Nuuskommentaar: Mank been van onderwys

Argieffoto.

In die aanloop tot die parlementêre bespreking van die begrotingspos vir basiese onderwys, was juis onderwys die afgelope tyd skerp onder die vergrootglas van analiste.

  • In die bespreking oor rasbegunstigde postoewysings na aanleiding van die Solidariteit – DKD-hofsaak is telkemale uitgewys dat die oplossing vir ongelykhede eerder gesoek moet word in behoorlike onderwys en opleiding van almal, as om die werksmag maatskaplik op rassegrondslag te manipuleer
  • Aansluitend hierby is syfers bekend gemaak dat werkloosheid onder gegradueerdes min is vergeleke met die land se algemene enorme werkloosheidsprobleem.
  • By die onlangse gradeplegtighede is opnuut deur sprekers, soos rektore, gewys op die enorme uitvalkoers by hul instellings ten spyte van omvangryke oorbruggingsprogramme. Te veel aankomelinge by die volgende vlak van onderrig beskik wel oor die “papiere” maar nie die kennis en vaardighede wat veronderstel is om daarmee gepaard te gaan nie.

Maroela Media het reeds breedvoerig bespreek  hoe Suid-Afrika in vergeleke met die wêreld, en selfs verskeie Afrikalande, swak vaar wat basiese onderwys betref.  Algerië, Botswana, Burundi, Kaap Verde, Egipte, Ethiopië, Gaboen, Ghana, Kenia, Senegal, Tanzanië, Uganda, Zambië en Zimbabwe tel onder die lande wat Afrika op die Wêreld-ekonomiese Forum se indeks uitstof.

Tog kry onderwys in provinsiale begrotings die leeueaandeel van daardie begrotings, en dit blyk uit die parlementsbespreking dat partye die nasionale verhoging van ses persent ondersteun. Die probleem is dat die begrote bedrag per leerder nie omsit in die verwagte resultate nie.

‘n Deel van die probleem blyk daaruit dat daar in die vorige finansiële jaar R2,3 miljard toegewys is om vervalle skole te vervang, lopende water aan 1 257 skole, elektrisiteit aan 878 en sanitasie aan 868 skole te voorsien.  In die Oos-Kaap is slegs 12 van die 49 moddergeboude skole vervang, en die res van die aanwending lyk beswaarlik beter. R1,7 miljard van die toegewysde fondse is terug na die staatskas.

Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier, het in die begrotingsdebat in die parlement sake goed opgesom toe hy gesê het die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, ‘mislei haarself’ as sy dink verlede jaar se matriekuitslae was ‘n prestasie.

“Die minister spog met die matriekuitslae en ons is saam bly en wens die matrikulante geluk. Maar wat is die realiteit? Dit is dat van die 1 130 659 leerlinge wat in 2001 met graad 1 begin het, slegs 45% (511 152) van hulle verlede jaar die matriekeksamen geskryf het.

“Slegs 33% (377 829) het geslaag en hiervan het slegs 12% (135 966) matriekvrystelling gekry.”

Hy het gesê die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) sal nie slaag indien net 12% matriekleerders matriekvrystelling kry nie.

Die skoolboekkrisis wat in Limpopo ‘n storm ontketen het maar geblyk het ‘n landswye probleem te wees, het nog nie heeltemal bedaar nie.

Tog, uit basie voorbeelde in Suid-Afrika en elders in die wêreld, blyk dit dat volke enorme infrastruktuurprobleme kan oorkom om hul onderwys in ‘n betreklike kort tydjie op die hoogste vlak te kry. Van lang afstande te voet na plaasskooltjies met longdrops, griffies en leie (en meester se kweperlat) tot nagraadse studie in Nederland en Duitsland was nie heeltemal seldsaam nie.

Dit gaan met enorme opofferings gepaard, en daar is steeds talle voorbeelde, want daardie omstandighede bestaan steeds plek-plek. En daar is steeds suksesgevalle.

Maar dat daar ander probleme is, is ook gewis. Die onderwysvakbond, Sadou (beter bekend as Sadtu) word dikwels as Suid-Afrika se grootste vyande beskryf. Skole waar Sadou die grootste houvas het tel in die reël onder die swakste presteerders. En dit is juis Sadou wat die grootste verset toon teen ‘n behoorlike inspekteurstelsel om gebreke te identifiseer n kwaliteit onderrig te verseker.

Dit is ook duidelik dat die pos van minister van basiese onderwys nie ‘n goeie plek is om politieke lojaliteit of affiliasie mee te beloon nie.

Sadou en die minister het na weke se protes en ‘n sloerstaking ‘n vredesooreenkoms gesluit. Dit lyk of die minister se kop nie gaan rol nie.

En dit is net vir soverre die basiese onderwys betref. Die probleme verdwyn nie almal in die proses waar studente verder vorder nie, en universiteite het ‘n opdraande stryd om uitsette van akademiese uitnemendheid te handhaaf. Sewe uit die tien aansoeke vir nagraadse studie by die Nasionale Navorsingstigting word weens onvoldoende fondse weggewys. Dié stigting is boonop onderhewig aan die regering se rassekwotas.

Dit word dikwels gesê dat onderwys ‘n roeping eerder as beroep is, en dikwels is dit waar. Onderwysers verdien om as beroepslui hanteer en besoldig te word, maar ‘n ware beroepsonderwyser sonder roeping?

Geleerdheid is nie al wat ‘n mens se vlak van opvoeding bepaal nie, en die hoede hoog vir die toegewyde onderwysers wat hard werk om aan dié kinders wat aan hulle toevertrou word ‘n behoorlike opvoeding te bied. En so ook aan die ouers wat hierin ‘n onontbeerlike rol speel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Wanneer ons die geheim ontdek van hoe om mense ( veral ;n sekere onderwys-vakbond se lede) te motiveer om hul gesindhede te verander, sal ons in die onderwys reuse tree na vore kan gee.

Die volgende gediggie vat dit wat ek graag wil sê, mooi saam:

Not written word or spoken plea
Will teach young hearts what they should be;
Not all the books on all the shelves
But what the teachers are themselves.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.