Nuuskommentaar: Lonmin, die intelligensiedienste en ander spookstories

Foto: Taurai Maduna/EWN

Namate die ergste kruitdampe by die Lonminmyn by Marikana deur die wind verwaai word, hoe meer vrae word gevra oor hoe paraat die land se intelligensiedienste, of te wel spoke, was om die ramp af te weer.

Om die konteks te verstaan is dit nodig om eers te kyk na die ideale intelligensiediens in ‘n middelslagland soos Suid-Afrika, en dan na leemtes in die praktyk te kyk.

Vir die doeleindes van hierdie bespreking word met “intelligensiediens” bedoel wat gewoonlik verstaan word as ‘n intelligensiediens wat buitelands fokus soos die CIA, en ‘n geheime diens wat binnelands fokus, asof dit een geheel is.

Wat is intelligensie?

“Intelligensie” soos verstaan in die intelligensiegemeenskap is in werklikheid ‘n swak vertaling van die Engelse woord, intelligence. Dit behels die versameling van rou data (information), die behoorlike evaluasie daarvan en die giet daarvan in inligtingsverslae (intelligence reports) waar feite en gevolgtrekkings streng geskei word, en waar ‘n waardebepaling aan die betroubaarheid van die inligting geheg word. Dit het dus weinig met “intelligensie” soos deur IK-toetse bepaal in gemeen.

So loop die spoke

Ideaal gesproke doen die hoof van ‘n intelligensiediens verantwoording aan die regeringshoof, en nie ‘n minister in die kabinet nie. Die hele kabinet word egter as die primêre kliënt beskou, en kabinetslede kry dus ook die verslae, veral as dit op hul portefeuljes betrekking het. ‘n Ware intelligensiediens het self geen uitvoerende magte nie, en samel relevante inligting in, verwerk en evalueer dit, vertolk dit op senior vlak, en gee dit dan aan die kliënt. ‘n Intelligensiediens is veronderstel om volkome politiek-onverbonde te wees, en om ten alle tye net die waarheid te rapporteer, al weet die diens dat die inligting ongewild gaan wees. Dit rapporteer goeie en slegte nuus, want ‘n intelligensiediens wat slegs die goeie nuus rapporteer, doen sy land geen guns nie.

Intelligensiedienste is dus nie gewild by politici nie.

Die mense wat die evaluasie doen, is vakkundiges oor ‘n wye verskeidenheid vakgebiede wat dikwels self vir veiligheidsredes taamlik gekompartimentaliseer van mekaar kan werk, sodat die integrasie van inligting en  vertolking op hoër vlakke deur ervare en kundige mense gedoen word.

Daar is swakhede in so ‘n model. Die proses is so sterk soos sy swakste skakel, en ‘n persoon wat lyf wegsteek, of lank siek is, kan veroorsaak dat broodnoodsaaklike inligting nie in die pyplyn beland nie. Soos elders in die staatsdiens geld die fiksiebeginsel ook hier, naamlik dat die persoon in die hoër rang altyd meer of beter as die kundige laer af in die pyplyn is. Veral evalueerders word dus geleer om afskrifte van hul verslae te hou – ook dit wat deur hoër gesag afgeskiet is, want as hy reg was en die baas verkeerd, moet hy homself doeltreffend kan verweer.

Word na die Suid-Afrikaanse intelligensie-opset gekyk, lyk die prentjie baie anders as die ideaal. Die Staatsveiligheidsagentskap wat die intelligensiestrukture groepeer, doen aan ‘n minister Siyabonga Cwele, en nie die president nie, verslag.  Uit beskikbare inligting lyk dit of Cwele sterk politieke invloed in die intelligensiedienste voorstaan, wat onder meer daartoe gelei het dat verskeie van die top-rolspelers hul hoed gevat en geloop het.

Baie senior politici binne en buite die ANC, het al openlik beweer dat daar op hulle gespioeneer word en dat hul telefoongesprekke meegeluister word.

Onder diegene wat bedank het tel die hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, Jeff Maqetuka, die hoof van die Geheime Diens, Mo Shaik en die hoof van die Nasionale Intelligensieagentskap, Gibson Njenje. Boonop is die hoof van Misdaadintelligensie, Richard Mdluli, ook geskors.

Kenners is dit egter eens dat die wegstroop van die dienste se hoofde nie die dienste so nadelig behoort te geraak het soos wat dit op die oog af lyk die geval was nie.

Het die spoke in hul spore getrap?

Uit die Lonmin-voorval en ander sake soos Limpopo en ander provinsies se boekekrisis, en diensleweringsbetogings na ernstige probleme ontstaan het, is dit ‘n redelike afleiding dat een van twee dinge, of beide gebeur: Of die intelligensiedienste slaag nie daarin om  die owerhede ingelig te hou oor probleme wat ontstaan, ontwikkel en ryp broei nie, of die regering word wel ingelig maar reageer nie op die verslae nie.

Word gekyk na die deeglike inligting wat regstreeks na die Lonmin-slagting in openbare domein en die media was, is dit haas ondenkbaar dat die intelligensiedienste so aan die slaap kon wees soos wat beweer word. Die volgende inligting was dadelik in die openbare domein beskikbaar:

–       Teen die agtergrond van die land se problematiese inkomstegaping was dit “bekend” dat Lonmin se rotsboorders se salarisse besonder klein is. Dit het later aan die lig gekom dat hierdie inligting vals was, en die gevolg was van ‘n enkele leuen wat van mond tot mond en publikasie tot publikasie gespring het voor iemand die werklike feite bekom het. Dat die leuen so lank – in intelligensieterme – kon losloop is ‘n klad op die ganse intelligensiebestuurstelsel se naam.

–       Dit was bekend dat die platinumbedryf nie oor ‘n behoorlike kollektiewe platform vir onderhandelings, soos byvoorbeeld die goudmynbedryf beskik nie, en dat baie ongelykhede tussen die myne voorgekom het.

–       Dit was ook lank reeds bekend dat die NUM ‘n eliteklas ontwikkel het, wat op die oog af belangstelling in die werkers, en veral die laaggeskoolde werkers begin verloor het. Die persepsie bestaan nietemin reeds wyd dat die NUM hom nie meer by die laaggeskooldes skaar nie.

–       Hierdie elitisme het tot die dinamiese groei van AMCU gelei, wat nie deel is van Cosatu, en dus die ANC nie. Waar die NUM sy vergaderings in Engels hou, hou AMCU sy vergaderings in Fanaglo, en spreek so die laaggeskooldes doeltreffender aan.

–       Dit is bekend dat daar ‘n lang gespanne geskiedenis tussen Amcu se stigter Joseph Mathunjwa en en die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe is, waar Mantashe volgens  berigte ‘n veldtog van viktimisasie gevoer het. Dit plaas die ANC se leierskapstryd vierkantig in spel aangesien Mantashe ‘n duidelike Zuma-lojalis is, en so ook die NUM se topbestuur.

–       Num het met sy kongres vroeër vanjaar reeds die hand diep in eie boesem gesteek en die probleme wat AMCU se groei stimuleer bespreek – maar in die praktyk nie noodwendig iets daaraan gedoen nie. Dit is onmoontlik dat die intelligensiedienste nie hiervan kon weet nie, en nie die gevaartekens kon sien nie, ongeag hoe swak die intelligensiediens ook al kon wees.

–       Weens die strategiese belang van veral sekere Suid-Afrikaanse mynsektore is dit ‘n gegewe dat verskeie oorsese intelligensiedienste die situasie op die Suid-Afrikaanse myne baie deeglik sou monitor en ken, en dié inligting sou ongetwyfeld na die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste, en waarskynlik ook die regering self, deurgegee gewees het. Dié praktyk kom algemeen wêreldwyd voor. Die staking aan die begin van die jaar by Implats het die platinumprys skerp laat styg wat ‘n groot impak op die VSA sou hê waar platinum in uitlaatkatalisators gebruik word, en China waar dit in veral die IT- en juweliersbedryf ingespan word. Waar die gaping tussen die goudprys – wat nou al lank hoër as platinum is – voor die Lonmin-skietery meer as $200 per fyn ons was, het die platinumprys daarna veel skerper as die goudprys gestyg en was die gaping gistermiddag $124. Vanoggend het platinum nog bo $1 500 per fyn ons verhandel terwyl dit voor die skietery effens onder die $1 400 was.

Die regering het egter ‘n totale indruk van onbegrip getoon. In die parlementêre debat het die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, na berig word daarop aanspraak gemaak dat sy voor die Lonmin-skietery nog nooit van AMCU gehoor het nie. Selfs in die onwaarskynlike geval dat sy nooit ‘n intelligensieverslag oor AMCU onder oë gehad het nie, is dit ondenkbaar dat sy nooit in ‘n koerant van dié vakbond met sowat 50 000 lede sou gelees het nie, en wie se optrede vroeër vanjaar tot die Implats-staking gelei het. Haar eie departement is immers ook verantwoordelik om aan haar verslag te doen oor sake van belang. ‘n Minister, en veral die minister wat vir mynwese verantwoordelik is, behoort met so ‘n erkentenis haar goedjies te vat en te loop.

In die finale instansie sal daar met ‘n ondersoek vrae wees oor die doeltreffendheid van die plaaslike Gesamentlike Operasionele Sentrum.

Teelaarde vir spookstories

In die wêreld van spoke is die werklikheid dikwels vreemder as fiksie. Die baie vrae wat nou oor die rol, of afwesigheid van die rol van die intelligensiedienste gevra word, skep ‘n ideale teelaarde vir spookstories. Dis byna onmoontlik om sonder eerstehandse inligting te bepaal wat gebeur het, en dié wat weet sal deur wetgewing gesnoer wees. Tog is daar baie sterk aanduidings wat sekere aspekte kan belig.

Die ooglopende gaping tussen die kennis in die media en by akademici aan die een kant, en die kennis van die regering aan die ander, skep die indruk dat  gefrustreerde buitelandse intelligensiedienste die inligting waaroor hulle beskik het aan sogenaamde “stringers” gevoer het. “Stringers” is meningsvormers, dikwels joernaliste, wat deur buitelandse intelligensiedienste inligting gevoer word met die idee dat dit in die “stringer” se land versprei word, sodat die buitelandse moondheid  se belange gedien kan word. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n beweerde “stringer”-aksie was tydens die nuushoogtepunt oor Somaliese seerowers, toe daar ‘n berig verskyn het wat op beweerde bande tussen die seerowers en Hamas dui. Die vermoede is dat Mossad gemeen het ‘n berig wat Hamas met die wêreld se ergste muishonde assosieer sou Israel se saak net goed doen.

Indien “stringers” wel met Lonmin ingespan is, sou die implikasie wees dat buitelandse moondhede, of ‘n moondheid, gehoop het dat die inligting wat iewers in die plaaslike intelligensiedienste of kabinet gebottelnek word, betyds in die media sou wees om die regering tot sinvolle aksie aan te spoor en die ramp af te weer.

Intelligensiedienste wat van “stringers” gebruik maak, wyk af van die klassieke styl dat ‘n intelligensiediens nie self oor uitvoerende magte behoort te beskik nie. Sulke dienste speel hul kaarte, soos die orkestrasie van staatsgrepe, so teen die bors dat hulle byna nooit ander dienste, selfs in hul eie land, vir die verifikasie van inligting raadpleeg nie. In ‘n klassieke geval het ‘n staatsgreep in ‘n eilandstaat op ‘n mislukking uitgeloop omdat die betrokke diens wat dit gefasiliteer het nie van inligting geweet het wat in hul eie land in die koerante was nie.

Gaan die spoke in die kas bly?

Of Suid-Afrikaners ooit sal weet hoekom die owerheid skynbaar blind opgetree het, is moeilik om te bepaal. Daar is goeie redes hoekom die inligting waarmee intelligensiedienste werk geklassifiseerd is, soos bronne wie se lewens in gevaar is.

Selfs in Nederland het die intelligensie-owerheid gekla dat sy hande agter sy rug vasgebind is om hom in ‘n meeluisterskandaal in ‘n ope hof te verdedig.

Dit sal baie jammer wees as dié noodsaak van vertroulikheid daartoe sal bydra dat onbekwame politici met bloed op hul hande gaan wegkom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leon ·

My enigste kommentaar oor hierdie aangeleentheid is wat ek vroeer gese het op julle nuusblad – hier is n derdemag by betrokke wat onmin en gaos wil veroorsaak, om eerstens die land onregeerbaar te maak deur die minder bevooregtes op te sweep – ek is bevrees sonder om pessimisties te wees het hulle te lank gewag om van die karakter Malema ontslae te raak hy word deur hierdie sogenaamde derdemag aangevuur om annergie en konflik te veroorsaak – hierdie man het ongelukkig oor n tydperk vir hom n stewige volgelinge netwerk opgebou selfs sy skorsing uit die Anc wat te laat was het geen inpak gemaak nie inteendeel dit het net sy volgelinge getalle groter gemaak wat die situasie vererger.

Moenie verbaas wees as die sogenaamde intelligensiediens wat in die artikel genoem word ook n groot aandeel daarin het nie dalk, was of is hulle self daarby betrokke – is hulle nie dalk die spook waarna verwys word wat stilletjies in die agtergrond alles fyn dophou en graag wil he die bom moet uiteindelik bars nie? – Zuma se dae is getel – ‘mark my word’ die volgende president oor 5 jaar is ene Mnr Malema as gevolg van al sy volgelinge wat hom beslis na die troon sal ondersteun, as die land nie dalk al teen daardie tyd in vlamme opgegaan het nie soos wat ou siener van Rensburg voorspel het, en snaaks genoeg het hy ook voorspel die arbeidsonrus sal uit die weste van die ou destydse Wes Transvaal kom wat tot geweldige konflik en bloeddverleise gaan ly – is dit nie dalk die begin daarvan nie- wie weet? en is Steve Hofmeyer nie dalk ons blankes se verlosser nie? ek hou nie van die man se musiek nie maar hou baie van sy karakter in die manier hoe hy die politieke situasie in die land benader en opsom.

Al wat ek daarby wil byvoeg God is in beheer Hy weet en ken die daeraad van wereld en die mens vooruit

Groetnis

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.