Nuuskommentaar: Loslitdag en Woolies se rasdebakel

Geskryf deur Herman Toerien, wie se 19jarige seun, Jandré, outisties is. Ontmoet Jandré se sonskynkarakter deur sy kunsewerke van helder kleure, soos hierdie herskildering van ‘n werk van die Duitse kunstenares, Rosina Wachtmeister.

Vandag is loslitdag, met die tema: “Kom aan boord.”

Loslitdag gedenk tegelyk diegene onder ons wat met gestremdhede leef, en samel ook fondse in vir dié mense.

Die term “persoon met gestremdheid” word hier verkies bo die term “gestremde,” omdat ‘n gestremdheid ‘n persoon nie noodwendig in sy ganse vermoë strem nie.

In die rasdebakel wat rondom Woolworths se aanstellingsbeleid losgebars het, is byna vergeet dat die wet en sy uitleg wat die omstredenheid veroorsaak het, ook voorsiening maak vir mense met gestremdhede.

Syfers oor hoeveel mense in Suid-Afrika met gestremdhede leef wissel baie van bron tot bron, soos blyk dat daar tussen die sensus van 2001 en die sensus vyf jaar tevore sowat ‘n miljoen mense met gestremdhede “verdwyn” het. Meestal word die syfer in die koers van 5 persent van die bevolking gestel, wat ook min of meer die internasionale norm is, wat beteken dat sowat twee en ‘n half miljoen mense in die land met ‘n gestremdheid leef, of multi-gestremd is.

Gesiggestremdes maak ongeveer 32 persent uit van die mense met gestremdhede, 30 persent het ‘n fisiese gestremdheid, 20 persent is gehoorgestremd, 16 persent is emosioneel gestremd, 12 persent is  intellektueel gestremd, en sewe persent is kommunikasiegestremd.

Die regering se teiken vir die indiensneming van mense met gestremdhede is twee persent, ‘n teiken wat nog nie behaal is nie. Hoewel dit op die oog af onbillik klink dat daar so ‘n groot verskil tussen teiken en voorkoms is, is dit so dat nie alle mense met gestremdhede kan werk nie. Dikwels begin dié probleem jonk reeds skeeftrek deurdat daar ‘n groot tekort aan veral sekere kategorieë spesiale skole is. Volgens een syfer is slegs sowat 16 % van die kinders van skoolgaande ouderdom wat in skole hoort wat spesiaal na hul behoeftes omsien, wél in sulke skole. Sowat 30 persent van die volwassenes met gestremdhede het geen skoolopleiding nie, teenoor 13 persent onder die bevolking van mense sonder gestremdhede.

Armoede in die persoon met die gestremdheid se gesin speel dikwels ‘n baie groot rol in hoe goed toegerus die persoon eendag vir die werksvloer sal wees. Weens ‘n reuse tekort aan plek in skole wat na outisme omsien, is baie outistiese kinders van private onderrig afhanklik, wat tot R20 000 per maand kan kos. By outisme bied baie vroeë en baie duur intervensie die beste prognose, maar as die ouers dit nie kan bekostig nie, erf die gemeenskskap later ‘n persoon wat nog meer afhanklik sal wees.

Toegang tot, en beskikbaarheid van openbare vervoer is ook ‘n groot belemmernis vir persone met gestremdhede om beroepe te kan beoefen.

Boonop neem outisme, soos sekere ander toestande met ‘n genetiese herkoms baie toe, hoewel ontkenners ook op hierdie terrein doenig is. Die VSA sit reeds met die hande in die hare oor wat gaan gebeur wanneer die nuwe, groot getalle outismelyers die volwasse sorgsentrums begin toestroom.

In 1991 was ongeveer 6 uit tienduisend geboortes babas met outisme, teen 1998 was dit 12, teen 2001 was dit 42 en teen 2009 ‘n 100 per 10 000. Onlangse navorsing in Suid-Korea het dit veel hoër gestel.

Daar moet nooit die fout gemaak word om te aanvaar dat ‘n persoon met ‘n gestremdheid sonder meer nie geskik sal wees om te werk nie. Soms lei verliese van sekere vermoëns juis tot die opskerping van ander vermoëns en sintuie. By sommige gestremdhede kom splintervermoëns soms voor – vermoëns wat die persoon op daardie terrein op dieselfde of selfs hoër vlak as mense sonder gestremdhede plaas. Soms neem hierdie vermoëns die vlakke van briljantheid aan en word dan as savantisme geklassifiseer.

Op die oomblik toon Suid-Afrika se paralimpiese span weer aan die Olimpiese span hoe daar nou eintlik medaljes ingeoes kan word.

Die blote feit dat iemand ‘n gestremdheid het, beteken egter dat hy of sy agterstande het. Die persoon se noodsaaklike lewensmiddele is dikwels duur, maar die inkomste skraps.

Die persoon se drang na onafhanklikheid is dikwels aanprysingswaardig, maar iemand sonder ‘n gestemdheid wat op die parkeerplek vir persone met gestremdhede gaan parkeer, bly ‘n lae luis.

Gaan maak gerus ‘n draai by ‘n versorgingsoord waar engele na die bykans hulpeloses omsien. Let op die vriendelike gesig van die verlamde vrou wat pen in die mond die toetsbord aandurf, en jou met ‘n breë, vriendelike glimlag verwelkom – sodat jy skaam is dat jy gevoel het die lewe het die dag sy rugkant op jou gekeer.

Gaan kyk ‘n slag ‘n bietjie na die kaartjies wat een sorgsaam maak en waarmee hy of sy hoop om ‘n klein inkomstetjie bietjie mee aan te vul. Moenie net verbyloop nie. Selfs al koop ‘n mens niks, beteken ‘n paar woorde van aanmoediging en prys vir die persoon se selfbeeld die wêreld.

Kom ‘n slag aan boord van die wêreld van die persone met gestremdhede. Wees dan baie dankbaar vir elke gesonde ledemaat en funksionerende sintuig.

Jy kan môre self in ‘n rolstoel of met ‘n wit kierie dié wêreld binnekom …

Terwyl ons Woolies en ander so wikkel oor aanstellingsbeleide, wat van sommer ‘n bietjie roer om hulle wat kan werk maar wie se vermoëns misgekyk word, ook ‘n kans te gee.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae