Nuuskommentaar: Lonmin – Alles wat blink is nie platinum nie, maar ruik na Sharpeville

Foto: Taurai Maduna/EWN

Twee en vyftig jaar gelede het die Britse Premier, Harold McMillan, baie Suid-Afrikaners se bloed laat kook met sy “winde van verandering”-toespraak in die Suid-Afrikaanse parlement. Ook twee en vyftig jaar gelede bestorm tussen 5 000 en 7 000 PAC-ondersteuners die polisiestasie in Sharpeville en minute later lê 69 dooies om die stasie.

In 2012 lewer die voormalige Ierse president en VN-menseregtehoof, Mary Robinson, in Kaapstad die Nelson Mandela-gedenklesing wat deur die media met die “Winde van Verandering”-toespraak vergelyk word. Kort hierna skiet die polisie by die Lonminmyn by Marikana op ‘n groep betogers, en ‘n minuut later lê na berig word 25 mense dood.

Om nou by wyse van spreke klippe te gooi, is voortydig en die verloop moet eers behoorlik, maar spoedeisend ondersoek word. In dié stadium lyk dit volgens beeldmateriaal wat die wêreld ingestuur is, of ‘n polisievoertuig agter stakers aangery en hulle met traangas bestook het. Die vlugtendes het in die proses op ‘n groepie polisiemanne afgestorm wat begin skiet het. Volgens ander berigte het die stakers, waarvan ‘n paar met vuurwapens gewapen is, eerste op die polisie begin skiet. Teen gisteraand is beeldmateriaal oor die gebeure reeds internasionaal versprei.

Die tragiese gebeure by die Lonmin-platinummyn in Noordwes is ‘n kwessie wat met groot omsigtigheid aangepak moet word. Die konteks strek van plaaslike omstandighede, tot die ganse veld van vakbondwese, tot die internasionale ekonomie, en is terselfdertyd ineengeweef. Maar hoe lyk die fisiologie van die toestande wat tot die gebeure aanleiding gegee het?

Plaaslike omstandighede

Myne landswyd, en selfs uitgediende myne, kom nou gereeld onder skoot oor kwessies soos plaaslike indiensneming en herinvestering in die omringende gemeenskappe. Ook Lonmin spring nie vry nie, en hoewel verskeie platinummyne te midde van ‘n knellende lae platinumprys ruim in die omringende gemeenskappe terugploeg, is verwagtinge by die omringende gemeenskappe hemelhoog weens politieke uitsprake oor ongekende rykdomme, sou daar genasionaliseer word.

Dit is moontlik dat die opruk van vroue ter ondersteuning van die stakende mans ook gevoed is deur die gedagte dat die myne omstandighede buite die myntonnels moet verbeter.

Voorts begin gemeenskappe al hoe meer daarop staan dat myne top-mense moet stuur om te onderhandel – iets wat dikwels moeilik is omdat die werklike grootbase nie in die land woon nie.

Vakbondpolitiek

Die NUM is Cosatu se grootste deelnemende vakbond, en word oorheers deur mense wat pres. Jacob Zuma in die ANC se leierskapstryd steun. Die NUM het baie lede aan Cosatu se nog radikaler filiaal, NUMSA begin afstaan, maar op die platinummyne ook lede aan die radikale, onverbonde vakbond AMCU. Die magstryd tussen AMCU, en die NUM wat erken dat hy sy belange verwaarloos het, word as die grootste knelpunt in die platinumgeweld beskou.

‘n Deel van die blaam moet geplaas word op arbeidswetgewing wat die vakbond wat die status as verteenwoordigende vakbond geniet, besondere voordele gee. Daar is dus meer op die spel as bloot ‘n groter lidmaatskap as die ander.

‘n Behoorlike ondersoek sal ook aan die lig bring of daar ‘n werklike bevooroordeeldheid van die polisie, waarvan baie Popcru-lede is, teenoor die NUM-lede by die myn is, of selfs net so ‘n persepsie is. Beide Popcru en die NUM is by Cosatu geaffilieer, wat weer deel van die ANC-alliansie uitmaak. Of daar ‘n vooroordeel was of nie, dit onderstreep die probleme as vakbonde regstreeks polities geaffilieer word, en veral as lede van die gewapende magte via vakbonde struktureel by ‘n politieke party ingebind word.

Die platinumprys

In Julie vanjaar tot gister het die gaping tussen die goudprys en die prys van platinum tot meer as $200 per fyn ons gerek – terwyl platinum lank duurder as goud was. Dit word hoofsaaklik aan ‘n ooraanbod van platinum aan ‘n wêreldmark toegeskryf, ‘n mark wat ook onder druk is.

Suid-Afrika, wat sowat 80% van die wêreld se platinum ontgin, het gedurende 2011 sy produksie met 5 % verhoog. Dit was ten spyte daarvan daar in 2011 reeds ‘n groot surplus aan platinum op die wêreldmark was. Platinum word egter nog grootliks industrieel aangewend, wat beteken die vraag hang baie van die wêreld-ekonomiese klimaat af. Terselfdertyd het Zimbabwe ook sy produksie op die Zimbabwedyk verhoog.

Nogtans was die verwagting dat die platinumprys vanjaar teen ‘n gemiddeld van $1 600 per fyn ons sou verhandel. Tydens die stakings van Februarie het die prys wel teen sowat $1 700 per fyn ons gaan draai, maar tensy daar nou ‘n groot herstel kom, is $1 600 ‘n hersenskim. Tot gister het dit gereeld onder die $1 400 per fyn ons geboer. Met gister se geweld het die prys met meer as $44 per fyn ons gestyg, en teen gisteraand teen meer as $1 437  verhandel.

Platinum se prys verbeter gewoonlik ook wanner ru-olie se prys verhoog, omdat beide aan ekonomiese beterskap gekoppel is. Brent-ru-olie het gister in ‘n stadium bo $117 gedraai Die styging word die Mario Draghi-bons genoem. Draghi is die president van die Europese Sentrale Bank, en die man aan die stuur van Europa se pogings om die skuldkrisis af te weer. Hoe suksesvoller dit lyk of hy is, hoe beter raak die kanse dat die Europese ekonomie minstens nie sal verswak nie, en die vraag na ru-olie veral in die aanloop tot die noordelike winter sal toeneem – en die pryse styg, aldus Phil Flynn, ‘n mark-analis van PRICE Futures Group in Chicago. Die oorlogspraatjies uit Israel om Iran oor sy kernprogram op sy plek te gaan sit, speel egter waarskynlik ‘n groter rol dat olie styg. Die ironie is dat Israel se oorlogspraatjies teen Iran eintlik vir die VSA se ore bedoel is, mar die hele wêreld luister en reageer.

Net soos die Israel-Irankwessie die olieprys buite-om die wêreldekonomie se stand affekteer, raak die huidige situasie by Lonmin, die wêreld se derde grootste platinummyn, ook die internasionale platinumprys.

Die myne se knyptang

Hoewel daar ‘n skerp toename in vraag na platinum in die tegnologiese bedryf  is, maak dit slegs twee derdes op van  die afname wat weens ‘n verswakking in die motorindustrie ingetree het. Platinum word wel intensief as materiaal vir juweliersware bemark – en is inderdaad sterker as goud maar kon nog nie buite China ‘n stewige hou inkry nie, en platinum kon hom ook nog nie soos goud as beleggingsversekering vir swak valuta vestig nie.

Hoewel die mynbase elk op hul eie platinumhope koning kraai en so samespanning uitskakel om oorproduksie te voorkom, is dit ook struktureel vir myne moeilik om produksie te ver af te skaal. Amplats se raffinadery werk byvoorbeeld teen sowat ‘n miljoen onse per jaar laer as sy optimale vermoë. Dit is ook ontsettend duur om groot marginale myne wat tydelik gesluit word weer in produksie te stel as die prys weer lonend word, en ongelukkig is dit juis hierdie myne wat die grootste produksie lewer, en hul produksie aansienlik kan vergroot as die aanvraag styg.

Implikasies vir Suid-Afrika

Die algemene sekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, waarsku dat Suid-Afrika weens die onrus en lewensverlies buitelandse beleggers kan skok – en nie net in die platinumbedryf nie. Beeld stel dit so in sy hoofartikel vanoggend: “Beleggers in die mynbedryf is reeds sku vir die politiek in die land. Skokke soos hierdie gaan die vrae oor die land se politieke stabiliteit – en dus die veiligheid van beleggings – onder die huidige regering net verder aanblaas.

“’n Mens kan vra waar was die ministers van arbeid, van minerale hulpbronne en die minister van polisie toe dit duidelik geword het dat die beleg van sowat 500 myners breekpunt bereik.”

Maar Suid-Afrika ken die rollende effek van onrus wat soos domino’s van die een instansie en plek na die ander kan versprei. Voor gister se bloedbad het reeds tien mense, waaronder twee polisiemanne, in die onrus by die myn omgekom.

Oplossings

Dit is duidelik dat die situasie in Suid-Afrika se mynwese te kompleks is om gefragmenteerd aan te pak en om die beste kundiges uit te sluit.

Dit is tyd dat die regering na die advies van instansies soos Solidariteit luister en probleme oor ‘n wye spektrum begin aanspreek – van haakplekke in arbeidswetgewing, tot gemeenskapsbetrokkenheid tot verantwoordelike regering met beleggingsvriendelike beleidsrigtings.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae