Nuuskommentaar: Malema, Zapiro, vryheid van spraak en die hof

In Suid-Afrika, waar die ander wigte en teenwigte, selfs dié wat goed werk, taamlik tandeloos is, is die howe egter dikwels onontbeerlik.

Vandag sou die betoë aangehoor gewees het van die haatspraakliedjie,  “Dubula iBhunu” (skiet die Boer) en “Dubula amaBhunu baya raypha” (skiet die verkragters/diewe), wat veral Julius Malema bekend en berug gemaak het. In plaas daarvan word ‘n skikking ‘n bevel van die hof gemaak.

AfriForum en die TLU SA het Malema hieroor voor die gelykheidshof aangekla, waar Malema deur die ANC ondersteun is, en ook as party appèl teen die skuldigbevinding aangeteken het.

Na bloedsweet is ‘n ooreenkoms  onderteken. Beeld haal prof. Koos Malan van Tuks soos volg aan hieroor: “Dit is die heel eerste keer sedert 1994, of dalk ooit, dat ’n ooreenkoms tussen die ANC-meerderheid en Afrikaner-minderheid gesluit word.”  Die skikking toon ’n verbintenis deur die partye tot dialoog en die bevordering van begrip vir mekaar se kultuurerfenisse en aspirasies.

Die ANC het ingevolge die skikking ooreengekom om hul lede te versoek om hulle van die sing van liedere te weerhou wat aanstoot gee. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het dit soos volg opgesom: “ANC-lede word wel versoek om liedere te vermy wat aanstoot gee. Ons is daartoe verbind om ’n nasie te bou wat vreedsaam saamleef.”

Dié skikking sal na verwagting vandag ‘n bevel van die hof gemaak word.

Dié verwikkelinge volg kort na pres. Jacob Zuma ‘n lastersaak teen die spotprentkunstenaar Shapiro teruggetrek het, ook ter elfder ure.

Die feit dat die twee sake nie tot die hoogste vlak bereg is nie, skep dus minstens ‘n mate van politieke onsekerheid oor waar die grense presies lê van vryheid van uitdrukking waaroor liberaliste sterk voel, en die ander kant van die munt van die reg op waardigheid en aspekte soos haatspraak.

Die grondwet erken vryheid van uitdrukking en die reg op (mens)waardigheid. Die grondwet beperk ook die reg op vryheid van uitdrukking spesifiek deur haatspraak, onder meer teen minderhede, te verbied.

Nou waar lê die knoop dan?

Dit is aldus ‘n hoogleraar in staatsreg eerder ‘n politiek-ideologiese kwessie as ‘n regskwessie.

Na regter Colin Lamont Malema in die gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind het, was daar ‘n storm, ook uit die geledere van Afrikaanssprekendes. Die DA by monde van Dene Smuts en prof. Pierre de Vos tel onder diegene wat gemeen het die uitspraak was foutief. Die Freedom of Expression Institute het gal gebraak.

Die kritici het dit in gemeen gehad dat hulle bekendes in die liberale dampkring is.

Aan die ander kant was daar persone en instansies wat onder meer wal probeer gooi het teen die hoë voorkoms van plaasmoorde in die besonder, maar polarisasie in die land in die algemeen. Een van die bekendes in hierdie groep, Steve Hofmeyr is pas in Maroela se projek om die grootste Afrikaner te soek, as die wenner in die kategorie vir eietydse Afrikaners aangewys.  Hierdie persone en groepe word ongeag ideologiese verskille deur hul teenstanders as “regs” geëtiketteer en afgemaak.

Die skikking lewer egter ook los drade op, spesifiek hoe die sleutelbelangrike “wig en teenwig,” die Mensergtekommissie hierop gaan reageer. Toe AfriForum en die TLU SA die saak by die gelykheidshof aanhangig gemaak het, het ander die Menseregtekommissie genader. Onder hulle tel die Afrikanerbond, wat soos volg by monde van die leier, adv. Pieter Vorster reageer:  “Op 28 November 2011 het die Mensregtekommissie klagtes van meer as 500 klaers waaronder 3 klagtes van die Afrikanerbond aan die orde gestel tydens ʼn verhoor by die kantore van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie . Die klagtes het onder meer te make met ‘dubulu iBhunu’ – ‘Skiet die boer’ -uitsprake deur mnr Julius Malema en vele ander klagtes wat verband hou met haatspraak en aanhitsing tot geweld

Die paneel van die Mensregtekommissie het tydens die verhoor te kenne gegee dat dieselfde beginsels wat deur Regter Colin Lamont se beslissing in die Gelykheidshof ter sake was, ook ter sake is wanneer hulle oor die klagtes sou beslis. Derhalwe het die Afrikanerbond op versoek van die paneel toegestem tot die uitstel van die verhoor tot na afhandeling van die saak wat deur die ANC en mnr Malema op appèl geneem is.

Alhoewel ons die skikking verwelkom waarvolgens die uitspraak van die Gelykheidshof dus aanvaar word en die ANC by monde van mnr Gwede Mantashe erken het dat die sing van sekere “struggle” -liedere kwetsend mag wees ten aansien van minderhede, kan dit nie daargelaat word nie en is dit noodsaaklik dat die Mensregtekommissie ook oor die saak beslis.

Die hervatting van die verhoor van die Menseregtekommissie bly, ten spyte van bogenoemde skikking, nog steeds relevant aangesien ons steeds van oordeel is dat die Mensregtekommissie die mees belangrike statutêre bewaker van die Handves van Regte is. Derhalwe moet die Menseregtekommissie die geleentheid gebied word om by die aanhoor van die reeks oortredings, besondere inhoud te verleen aan die bepalings in die Handves van Regte met spesifieke verwysing na Artikels 9 en 16 van die Handves van Regte. Ons sal die Mensregtekommissie dienooreenkomstig inlig.”

Die saak is dus nog nie volledig afgehandel nie.

Geen wet of hofbevel kan mense of groepe verplig om van mekaar te hou nie.  Selfs ‘n waarheids- en versoeningskommissie beteken vuil vere as mense na afloop daarvan voortgaan om byltjies te slyp en mekaar met die teerkwas – of  selfs veel erger by te dam. Na vandag sal die ANC egter ‘n hofbevel hê waartoe hy self toegestem het om ‘n wag voor die mond te hê.

Dit is egter belangrik dat AfriForum en die TLU SA se hande gesterk moet word deurdat almal wat nou die voordeel van die hofbevel het, met waardigheid moet optree en nié uitlokkend moet optree nie.

Dit is belangrik dat AfriForum en die TLU SA die morele hoë grond behou. ‘n Kollektiewe geheue is ook belangrik. Met die hersamestelling van die raad van die Oorlogsmuseum het die minister klaarblyklik strydig met twee vorige skikkings wat hofbevele gemaak is opgetree en ‘n raad aangekondig wat ook aan die media beskikbaar gestel is. Omdat die verwikkelinge hierna agter die skerms plaasgevind het en die media nie in vertroue geneem is nie, kan bloot afgelei word dat die minister gedwing is om te herbesin en veranderinge aan te bring, en dat aansienlike hoeveelheid suur sop uitgeloop het.

Die skikking wat vandag ‘n hofbevel word, is te belangrik en wydsnydend om die produk van ‘n selektiewe geheue te word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae