Nuuskommentaar: Kwotas sonder brieke

Foto: wvu.edu

‘n Onthulling deur die Oos-Vrystaatse koerant, Vrystaat, dat verskeie munisipaliteite in die omgewing eenvoudig nie briek aangedraai het toe die nasionale rassesamestelling gehaal is nie, laat die oë rek. Statistiek dui daarop dat uit ’n totaal van 3 787 werknemers by sewe munisipaliteite altesaam 95,25% (3 607) swart is, terwyl net 4,04% (153) wit, 0,66% (25) bruin en 0,05% (2) Indiërs is.

Onthou, dit is die regering self wat aandring daarop dat nasionale demografiese kwotas moet geld, soos blyk uit die hofsaak tussen Solidariteit en die departement van korrektiewe dienste. Die nasionale kwotas moet toegepas word – ook in die Wes-Kaap waar die meeste inwoners bruin is. Trouens, die DKD het aangevoer dat bruin mense dan in ander provinsies waar hulle ‘n klein minderheid is, bevoordeel sal word. Duidelik toe nou nie.

As die nasionale rassekwotas toegepas sou word, sou dié munisipaliteite ongeveer 80% swart werknemers moes hê, 9%bruin, 9% wit en 2,5% Asiër. Swart mense is dus meer as 15%oorverteenwoordig, en al die ander onderverteenwoordig.

Dié soort syfers maak ‘n mite daarvan dat die beleid van “affirmative action” iets met nie-rassigheid te make het, en dit verklaar ook hoekom navorsing daarop dui dat minderheidsgroepe, ook binne die ANC, toenemend vervreemd voel. Dit laat die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantshe se opmerking dat bruin en Indiër hulle nie as minderheidsgemeenskappe moet beskou nie, maar as deel van die meerderheid, laf klink. Die werklikheid daarbuite praat hard.

Uiteindelik is alles afgestem op die bevordering van African Afrikane.

Die ironie is dat die grondwetlike bepaling van regstellende aksie nie ‘n reg op eie bene is nie, maar bloot ‘n beperking is van die verbod op onbillike diskriminasie – en nie net op rasgronde nie. Die argument is soos volg: Sou die verbod op onbillike diskriminasie absoluut wees, sal die skeeftrekkings wat by die inwerkingstelling geld, ook vasgemessel word; sou gewone markkragte geld, sal dit lank kan neem om die gelykheidsbeginsel voltrek te kry.

Internasionaal geld daar ook ‘n sonsondergangsklousule in die bepaling oor regstellende aksie – maar dit is iets waarvan die ANC (nog) niks wil weet nie.

Die hele kwessie kan ook anders beskou word. By munisipaliteite is die meeste poste op werkersvlak, en soos elders in die land is die loongaping tussen veral die topbestuur en die onderste vlak ontsettend groot. Tradisioneel is hierdie onderste vlakke feitlik vir swart mense gereserveer. Die Wes-Kaap, wat oorspronklik min swart mense gehad het, se huidige swart bevolking kan deels toegeskryf word aan ‘n stelsel waar swart mense as “trekarbeiders” gebring is om take soos vullisverwydering te doen, en destyds dikwels ook om die nagwa te beman.

Maroela Media het pas berigte gedra oor blankes wat verkies om boemelaars te wees, en dat hulle tot R170 per dag so verdien. Daar is natuurlik baie wat leef van feitlik niks, en dan hoofsaaklik dít wat uit asdromme kom. Maar dit is so dat “vernuftige” boemelaars eerder sal bedel as om “mindere” werk te doen, en dit vir ‘n karige loon.

Dit is redelike internasionale praktyk om dit wat met regstellende aksie beskou word – dit wil sê die regstel van iets wat verkeerd is – met “affirmative action” te vertaal. Staatsregslui verkies egter dat die term “corrective action” gebruik word, juis omdat “affrirmative action” letterlik die begunstiging van die eie beteken. Waar dit op ‘n meerderheid wat boonop die politieke mag het, toegepas word, trek dit sake erg skeef. Dan word dit ‘n nepotistiese term wat op rasbegunstiging dui. Voeg hierby die beleid van kaderontplooiing wat duidelik ongrondwetlik is en daar kan geen sprake van “regstellende optrede” wees nie. (Kaderontplooiing kan nie deur die grondwet se bepaling dat mense “tot ‘n mate” op grond van ideologie aangestel kan word, geregverdig word nie).

Om voortgesette “affirmative action” te regverdig, gebruik die regering graag sosio-ekonomiese syfers. Dit gaan van die veronderstelling uit dat daar slegs historiese redes is hoekom daar ongelykhede tussen groepe is, en dat ‘n vorm van maatskaplike ingenieurswese nodig is om sake “reg te stel.”  In die praktyk is daar egter ander faktore wat ook bydra om armoede “oorerflik” maak soos gemiddelde gesinsgroottes en kulturele ingesteldheid oor uitnemendheid. Maar om in ‘n klimaat waar die loongaping so groot is, die onderste poste eksklusief vir swart mense te reserveer, is dit numeries duidelik dat sosio-ekonomiese dispariteit op grond van ras bykans ‘n vaste instelling sal wees, en dit die onbepaalde voortsetting van “affirmative action” sal “regverdig.” Selfs SEB kan dit nie numeries “regstel” nie. Maar die vashaak op hierdie uitgangspunt is wesenlike rassisme omdat die doel om die individu, ongeag sy ras of geslag, die beste moontlike geleenthede te bied om mee te ding en te presteer, eenvoudig nek omgedraai word.

Dit sou interessant wees om te sien of hierdie munisipaliteite ook hoegenaamd enige poging aangewend het om mense met gestremdhede in diens te plaas, soos wat die grondwet met regstellende optrede bedoel.

Wat Vrystaat-koerant oopgekrap het, is nie heeltemal nuut nie. Ook in Bloemfontein waar die ANC se nasionale kongres onlangs plaasgevind het, is enkele jare gelede vasgestel dat die Mangaung-munisipaliteit steeds ‘n volslae moratorium op nie-swart aanstellings geplaas het lank na die kwotas reeds heeltemal oortref is. Die Vrystaatse Wetgewer het eweneens geen poging tot kwotas aangewend nie, en selfs iemand aangestel wat die plaaslik media moes moniteer wat glad nie Afrikaans verstaan nie. Die Vrystaat het nie eens ‘n plaaslike Engelse dagkoerant nie.

Kan rassisme ooit ‘n goeie manier wees om rassisme te verslaan?

Moet daar nie, meer as twee dekades na die wet op rasseklassifikasie uit die wetboek verwyder is, ander norme gevind word om agtergeblewenes en benadeeldes te identifiseer en aan te spreek nie?

Studies toon gereeld toenemende vlakke van rassepolarisasie en dit raak duidelik tyd om te besin of die huidige benadering die gewenste uitwerking het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Pieter ·

As enige iemand ooit die ulusie gekoester het dat dit enigsins anders sou wees, laat die feite diegene nie in skaamte laat nie ?

Dit wat nou ervaar word is reeds 20 jaar gelede voorspel maar daardie mense se waarskuwings is met minag verwerp. Dit sal nog slegter gaan en verwerp hierdie stelling ook maar met dieselfde minagting. Ek sê maar net

Brenda ·

Ja, dit sal nog slegter gaan en ja, die mense sal dit ook verwerp. Want niemand is so BLIND soos hy wat nie WIL sien nie, en so DOOF soos hy wat nie WIL hoor nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.