Nuuskommentaar: Mandeladag

Mandela met sy 94ste verjaarsdag

Dit is nie onverwags nie dat daar besonder groot belangstelling in vanjaar se Mandeladag is wat vandag gevier word. Pondering Panda het selfs bevind dat bykans 90% van die jong mense beplan om vandag 67 minute van hul tyd aan goeie dade te spandeer.

Internasionale Nelson Mandeladag het sy beslag in November 2008 gehad toe die VN Mandela se verjaarsdag, 18 Julie, as sodanig verklaar het. Die dag word egter eers sedert 2010 deur die internasionale samelewing as Mandeladag gevier. Die 67 minute is ‘n simboliese uitdrukking van die 67 jaar wat Mandela in die een of ander hoedanigheid by sy stryd betrokke was. Beriggewing in die internasionale media vanoggend toon dat Mandeladag inderdaad internasionaal bemark word.

Mandela is reeds meer as ‘n maand lank in die hospitaal, en dié keer is verskeie kere berig dat hy op sterwe lê, en selfs dat hy te sterwe gekom het, of bloot deur lewensondersteunende masjiene aan die lewe gehou word.

Ongelukkig is die enigste amptelike bron oor Madiba se toestand die presidensie, wat nie juis oorloop van geloofwaardigheid nie.

Intussen het die mediabelangstelling baie afgeneem, maar die fokus verskuif na die oud-president se 95ste verjaarsdag.

Mandela het in sy leeftyd ‘n wêreldwye euforie ontketen – ‘n beeld van ‘n man sonder foute – tot frustrasie van diegene wat nié so deur die euforie meegesleur word nie, maar tog deur die oordaad reklame gebombardeer word. Die interessante aspek is dat die kritiek ook nie net meer van ou teenstanders kom, of mense wat geliefdes in die stryd teen die ANC afgestaan het nie. Die Nederlandse koerant Trouw, het onlangs ‘n artikel gepubliseer waarin die bekende prof. Sampie Terblanche van Stellenbosch wyd aangehaal word waarin hy Mandela skerp laat deurloop oor die manier waarop hy sy persoonlike rykdom bymekaar gemaak het. Terblanche staan hierin nie alleen nie, maar die verrassende is dat Trouw so ‘n kritiese artikel hoegenaamd sou publiseer, en juis terwyl die president ernstig siek in die hospitaal was, én die media sy afsterwe enige oomblik verwag het.

Mandela het ook vreemde vriende gehad, soos die omhelsing van Ghaddafi getuig, en met Kuba wat pas uitgevang is dat dit wapens na Noord-Korea probeer smokkel het.

Maar die negatiewe, veral vandag, word totaal deur die euforie oorheers. Twee van die drie groot Afrikaanse dagblaaie spandeer vandag hul hoofartikels aan Mandeladag, Die Burger plaas daarby ‘n rubriek, en Beeld ‘n spotprent.

Mandela word veral as versoener in herinnering geroep. Trouens, die fokus hierop in soveel berigte en redaksionele kommentare, en die teenstelling hieraan met die huidige ANC-leierskorps, het waarskynlik vir die ANC ‘n verleentheid begin word. As Mandela inderdaad die groot versoener was, het die momentum in die ANC so erg daarteen gedraai, dat aartsbiskop Desmond Tutu te midde van groot internasionale mediabelangstelling, sy steun aan die ANC onttrek het.

Julius Malema, eens Zuma se politieke liefdeskind, het selfs toe hy sy planne vir ‘n eie politieke party bekend gemaak het, gesê dié party sal minder op versoening fokus (as die ANC). En volgens Pondering Panda oorweeg ongeveer ‘n kwart van die jong mense om vir Malema se party te stem.

Die Christen het ‘n probleem met mensverheerliking, en veral die implikasie dat iemand deur sy dade saligheid kan verwerf. Soms, soos in die geval van die voorbeeldige Job, is dit moeiliker om te onderskei tussen die aanprysing van die mens, of sy dade en deugde. Maar selfs al sou dit in die haak wees ‘n mens te eer, het Mandela se siekte getoon dat sulke deugde saam met die mens verganklik is. Onder meer straal van die voorste aanspraakmakers op Mandela se nalatenskap kwalik die beeld van versoening uit, en soms, soos met die aandrang op die verandering van sensitiewe name, die teenoorgestelde.

En hieruit spreek miskien die grootste boodskap vandag. Maak die wêreld warm vir diegene wat goedkoop politiek uit Mandela se nalatenskap wil maak, en terselfdertyd versoeningsverwoestend optree.

Vir diegene wat nié Mandela-junkies is nie … dit sal nie skade doen om dan ander voorbeelde en geleenthede vir versoening te vind en na te streef nie. Die kliniese waarheid is dat geen, maar geen politieke model sal slaag as versoening na die maan is nie. Selfs die man van bloed en yster, Otto von Bismarck het dit besef.

Daar is vandag ‘n ander aspek tot die dag – die 67 minute wat versoek word om aan liefdadigheid af te staan. Dit is interessant hoeveel mense graag wil meedoen, maar geen benul het wat om te doen nie. Het, om goed te doen, werklik so ‘n vreemde verskynsel, of gedelegeerde funksie geword, deur bv maandeliks ‘n geldjie vir die diakonie te gee, en daarmee is die verantwoordelikheid afgesluit? Die Mail & Guardian het ‘n klomp maklike wenke gegee, soos om vir die persoon wat bedags jou motor oppas, ook ‘n koppie koffie te koop, of nie ‘n babbelende ou mens stil te maak nie, en ‘n slag waarderend te glimlag. Daar sal wel ‘n vereensaamde wees wat ‘n kuiertjie baie sal waardeer, of dan minstens ‘n oproep. Daar is iemand wat siek in die hospitaal is.

Hierdie eienskappe en dade moet egter nie die gevolg van mensverheerliking wees nie, ongeag die mens, maar ‘n eienskap van dankbaarheidslewe teenoor die Skepper en Verlosser. Nie 67 minute een keer per jaar nie, maar verweef deur die ganse lewe.

Vandag kan egter wel as toets dien om te bepaal of daardie eienskap nog in ‘n mens teenwoordig nis, of dit nou Mandeladag is of nie.

Uit ‘n politieke oogpunt het die afgelope vyf weke se gebeure ook duidelik getoon tot watter mate die blote feit dat Mandela nog leef, Suid-Afrika se internasionale aansien nie heeltemal in duie laat stort nie. En hierdie siekte het getoon dat hierdie faktor nie lank meer die stroom negatiewe persepsies sal kan opdam nie. Of anders gestel, die tyd is verby dat die land onnosele politieke keuses kan uitoefen en dan bloot op Mandela se reputasie redelik ongeskonde daarvan gaan afkom. Die kiesers moet volgende jaar verantwoordelike keuses kan uitoefen, soos gelei deur verslae van die ouditeur-generaal, die Openbare Beskermer, die onvermoë om basiese dienste te lewer – maar terselfdertyd die oog te hou op gesonde beginsels, waarvan versoening ‘n belangrike is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Gerhard Viljoen ·

90% van die jong mense beplan om vandag 67 minute van hul tyd aan goeie dade te spandeer, want hul word gese om dit te doen

Annetjie de Jong ·

Al wat hy bereik het ! Om ons land te verwoes af te breek tot anargie ! Vergrype van ongeskoolde president zuma en sy arrogante blatante skelm korupte boeties ! Die freedom fighters is toe nes one gese het eintlik net n klomp teroriste ! Moordadige verkragters ! Dis al !

Dirk Hall ·

Wanneer gaan die siek”verheerliking” eindig? Hy het niks gedoen wat dit verdien nie. Nie eers die sogenaamde vrede nie. Dit was alles reeds vooraf deur die CIA en ander wereld gemors gefix!

Juliana Oosthuizen ·

Alles is plasties. Geforseerd. Niemand het die energie om op te staan en uit te basuin wat in sy hart aangaan nie. Ons is bang vir die gevolge. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

Nico ·

Ek kyk so ‘n dag of wat gelede ‘n dokumentêre program op YouTube oor Napoleon Bonaparte. Ongelooflik wat hy as enkele persoon vermag het in 10 jaar na die Franse revolusie. Hy het Frankryk opgebou tot die sterkste en mees gevreesde moontheid in Europa. Ekonomies en militêr.
Wat het hierdie terroris reggekry? Hy het die grootste ekonomiese en militêre moontheid in Afrika ge-erf en met sy agterbakse skeinheilige houding en pelle afgebreek tot ‘n tipiese 3de wêreldse Afrika parasietmoontheid wat dink die wêreld skuld hulle iets.

Hannes ·

As almal maar net ook soveel aandag aan ons GOD gegee het as aan Mandela, en 67 minute op sy verjaarsdag aan HOM opgedra het, sou dinge baie beter in hierdie GOD gegewe land gegaan het! Wie is ‘n beter vrede vegter as ons Lewende en Ewige GOD? Nie ‘n aardse mens nie! .
Nelson Mandela is skuldig bevind aan 156 aanklagtes onder andere terrorisme en plant van bomme ens. Die Wêreld verafgod hom.

Jesus Christus skuldig bevind aan EEN klag -dat Hy jou liewer het as enige iets en vir ons sonde gesterf het sodat jy beter kan lewe.
Die Wêreld haat Hom.

HY IS MY KONING!!!!!!!
Is Hy joune ook?

Danie ·

Ek is nou keelvol vir hierdie afgodediens. Dis beter om elke dag die Groot Gebod na te kom ipv net op 18 Julie. Dis ongelooflik hoe mense die wêreldoor toelaat dat hulle gebreinspoel word. Oor die chaos in Suid-Afrika, gaan gerus in op http://www.sarahmaidofalbion.blogspot.com. Een van die artikels is Mandela the Myth. Dis ongelukkig in engels.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.