Nuuskommentaar: Linkse opmars?

In Suid-Afrika word met bekommerde oë gekyk na die opmars van die linkse Numsa, wat volgens sommige kenners in sy links-radikalisme die SAKP behoorlik na die kroon steek. Trouens, die SAKP se leierskap is skynbaar volledig deur die ANC se soustreinryers gekaap. En na sy uithaak voor die DA se optog na Cosatu-huis, is min Suid-Afrikaners nie meer bewus van Numsa se bekkige Irvin Jim nie.

En sommer net vir ‘n encore het die ANC-jeugliga-onderleier, Ronald Lamola, die boere se moermeter ook weer goed in die rooi in opgejaag.

Suid-Afrika is gewoonlik nie danig bekend daarvoor dat dit in pas is met die hoofstroom politieke denke van die wêreld nie. Na die ineenstorting van kommuniste feitlik oral ter wêreld, is die Suid-Afrikaanse kabinet behoorlik gelaai met kommuniste, met onder meer belangrike ekonomiese portefeuljes soos Finansies, ekonomiese ontwikkeling en landbou wat SAKP-lede aan die stuur het.

Soos die grappie lui. Wanneer ‘n vliegtuig uit die buiteland Johannesburg nader, kondig die kaptein aan: “Ons land binnekort op Oliver Thambo, Suid-Afrika. Draai u horlosies dertig jaar terug.”

Maar is Suid-Afrika werklik so agter by wêreld-ideologiese denke?

Volgens buitelandse media is daar nou al verskeie jare ‘n poging om weg te beweeg van ‘n denkwyse dat politieke ideologie op ‘n reguit lyn van links na regs geplaas word. In ‘n volwasse politieke demokrasie is politieke beleid in teorie iets wat eerder iewers in ‘n sirkel voorkom. Ideaal sal ‘n party sekere beleidsrigtings kan hê wat  volgens die konvensionele denke links kan wees, en ander beleidsrigtings wat regs kan wees. Koalisievorming kan dan vreemde bedmaats oplewer wat volgens die ou oos-weslyn, net nie sin maak nie.

Die uitgediende koalisie van Nederland sou ‘n goeie voorbeeld wees. Hier het die Christen-demokrate van die CDA, wat as konserwatief beskou word, ‘n koalisie gevorm met die Partij van de Arbeid wat eens die linkse Joop den Uyl opgelewer het, en om die knoop deur te haak is die gedoogde steun van Geert Wilders se regse party ingespan. Dis ‘n koalisie wat nie gehou het nie toe Wilders uitgestap het.

Met die aanbreek van die wêreld-ekonomiese krisis sou tipies verwag word dat kiesers wêreldwyd se koppe weer links sou draai, na daar in groot dele van die wêreld ‘n ruk lank ‘n beweging na regs was, en selfs in sekere gevalle ekstreem regs beduidende opgang begin maak het, soos Swede, Nederland en Finland. In baie Europese lande is die kredietwaardigheid in markverwante ekonomiese stelsels probeer beredder deur etiese norme in partye se beleid in te skryf, met waarskynlik die Vlaamse party, die CD & V wat die omvangrykste hoofstukke in die partybeleid ingeskryf het.

Maar meestal is gematigd regs vordering getoon soos juis in Vlaandere. Suid-Europa reageer effe anders as Noord-Europa, met die lyn wat skynbaar tussen Vlaandere en Wallonië deurloop. Terwyl die Vlaminge regs beweeg het, het die Wale die sosialiste ingestem en uiteindelik kon die Franssprekende sosialisteleier ‘n koalisieregering vir België vorm. Frankryk het  die sosialis François Hollande tot president verkies. Maar betreklik onlangs het Spanje sy sosialistiese regering uitgestem en regs beweeg. Die vorige bewind se liberalisering van aborsiewette in ‘n Rooms-Katolieke land het skynbaar sy tol geëis, ‘n soortgelyke tendens as wat nou in die VSA ervaar word waar Barack Obama se herverkiesingsvooruitsigte nie aldag rooskleurig lyk nie.

Met die eerste rondte van die Franse parlementsverkiesing agter die blad, lyk dit of Frankryk ook nou ‘n parlement gaan kry wat sosialisties neig. Die sosialiste gaan na die tweede rondte blykbaar nie ‘n volstrekte meerderheid hê nie, maar dit lyk of die knoop met die steun van die verwagte skamele 13 tot 20 setels van die Linkse Front deurgehaak kan word.

Maar tipies van hoe daar gewaak moet word om links en regs simplisties te beskou, was dit nie ‘n regse leier wat die hardste geluide teen Assad se menseslagting in Sirië gemaak het nie, maar Hollande, wat waarskynlik in ‘n oomblik van onervarendheid selfs die moontlikheid van militêre ingryping nie uitgesluit het nie. Toe die Franse parlement verlede jaar die ontkenning van die Armeense volksmoord strafbaar verklaar het, en so Turkse woede ontlok het, was dit die linkse partye wat die knoop vir die resolusie deurgehaak het.

Die goue draad wat wel deur die swaaie loop, is die kwessie van inkomstegaping, en meer spesifiek die walglike inkomstes, soos ‘n koerant dit in sy hoofartikel uitgedruk het terwyl baie werkloos is of in armoede verkeer, wat die gemoedere laat kook. Dit stimuleer nie noodwendig oral sosialisme nie, maar partye wat deur versuim in  uitsprake dit laat lyk of dit hul goedkeuring wegdra, word uiteindelik gestraf – of hulle links of regs is.

Of dit bankbase is, soos by Icebank, Fortis en nou onlangs by Suid-Afrikaanse banke, of uitvoerende bestuurslui van groot maatskappye wat die Wall Street-protes begin het wat wêreldwyd versprei het … ‘n groot bewustheid het posgevat.

Argumente dat bekwame entrepreneurs en doeltreffende bestuurslui behoorlik vergoed moet word om die ekonomie doeltreffend te stimuleer en werksgeleenthede te skep, verloor eenvoudig in die onderste spektrum van die ekonomie stoom as bake hul base nog beter vergoed, terwyl werkers afgelê word en takke gesluit word en die publiek se bankkostes verhoog word. Ongehoorde bonusse vir bestuurslui in semi-staasinstellings terwyl die ekonomies afgeplatte publiek ver bo inflasie-verhogings vir elektrisiteit moet opdok, laat die bottel iewers bars.

Wanneer munisipale bestuurders se jaarlikse vergoeding meer as R3 miljoen word, en die werkers se vakbonde loop hulle vas in ‘n toe hand en inflasieverwante verhogings en dus salarisse van minder as R2 000 per maand, word ‘n adder aan die boesem vertroetel. Wanneer al meer en meer mense weens die verhoging in koste nie meer die mas opkom nie, word die druk buite-verhouding op die middelklas en pensioentrekkers verplaas, wat ook ekonomies agteruit boer.

Dan klink die radikale uitsprake van ‘n Irwin Jim vir baie soos musiek. In ‘n land waar die oorheersing van die ANC vele elemente van ‘n eenpartybedeling laat geld, is Jim se lawaai iets waarvan kennis geneem moet word. Sommige bronne dui al ‘n paar jaar lank aan dat Suid-Afrika Brasilië as land met die grootste meetbare inkomstegaping verbygesteek het, en dat, anders as in Brasilië, die inkomstegaping vergroot. Die probleem is dat dit nie tot die generators in die produktiewe sektor beperk word nie, maar dat burokrate in die onproduktiewe sektor hierby kers vashou, en dat daardie soustrein al langer word. En volgens die model van relatiewe deprivasie, en veral die persepsies daaroor, word ‘n rewolusionêre klimaat gevoed. Jim is bloot die manifestasie daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.