Nuuskommentaar: Marikana SA se Bosnië?

‘n Vrou huil tydens ‘n gedenkdiens wat vir die Marikana-slagoffers gehou was. Foto: Werner Beukes/SAPA

Maroela Media was volgens die elektroniese rekords moontlik die eerste medium wat die vergelyking tussen Marikana en Sharpeville getref het – ‘n vergelyking wat dwars oor die wêreld weergalm het en ongeveer ‘n kwartmiljoen  Google-trefslae opgelewer het. Reeds toe was Maroela Media se vergelyking eerder op die nagevolge as die fisiese ooreenkomste van die twee insidente self gefokus.

Met die getuienis, soos foto-getuienis wat nou voor die Marikana-kommissie van ondersoek dien, lyk dit egter of dit in ‘n metaforiese Bosnië kan ontaard. Sou dié getuienis die waarheid blyk te wees, is daar elemente van misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade teenwoordig, maar kwalifiseer nie volledig om aan die definisies te voldoen nie. Vanuit ‘n regsoogpunt kan die bevindings van die kommissie nie vooruit tot gevolgtrekkings gevoer word nie, maar vanuit ‘n beleggings- en politieke oogpunt moet deeglik kennis geneem word en verantwoordelik opgetree word om die skade vir die land en sy mense nie te laat eskaleer nie.

Dit is egter nie net aan internasionale aansien dat Suid-Afrika erg skade ly nie. Dr. Xolani Mkhwanazi, uittredende president van die Kamer van Mynwese, het volgens Sake 24 in sy presidentsrede gepleit dat die land se topleiers “dringend en ten volle fokus op die krisis wat uit die slagting ontstaan het…. Die mynbedryf is nog nooit sedert die aanbreek van demokrasie en selfs voor die demokratiese bedeling só ernstig bedreig soos met die Marikana-slagting en die gevolge daarvan nie.”

Mkhwanazi het konkrete syfers op die tafel geplaas: “Die mynbedryf het verlede jaar ’n inkomste van R489 miljard gehad en het R487 miljard bestee. Aankope en bedryfskoste was R148 miljard, salarisse en ­lone R89 miljard en kapitaalbesteding R46,5 miljard. Altesame R26 miljard is aan belasting betaal, R16 miljard aan dividende en R17 miljard aan rente. Tan­tième vir mineraalregte het R5 miljard bedra.”

Sy opvolger in hierdie nasionale bate, maan Mkhwanazi, se syfers gaan heelwat swakker wees wanneer hy sy jaarverslag voorlê: “Dié tragedie en die gebeure daarna staan uit en dra die stempels van vernietigende oproer… Wat gebeur het, is nie ’n bedryfsprobleem nie – dis ’n landsprobleem wat die aktiewe samewerking van die land se nasio­nale leiers verg.” Hy het gevra dat ANC die onsekerheid oor nasio­nalisering in die mynbedryf te beëindig: ““Dis ’n bron van konsternasie vir beleggingsfondsbestuurders wêreldwyd. Daar was hoop dat die nasionaliseringsvoorstel wat deur onder meer die ANC-jeugliga gepropageer is, uiteindelik op die party se beleidskonferensie in Junie oorboord gegooi sou word, maar dit het nie gebeur nie.”

So hard soos die syfers spreek, en so erg soos die kettingreaksie was wat selfs doodslag insluit en ook na ander wanorde soos die vervoerstaking gelei het, die menslike aspek is wat die internasionale blootstelling en persepsies voed.

Uit foto’s wat die polisie na donker op die toneel geneem het, blyk dit dat daar wapens by van die oorledenes gelê het wat vroeër die dag nie op foto’s en ‘n video-opname daar was nie. Adv. George Bizos sê daar was moontlik ‘n doelbewuste poging tot regsverydeling.

Nog fotomateriaal toon blykbaar dat van die oorledenes se hande agter hul rûe vasgebind was.

Onrustigheid oor wat gebeur het, het reeds begin broei toe ‘n gerespekteerde vryskutjoernalis wat lank op die toneel vertoef het, in ‘n artikel beweer het dat daar na die aanvanklike skietery ‘n tweede bloedbad ‘n ent agter die koppie  was wat aan ‘n massateregstelling herinner. Sy artikel het internasionaal groot opslae gemaak, en is plaaslik deur van die land se voorste onafhanklike kenners as bedenklik afgemaak.

Die beeldskade is vererger toe die Nasionale Vervolgingsgesag die gearresteerde mynwerkers van moord op hul kollegas aangekla het, ‘n besluit wat later laat vaar is. Hoewel ‘n internasionale regsbeginsel van gedeelde oogmerk ingespan is, het ‘n enkele mediaberig ‘n skadelike golf aan die gang gesit met ‘n wanvoorstelling dat hierdie beginsel ‘n produk van die “apartheidsregime” was, na aanleiding van die toepassing daarvan in veral die saak van die Upington 14. Dit lewer byna 400 000 Google-trefslae op. Dit was amper dubbel soveel blootstelling as die Sharpeville-vergelyking.

Boonop dagvaar 194 van die mynwerkers wat aangehou is die polisie vir mishandeling en marteling. Good Governance Africa het berig dat die minister van polisie, Nathi Mthethwa, blykbaar toegegee het dat die polisie buite beheer is en probeer onderhandel het om die aangehoudenes na Korrektiewe Dienste oor te plaas om hulle teen die polisie te beskerm wat “weerwraak” soek. Dié artikel is in Engels en kan in groot dele van die wêreld gelees en verstaan word.

Die Onafhanklike Polisie-klagtedirektoraat (Opos) ondersoek jaarliks meer as 6 000 klagtes teen polisielede, en dit neem toe. Dit sluit in sterftes, verkragtings en marteling van aangehoudenes in.

Marikana het nie in ‘n lugleegte gebeur nie. Op die emosionele vlak – daar is voor die voorval reeds mense vermoor, onder wie polisiebeamptes – en die persepsie het sterk geloop dat die stakers op die koppie se simpatie by die moordenaars gelê het, en hulle selfs moontlik beskerm het.

Op die politieke vlak het die stakers, hetsy lede van Amcu of nie, die “sonde” gepleeg om die rug te keer op die NUM, wat nie net danksy sy affiliasie by Cosatu deel van die ANC se drieparty-alliansie uitmaak nie, maar die NUM word ook as ‘n Zuma-bondgenoot beskou. Die polisievakbond, Popcru is ook by Cosatu geaffilieer, en in die praktyk het die polisie, van wie baie politieke teenstanders van die stakers was, teen die koppie-besetters te staan gekom.

Volgens berigte het die stakers ook ‘n toordokterdoepa gebruik wat veronderstel was om hulle immuun teen die polisie se koeëls te maak.

Provokasie was daar, maar die land gaan die gelag betaal vir die gelag van polisielede wat na die skietery op die videoband gehoor kan word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae