Nuuskommentaar: Malema ‘n martelaar of pion?

Dat daar ‘n magstryd in die ANC woed weet almal. Selfs al sou daar geen spoor van gewees het nie, sou dit ondenkbaar wees dat daar nié ‘n magstryd is nie, want aan die einde van die jaar is pres. Jacob Zuma se kop op die blok, en iemand moet oorneem as die laksman raakgekorrel kry.

Op die oomblik geld daar ‘n moratorium op stemmingmakery vir die leierskap, en die stryd woed dus grootliks agter die skerms. Slegs Zuma het nog effektief vrye teuels om sy verkiesingsveldtog te voer.

As vasgestel kan word wie Julius Malema, veroordeelde haatspraakpleger en geskorste ANC-jeugligaleier finansier, sal daar al heelwat lig gewerp kan word op wat agter die skerms broei. Maar hét iemand werklik hierdie wilde perd as pion opgesaal? En as iemand dit gedoen het, het die persoon nie dalk ‘n fout begaan nie?

Intussen vertolk Malema sy rol as “martelaar” skitterend.

Oor ‘n wye spektrum is daar ‘n persepsie dat Zuma ‘n ramp is en dat die land hom en sy harem nie kan bekostig nie. Hy is nie net vir die land oorsee ‘n verleentheid nie, maar ook vir ‘n belangrike groep in die ANC wat hoog geskool is, en met gemak met die wêreld se mooi mense skouer skuur.

Dit is bykans ondenkbaar dat iemand uit hierdie geledere die vaagste gedagte sou koester om Malema in te span om hul kandidatuur te bevorder. Tog duik name soos Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa en Matthews Phosa gereeld op. Trouens, Phosa is al voor die media verneder omdat hy ‘n verhoog gedeel het met Malema waar hy Zuma as diktator beskryf het, sonder om die weerbarstige te betig.

Wat oop en bloot daar is vir almal om te sien en te hoor, is dat Malema en Zuma nou formeel in verskillende kampe is. Amptelik is Malema uit, en nie veronderstel om ‘n faktor in die leierskapstryd te wees nie. Die feit dat hy formeel buite die ANC staan, het sy hande egter skynbaar versterk – natuurlik so lank iemand hom uit die tronk kan hou, en kan finansier om oral oor die land aangesit te kom om vure te stook.

Of die bykans ondenkbare “moontlikheid.” Is hy nie dalk juis in Zuma se kamp nie, en besig om deur opruiende optrede sy vermeende borge en Zuma se teenstanders so erg te diskrediteer nie? Nie lank gelede nie, was Zuma en Malema nog hegte maatjies. Malema en sy Jeugliga het immers ‘n groot rol gespeel om van Thabo Mbeki ontslae te raak… Malema het in Botshabelo die verhoog met Zuma gedeel en gesê hy sal doodmaak vir Zuma. Zuma het in Malema se tuisdorp gesê Malema is ‘n toekomstige president van die land. Die land wou stik.

Nou is die eertydse kroonprins omtrent oral waar ‘n burger moeilikheid kan kry in die moeilikheid, maar hy kom steeds waar hy wil wees – ook oorsee waar hy in dieselfde hotel tuisgaan as ‘n minister, en hy slaag steeds daarin om die TV-nuus en koerantvoorblaaie te oorheers.

Met sy jongste veldtog is hy besig om die land ernstige skade te berokken soos myne wat nou lamgelê word. Die stakers wat aan die onbeskermde stakings deelneem ly groot skade, en so ook hul gesinne en uitgebreide families.  Solidariteit het gister nóg ’n strafregtelike klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen Malema, aanhangig gemaak.

“Die klag wat Solidariteit … teen Malema aanhangig gemaak het, sal by die klagstaat gevoeg word aangesien die vakbond reeds verlede week ’n klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen hom aanhangig gemaak het by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion. Dié stap is geneem nadat geweld by Gold One se Modder East-goudmyn by Springs uitgebreek het ná Malema mynwerkers toegespreek het. Solidariteit meen daar moet dringend opgetree word om te verseker dat Malema verhoed word om sy opruiende uitsprake en sogenaamde mynrewolusie voort te sit,” aldus Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit.

Indien Malema werklik as iemand se pion ingespan word, is dit nodig dat die land betyds weet wie dit is, want so ‘n persoon verdien nie om aan die hoof van hierdie land se regering te staan nie, al sê Malema, gestaaf deur die indeks van mislukte state, dat Suid-Afrika erg tender om ‘n piesangrepubliek te wees.

Die meer waarskynlike is dat Malema doodgewoon ‘n benoude kat is wat benoude spronge mak. Sy enigste hoop op die duur om weer die kroonprins te word is om betyds te kan terugkeer tot die ANC, en sy enigste hoop hiervoor is dat die ANC-kongres die einde van die jaar ‘n besluit neem om sy lei skoon te vee.

Maar ‘n beeld in die geestesoog van Malema en Zuma wat mekaar hartroerend by die kongres omhels en versoen, en sodoende alle teenstand vir Zuma van die tafel vee, wil ook nie wyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.