Nuuskommentaar: Leierlose Afrikaners?

In gister se Rapport plaas die politieke redakteur, Lizel Steenkamp die onderwerp op die tafel, onder die titel: “Leierloos (En dis fine).”

Die artikel is hoofsaaklik geskoei op opinies van prof. Willie Esterhuyse, bekende filosoof van Stellenbosch, terwyl Max du Preez in die artikel self instemmende knikke maak.

Die bekende kontemporêre leiers wat ook deur die Afrikaner aangehang word, is volgens die artikel… “Mamphela Ram­phele, Moeletsi Mbeki, Barney Pityana, Jonathan Jansen, Paul Harris en Thuli Madonsela.”

Terwyl die artikel stellig omstrede sal wees, slaan dit in minstens een opsig die spyker op die kop: Wat politieke leierskap betref, is daar nie nou ‘n Afrikaner wat werklik die hand opsteek as een wat Afrikaners oor ‘n breë front saamsnoer nie. Met die pas-afgelope DA-kongres, waarmee stellig die meeste Afrikaners hul kruisies toevertrou, is Anchen Dreyer tot die top-leierskap verkies, terwyl Annelie Lotriet nie die pyp gerook het nie.

Die debat wat op die artikel volg sal wees oor of dit “fine” is dat daar nie meer verteenwoordigende politieke Afrikanerleiers is nie.

Dat dit, soos onder meer in die artikel gesuggereer word, na skuldgevoelens teruggevoer kan word, is in sekere kringe seker geldig. Dat baie jong mense ‘n nuwe Suid-Afrikaanse ingesteldheid het wat die land wil laat werk, geld sekerlik ook baie – minstens tot die werksvloer en ongelyke mededinging aan die bas gevoel word as hulle werk kry. En die uittog van jong mense toon duidelik ook dat hierdie argument deels wensdenkery is.

Maar dit is min of meer waar ‘n filosoof uit die Esterhuyse-dampkring en die hoofstroom-politiek-wetenskaplikes uiteen sal loop. Dié verskille in benadering het baie duidelik geblyk in dr. Piet Croucamp, ‘n politieke wetenskaplike, se galbrakery  teenoor die filosoof, prof. Anton van Niekerk. Croucamp en Van Niekerk is ideologies na-aan mekaar, maar Croucamp skryf onder meer: “Van Niekerk trap water wanneer die gesprek buite sy vakgebied gevoer word, maar soos dit nou maar filosowe betaam, verhinder dit hulle nie om ’n nes vol eiers te lê oor wat ook al ter sprake is nie.”

Die eerste werklikheid is dat daar wel Afrikanerleiers is. Toe AfriForum 48 000 lede gehad het, het Willie Spies die artikel, “Is die Afrikaner rigtingloos?” vir Maroela geskryf.  Twee weke later het AfriForum die 50 000 lede verbygesteek. (In 1992, terwyl die NN P nog aan bewind was, het die party in die Vrystaat net meer as 20 000 ingeskrewe lede gehad). Die vakbond, Solidariteit het sowat 130 000 lede. Dit is mense wat betaal om lid van hierdie organisasies te wees. Daar is nog baie wat die lidmaatskapgeld nie kan bekostig nie, of wat in die algemeen hul aksies ondersteun sonder om noodwendig ingeskrewe lede te word. Dan is daar nog ander Afrikanerorganisasies met beduidende ledetalle, en elkeen het leiers. En dié leiers word ook buite hul eie organisasies as leiers ervaar. Kyk maar hoe lank voor die tyd moet hulle bespreek word om een van hulle as spreker by ‘n Geloftefees te kry.

Die tweede werklikheid is dat daar ook ander redes is hoekom die Afrikaner nie op die oomblik sterk politieke leierskap ervaar nie. Hulle kan kortliks opgesom word as:

–       Die gebrek aan ‘n staatkundige institusionele struktuur, soos waaroor die meeste demokratiese lande beskik wat minderhede het. Institusionele strukture soos etniese federasies soos dié in Indië, België en Nigerië bestaan nie in Suid-Afrika nie. Ook ‘n tipe streekoutonomie soos in Kanada, die VSA, België en Brittanje bestaan nie. Die Katalane is juis gister stembus toe in ‘n vervroegde verkiesing wat hul bestaande outonomie in Spanje nog meer selfbeskikkingsmag kan besorg. Partye wat groter selfbeskikking voorstaan het ‘n volstrekte meerderheid behaal, en die Sosialiste het sterk steun verloor. Gewaarborgde setels vir inheemse minderhede soos in Indië en Nieu-Seeland bestaan ook nie hier nie. Het een of meer van hierdie strukture wel in 1994 van die onderhandelingstafel gekom en in die grondwet beslag gekry, het Esterhuyse dalk ‘n ander deuntjie gesing en Steenkamp se artikel waarskynlik nooit die lig gesien nie.

–       Hoeveel het ontnugtering met wat wél van die 1994-monteertafel afgekom het te make met ‘n instelling van “moet op prinse nie vertrou nie?” Baie Afrikaners is immers drie maal teleurgesteld. Die eerste keer oor die resultaat van onderhandelings, die tweede keer toe “ons sal jul stem wees” ‘n baie stil stem geblyk het te wees, en derdens toe die  gevolge van die 1994-skikking ingeskop het.

–       Selfs op Afrikaanse TV-nuus lyk dit of Afrikaanssprekendes geheel van sekere tonele verdwyn het. Word belanghebbendes geraadpleeg oor byna enige saak, soos die beskerming van die renoster, spraakvryheid, argeologie en paleontologie, dikwels selfs die ekonomie, dan klink dit of Afrikaanssprekendes hierdie beroepe en selfs sekere sportkodes moes ontruim het. Voorheen is die Afrikaner en sy prestasies beslis nie slegs aan rugby, boerdery, Dawie Roodt en politiek gemeet nie.

–       Dit lyk of transformasie ook ‘n liederlike impak op akademiese vryheid het. Hoeveel politieke wetenskaplikes in diens van universiteite  sal werklik nou waag om standpunte te stel wat nie met hul werkgewers se tranformasiekodes klop nie? ‘n Interessante voorbeeld is ‘n Matie-professor in Politieke Wetenskap wat nou “politiek korrekte” spreekbeurt op spreekbeurt op die senders van die openbare uitsaaier kry – presies dieselfde persoon wat nie ‘n geleentheid verpas het nie om voorheen voorleggings te doen en getuienis af te lê oor kwessies soos korporatiewe selfbeskikking in konsosiasie – erkende konsepte wat wel aan die Afrikanerpolitici ontwikkelingspoteniaal sou bied. En dis nie ‘n geheim nie, dis in elektroniese argiewe vasgelê maar vergete. Trouens, selfs Die Burger het in ‘n hoofartikel mense vir sulke voorleggings aangemoedig.

–       ‘n Persoon, hetsy ‘n leier of nie, wat hom pro-Afrikaans of Afrikaner uitdruk, kry baie gou die etiket van anti-swart wees. Die etikette wat omgehang word sluit in “regs” wees, “rassisties” wees, verkramp, reaksionêr en vele meer. Van buite die Afrikanergeledere word selde ‘n onderskeid getref tussen die benaderings van ‘n Dirk Hermann en ‘n Dan Roodt. Probeer ‘n Afrikaner hom as gematig aanbied, kan die see hom nie skoon was van al die slegsêery uit radikale Afrikanergeledere self nie. Kortom, dit is nog baie moeilik vir ‘n potensiële Afrikanerleier om die nodige statuur te bou wat nodig is om as leier te kan uitstyg.

–       Die suigstokkis wat wél as Afrikanerleiers “toelaatbaar” is, soos Bram Fischer, Beyers Naudé en Nico Smith, sal nog baie soet stroop en in transformasiegeskiedenis ingeweef moet kry voor die deursnee-Afrikaner hulle inderdaad as Afrikanerleiers sal ervaar.

Om weer Afrikanerleiers vir die politieke en staatkundige te kan oplewer, moet daar skynbaar eers weer ‘n klimaat geskep word waar nuwe leiers met eerbaarheid en statuur gebou kan word. Maar selfs die mees dinamiese leier sal nie kan deurbreek as hy nie die nodige mediablootstelling kry nie, en in dié stadium lyk dit nie of die hoofstroommedia dit sal aangryp nie. Miskien is die feit dat Steve Hoffmeyr in Maroela se kompetisie vir die bepaling van die Grootste Afrikaner in die kategorie vir eietydse persoonlikheid koning gekraai het, aanduidend daarvan dat vemaaklikheidsfigure meer blootstelling kry as leiers op ander terreine. “Toevallig” het Pieter Dirk Uys die jongste jaarlikse toekenning van die FW de Klerkstigting gekry as die persoon / instansie wat die meeste vir die bevordering van tussengroepverhoudige gedoen het. Ook die AB het in ‘n onlangse nuusbrief die problematiek om eietydse Afrikanerhelde as sodanig te identifiseer en vestig onder die loep geneem.

Dit is belangrik dat die konsep van die identiteit in volkskonteks nié outyds, konserwatief of verkramp is nie, maar modern en deel van die omvattende kultuur van menseregte.

Die onlangse Afrikanerberaad dui daarop dat hierdie gedagtes lank nie dood is nie.

Die werklikheid is dat nog hard gewerk sal moet word om minderheidsregte in Suid-Afrika as deel van die hoofstroomdenke van die moderne wêreld te bemark, al is dit in verskeie VN-resolusies onderskryf.

Die harde werklikheid is dat daar nie nou duidelike Afrikanerleiers in die politiek is nie, en die harde werklikheid is ook dat dit nie “fine” is nie.

Burgerlike strukture

Dit is ook ironies dat iemand uit die staatsreg- en politieke wetenskaplike agtergrond die filosowe daarop attent moet maak dat ‘n grondwetlike bedeling onvolledig is as daar nie ook sterk burgerlike strukture teenwoordig is nie.

En dít het die Afrikaner. Én dit maak ‘n verskil.

As dit nie vir burgerlike strukture soos Outa was nie, het Gautengers nou (reeds) e-tol betaal. As dit nie vir burgerlike strukture (City Council of Pretoria v Walker) was nie, het sommige mense op grond van hul ras waarskynlik steeds nominale vaste tariewe (flat rates) vir munisipale dienste betaal, en ander deur hul nek om vir die tekorte op te maak. Dan was dit maar in die haak dat ANC-lede “Skiet die boer” sing.

As burgerlike strukture nie ingetree het nie, was Afrikaanse skole nou waarskynlik bloot herinneringe. Nog veel meer Afrikaanse plekname sou reeds deel van die geskiedenis gewees het.

Dit is ‘n formidabele lys belangeprestasies wat instellings wat deel van die Solidariteitbeweging uitmaak reeds gemaak het om reg en geregtigheid te laat geskied.

Die ironie is, op die vooraand van ‘n internasionaliseringsaksie  van Solidariteit en AfriForum, is hierdie instansies en hul leiers glad nie eens in Steenkamp se artikel genoem is, of geraadpleeg is nie.

‘n Filosoof mag dit miskyk, maar ‘n politieke wetenskaplike wat sy sout werd is nie … ontneem ‘n groep hul geleentheid om  hul natuurlike politieke leiers te laat ontwikkel en beduidend gesag uit te oefen, en ‘n teelaarde vir radikalisme word geskep. Dan gedy instansies soos die IRL en die selfs radikaler INLA, dan loop verskeie lande onder Koerdiese terreur deur, dan blaas Baskiese ETA-lede ‘n Spaanse generaal op dat hy met motor en al oor ‘n katedraal “vlieg.”  Ondervang die behoefte, en dié groepe kwyn oor die algemeen. ETA het verlede jaar reeds sy “gewapende stryd” opgeskort terwyl die Baske selfs meer outonomie as die Kataloniërs geniet, deur onder meer fiskale magte te hê. Die IRL-leiers is nou deel van die hoofstroompolitiek…

Dit is interessant dat Max du Preez wat die huidige situasie vir die Afrikaner as “fine” ervaar in ‘n onlangse artikel die lof van Ethiopië se etniese federasie besing het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Japie Botha ·

Hier’s my werklikheid:
Die pertinente vraag wat ek my afvra is of die Afrikaner sy prioriteit tot oorlewing en veiligheid ondergeskik wil stel aan sy sin vir patriotisme? Ek is nie gebore in Suid Afria nie maar my ouers was albei Suid Afrikaners. Ek is in die destydse Rhodesië gebore en op ouderdom 9 het my ouers besluit dit is veiliger om liewer Suid Afrika toe te immigreer as om in Rhodesië te bly. Daarvoor is ek hulle ewig dankbaar aangesien daar geen toekoms vir my in my geboorteland was nie. Na 37 jaar herhaal die geskiedenis homself en besluit ek dit sal veiliger wees om Suid Afrika te verlaat, tenspuite van my eie patriotiese gevoel teenoor Suid Afrika.

Is Afrikaners leierloos? Miskien moet ek jou vra of jy oor jou eie lewe wil beheer neem en of jy wag vir iemand om jou te sê wat om te doen. Ek is bly vir die wat besluit hulle bly in hulle geboorteland en gaan nie ‘weghardloop’ nie. Ek is destyds uitgekruit as n weghardloper deur my nuwe mede Suid Afrikaners. Ek is ewe bly vir die wat besluit hulle gaan die land verlaat omdat hulle nie n toekoms vir hulle kinders sien in n land wat oorgeneem is deur n geslote groep gierigaards wat bedorwe is deur korrupsie en geldhep. Die nasionale aanslag op vooruitgang, ontwikkeling en groei in Suid Afrika word uitgevoer deur n groep wat onbewus of doelbewus ontkennend staan teenoor die agteruitgang. Terwyl hulle hulself verryk in die naam van regstelling, vergaan die land in n wolk van regressie. Almal loop deur, wit, bruin en swart. En terwyl die mense probeer kop bo water hou gaan die land gebuk onder n stelselmatige vergaan weens die plunder gesindheid van die huidige leiers. Terwyl die wielmoere net los is voel dit oënskynlik of daar niks fout is nie. Sodra die moere uitval dan val die wiel dadelik uit en is dit te laat om te reageer. Toe ek so swaar gekry het in Suid Afrika het ek my geskaar by organisasies soos Solidariteit al kon ek dit nie bekostig nie. Ek het hulle selfs gekontak om te hoor of ek nie n lid op een of ander manier kan word sonder die fooie nie? Hulle het my simmier weggewys en net daar het ek besef waaroor dit gaan.

Miskien het dit tyd geword dat indiwidue hul eie besluit neem rakende hul toekoms. Miskien verhoed dit dat n generasie die verkeerde ‘roete’ volg wat later jare hul voortbestaan bedreig. Ons wil niemand op ander neerkyk nie en miskien het my generasie te ver in daardie stroom afgeseil, en nou bedreig dit ons voortbestaan. Die probleem is dat ons n ander nasie so in haat gedompel het dat hulle nou die baba met die badwater wil uitgooi, hoe gouer hoe beter.

Ek bly nou in Australië al die afgelope 10 maande. My hart trek n punt as ek terug dink aan hoe lekker ek in Pretoria gebly het; die teaters, eetplekke, kultuur, boere gewoontes en tradisies, biltong en soveel meer. Maar, ek sal nooit toelaat dat my prioriteit tot oorlewing en veiligheid ondergeskik word aan my sin vir patriotisme nie. Stelselmatig is die wetsgehoorsame burgers ontwapen, kommandos wat die landelike bevolking beskerm het is tot niet gemaak, korrupsie het die hoogste range geinfiltreer en selfs die polisie het n bedreiging tot veiligheid geword. Terwyl ek daar was het ek nie perspektief gehad oor hoe erg dit is nie. Nou is ek onder dit uit en besef ek hoe groot impak dit het op almal in Suid Afrika en veral op my eie ou volkie wat so gewoond was aan dissipline en orde.

Die grootste deurbraak het gekom toe ek vrede gemaak het met die besef dat dit nooit weer dieselfde sal wees nie. Die dissipline is weg, die kultuur kwyn onder die onderdrukking van wetgewing wat uit haat bestaan. My kultuur word bedreig deur gierige skurke wat ongelukkig in beheer is. Ek is weerloos teen die monster wat ek self tot n sekere mate gekweek het nl. haat. Maar ek glimlag, want ek ry in die verre binneland van Australië en op die motor radio sê n advertensie:” Come toe midlands butchery for your biltong, the ideal barbie snack that’s delicious for all.” En ek besef, al is my land in pleister en verband toegedraai sal my kultuur voortleef want dit is n goeie kultuur. So n goeie kultuur dat dit selfs die magtige Australië beinvloed. Nou gaan ek net so n goeie Australiër word as wat ek n goeie Afrikaner is. Ons vir jou Suid Afrika .

Groete uit Young NSW Australië

Japie Botha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.