Nuuskommentaar: Mdluligate Zuma se Watergate?

Foto: GCIS

Wyle Fanus Rautenbach het vanslewe vanuit sy ateljee in Flinkveria die volgende vraag gevra: “Wat is die verskil tussen Waterloo en Watergate?”  Sy antwoord: “Napoleon het sy loo gesien.”

Na die Watergate-skandaal het Suid-Afrika sy eie sarsie Watergate’s opgelewer, “Wapengate”, “e-Tolgate” en so kan die lysie langer en langer gerek word.

Indien pres. Jacob Zuma aan die einde van die jaar ge-Polokwane word, sal die ontleedmesse reeds ver gevorder wees om te probeer bepaal watter Zumagate het nou eintlik die meeste tot sy val bygedra:

– Sy ontydige aankondiging in Julius Malema se tuisdorp dat dié omstrede jongeling sy kroonprins is?
– Dienslewering wat op sy wagbeurt nie net op baie plekke die kreeftegang gegaan het nie, maar haas onbekostigbaar begin word het?
– Die beeld wat sy veelwywery en buite-egtelike kinders aan die wêreld skets?
– Sy vervreemding van hoofstroomkerke met sy volgehoue kwasi-godsdienstige uitsprake wat dikwels as godslasterlik ervaar is, en die ignoreer van oproepe en selfs waarskuwings om daarmee op te hou?
– Sy opmerkings oor die oppergesag van die grondwet wat ʼn knieval voor Lethuli-huis moet doen?
– Aansprake dat die regbank moet transformeer sodat dit nie ʼn stokkie in Lethuli-huisplanne kan steek nie?
– Dat Suid-Afrika op die mees onlangse korrupsiepersepsie-indeks in een jaar van die 54ste plek tot die 64de posisie teruggesak het, met verskeie Afrikalande wat Suid-Afrika die kous oor die kop trek?
– Of dat Suid-Afrika op Zuma se wagbeurt so ver op die persvryheidsindeks teruggesak het, en ook deur verskeie Afrikalande getroef word?

Prof. Steven Friedman van die Sentrum vir die Studie van Demokrasie wys egter daarop dat iets wat as skandaal deur die land en die wêreld ervaar word, nie noodwendig as sodanig in die ANC manifesteer nie – veral as dit in die ANC se midde gebeur.

Weens die ANC se oorweldigende politieke posisie in Suid-Afrika, so lyk dit, sal iets die ANC slegs skud as dit deur genoeg ANC-ringkoppe as ‘n skande of ernstige verleentheid in eie geledere ervaar word. En Mdluligate lyk of dit dalk die potensiaal het om die knoop deur te haak.

Op die oomblik word erg wal gegooi om afstand te plaas tussen Zuma en die besluite oor Mdluli. Mdluli het ʼn brief geskryf wat blykbaar die strekking het dat daar ‘n tipe Brutus-komplot teen Zuma is, en as beloning het Zuma Mdluli as volgende polisiehoof in die oog. Na bewering het nie Zuma of die minister van polisie dié brief ontvang nie, en word skynbaar die indruk geskep dat daar dus geen verband tussen Mdluli se de facto immuniteit en die brief kan wees nie. Min of meer dieselfde weergawe word opgedis om te probeer aantoon dat daar geen verband is tussen die skorsing van ʼn senior vervolger en haar aandrang dat aanklagte teen Mdluli nie teruggetrek moet word nie.

Die groep, Freedom under Law waarvan oud-regter Johan Kriegler ʼn stigterslid is, gryp nou met regstappe in om die Mdluli-saak bereg te kry, met ʼn dringende aansoek dat Mdluli wél geskors word. Die persoon wat die leiding hierin neem is dr. Mamphela Ramphele, wie se naam nou dikwels opduik. Ramphele vestig nou die beeld van ‘n swart klas wat dit nie duld dat ander  swart leiers skande maak en dit dan aan die Afrika-kultuur of tradisies toeskryf nie. Daar is gereeld berigte dat van die ANC se mees senior ringkoppe ook verleë is oor Zuma se manewales.

Zuma het geen plan om die aftog te blaas nie. Hy ken politieke oorlewing en al die paadjies na bo. Daarom is dit ook geen uitgemaakte saak dat Zuma die aftog sal blaas of die onderspit sal delf nie.

Met die onlangse sirkus in Lethuli-huis waar van Zuma se vermeende vernaamste teenstanders voor die media geparadeer is en ʼn knieval voor Zuma moes maak, is dit duidelik dat iemand wat planne het om ʼn Polokwane op Zuma te trek, dit nog minstens ʼn hele ruk in groot geheimhouding moet doen.

Nog ʼn been van die Zuma-strategie is om sy opmars na die Mangaung-konferensie vanuit KwaZulu-Natal te lei, waar sy steun oorweldigend is. Die huidige verbod op die toon van leierskapsaspirasies het heel duidelik geen toepassing op Zuma self nie.

Zuma het skynbaar behoorlik beheer geneem oor die vervolgingsowerhede, wat dit moontlik maak om sy vernaamste kornuite teen regsaksie te vrywaar.

Zuma doen wel soms die regte ding soos om onbekwame ministers meer dikwels af te dank as wat sy voorganger gedoen het. Daar is nou ook sprake dat die minister van Landbou en Visserye, Tina Joemat-Pettersson die trekpas gaan kry. Maar – die ministers is in die eerste plek deur Zuma aangestel.

Suid-Afrika se Watergate, Waterloo of Mdluligate… intussen sit die land met ʼn ernstige watertameletjie – munisipaliteite skuld saam R1,1 miljard aan die waterrade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.