, lang olietenkers is interessant en daar bestaan sekerlik heelwat van hulle tipes, want hulle sal ook hulle voordele inhou. Of die meerderheid so gebou sou word weet ek nie, want om olie vanaf die Midde-Ooste tot by die VSA te vervoer moet die Atlantiese of Stille Oseane iewers oorgesteek word.

Ek verstaan die punt oor nostalgie en ek wil dit waag om te sê dat jou nostalgie nie beperk is tot die beginsel van geopolitiek nie. Dit strek tot by die gedagte van “ons land”, want dit is iets wat ons tegnies byna twee dekades laas oor beskik het.

Ek vermoed dat minder belangstelling in Suid-Afrika deur diegene daarbuite vir ons meer geleentheid sal gee om onsself te help, en daarvoor is die verminderde belangrikheid van hierdie stukkie empaaier aan die Suide van Afrika ‘n bate eerder as ‘n las.

Herman Toerien ·

Dankie Gemsbok. Ek dink jy het ‘n goue aar raakgeboor met jou opmerking van ‘n behoefte daaraan om trots op die land te wees. Ek weet daar is baie mense wat steeds sê hulle is trots op die land, maar so dikwels kom iets met die strekking van “maar” daarby. Jakes Gerwel is ‘n goeie voorbeeld van een wat verskeur is tussen die werklikheid (wat hy ‘n vrot regering noem) en nostalgie oor bv Mandela wat sy lojaliteit teenoor die ANC bepaal. Rhoda Kadalie noem ‘n graaf ‘n laaigraaf, en het lankal by daardie punt verby beweeg.
Kortom, ek dink dis iets waaroor analiste – dalk politieke sosioloë – diep sal moet begin besin sodat ‘n padkaart vir die land realisties uitgestippel kan word. (Die artikel vanddag van Leopold Scholzt oor Skotland het my nogal baie aan die dink gesit).
Dis jammer die era van die super tenkskepe is bietjie voor die koerante se elektroniese argiewe – wat mens uit die vuis “onthou” kan dalk net mites wees. Ek wil my bv verbeel ek onthou iets dat so ‘n tenkskip gemiddeld een en ‘n half rit moes onderneem om homself te betaal, daarna was sy “lewensverwagting” ‘n bonus en is risiko’s geloop om die “bonus” so groot as moontlik te maak. Maar as dit waar sou wees sou die Suez basies vir olieverskeping irrelevant gebly het soos destyds voorspel is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.