Nuuskommentaar: Kroonjuwele ʼn lae hou

ʼn Skildery wat president Jacob Zuma in ʼn tipiese Lenin-houding uitbeeld, en waarin sy kroonjuwele nie op hok is nie, is pas vir R136 000 aan ʼn koper van Europa wat van die straat ingestap het, verkoop. Boonop dra die skildery die “veeldoelige” naam, “The Spear.” Selfs die kunstenaar is verbaas dat hy daarvoor ʼn koper gekry het, omdat, soos hy dit stel, dit nie die tipiese skildery is wat ʼn mens in die sitkamer sal wil ophang nie.

Kunstenaars wat hul kunstenaarsvryheid uitleef en daarom by die owerhede in die warm wat beland, is ʼn ou verskynsel, en die debat oor waar om die streep te trek, is al net so lank aan die gang. En laat daar ook dadelik gesê word – die skildery is eerder ʼn werk van ʼn grafiese aard as iets wat op ʼn realistiese foto trek. Dit is eerder iets wat die kyker sal laat dink, aldus die skilder. Hy sê ook Suid-Afrikaners wat ontsteld is sal bly wees om te verneem dat die skildery na die uitstalling deur die eienaar landuit geneem word. Die ANC wil regstappe neem en het ʼn beroep is op City Press gedoen om die grafika van die skildery van sy webwerf te verwyder.

In enige land ter wêreld sou so ʼn uitbeelding ontsteltenis onder die bevolking veroorsaak het. Dié ontsteltenis sou ook redelik eenstemmig wees, ongeag of die president hul persoonlike voorkeur geniet het. Dit sou as klad teen die land beskou word. Dit behoort ook Suid-Afrika te geld – die hele affêre is nie iets waarmee die gewone, Christen-Afrikaner hom kan vereenselwig nie.

Hierdie is geen geval soos die gemoedelike gespot oor die pensklavierspeler nie, wie se kroonjuwele tydens ʼn konsert deur die riempiestoel se rieme uitgehang het, en hy in reaksie op die gelaggery gekla het dat ʼn lelike ding nou hier sy kop uitsteek.

Al word Zuma se hantering van sy amp nie gerespekteer nie, is in terme van die Afrikaner se beeld in die multikulturele samelewing te veel op die spel. Die Afrikaner gaan waarskynlik in elk geval houe vat omdat die skilder, Brett Murray, wit is.

Dit is ook heeltemal te vroeg om te bepaal hoe dié skildery die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap gaan raak. Voorlopige aanduidings dui egter daarop dat sommige Suid-Afrikaners, al beskou baie dit as in swak smaak, ook meen die skildery slaan die spyker op die kop. Zuma is ʼn veelwywer, hy het kinders buite die eg verwek en het owerspel as verweer in ʼn verkragtingsaak aangevoer.

Sy kabinet het pas die bevolking ʼn lae hou gemoker deur aan te kondig dat dit teen die e-tol-uitspraak appelleer. As die teenstrydige berigte van die regering se woordvoerders aanmekaar gelas word, lyk dit of die besluit geneem is om te appelleer minder as 24 uur na die geskrewe hofuitspraak ontvang is, en terwyl die staat se regsadviseurs nog besig is om dit te bestudeer. Tog, sê ʼn woordvoerder, het die kabinet die uitspraak bestudeer voor die besluit geneem is. Die algemene publiek het ‘n appèl waarskynlik ook nie verwag nie, omdat Sanral aangedui het dit gaan nie appelleer nie, al is agter die regering geskuil, en omdat ʼn taakspan onder adjunk-president Kgalema Motlanthe aangewys is wat alle aspekte moes bestuur, ook die moontlikheid van appèl. Motlanthe, wat maar pas uit Europa teruggekeer het, se taakspan kon immers nog nie baie werk in die kwessie ingesit het nie.

En hierdie e-tolsage is lank nie die enigste lae hou wat die publiek van die owerhede gekry het nie. In Bloemfontein loop die gemoedere byvoorbeeld hoog oor voorgestelde reuse tariefverhogings, terwyl die raadslede en top-amptenare 50 % verhogings gaan kry, dienslewering erg verswak, die munisipaliteit al jare lank nie ʼn skoon ouditverslag van die Ouditeur-generaal kan kry nie. En terwyl werkers wat veel kleiner verhogings kry, groot skade aan die Glaspaleis en historiese stadsaal aangerig het.

Daar is al hoe meer tekens dat die regering die land se inkomstegaping, volgens baie bronne van die hoogste meetbare en selfs die hoogste meetbare ter wêreld, probeer aanspreek deur die gans te slag wat die goue eiers lê. Daar is op die oog af ʼn geskarrel om die onrus wat landswyd veral op munisipale vlak uitbreek, met lapwerk te skik na die beloftesafari’s begin boemerang het.

Die skildery wat Europa toe gaan, het verdere simboliese waarde. Terwyl die skildery die karikatuurvoorstelling van Zuma verdiep, volg Afrikanergroepe soos AfriForum die suksesvolle voorbeeld van ander minderheidsgroepe in die wêreld, wat deur skakelwerk hul beeld in die buiteland verbeter, en so hul saak bevorder. Onlangs nog het ʼn minister gevra dat die publiek moet ophou om hul regeerders belaglik voor te stel, omdat dit skadelik vir beleggings is as die buitewêreld die indruk kry die land word deur narre regeer.

Maar dan verwag ʼn mens ook meer rasionaliteit as die president se verduideliking dat straat- en ander pleknaamveranderings op versoening afgestem is, dat diegene wat dit teenstaan in ʼn staat van ontkenning verkeer oor die wandade wat onder apartheid gepleeg is … maar sonder om te verduidelik wat name wat uit ʼn tydperk lank voor 1948 dateer met apartheid te make het. Dus ook maar ʼn lae hou.

Die Afrikaner gaan homself geen guns bewys deur hom te verlekker in Zuma en die ANC se verleentheid oor die skildery nie. ʼn Waardige en fatsoenlike reaksie sal veel meer doen om die Afrikaner se beeld te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.