Nuuskommentaar: Media, Malema en die soeke na aandag

Die vraag word gereeld gevra of die fenomeen Julius Malema die skepping van die media was, en of die media net goed deur die persoon Malema ingespan is.

Die waarheid lê waarskynlik iewers tussenin.

Nog ‘n mediageval in Suid-Afrika is die Wooliesdebakel, en veral die mate waarin die kuberruim se rol en standpunte van dié van die gedrukte en uitsaaimedia oor die saak verskil.

Suid-Afrika is nie uniek nie. In Europa word nou ontleed hoekom ‘n uitnodiging na ‘n partytjie wat ‘n meisie op Facebook geplaas het, uiteindelik daartoe gelei het dat haar tuisdorp, Haren, onder onluste en groot skade deurgeloop het.

Die meisie, slegs as Merthe geïdentifiseer, het ‘n uitnodiging na ‘n partytjie geplaas, maar nagelaat om te noem dat dit ‘n privaat geleentheid was. Spoedig was dié klein fees in Haren ‘n vuurwarm onderwerp op die sosiale media, en het dit geblyk dat groot getalle mense van oral oor die land vir die geleentheid gaan begin opruk. Walgooi, selfs deur die burgemeester, en ‘n besluit deur die gemeenskap dat die fees nie gaan plaasvind nie, het mense bloot oortuig om juis na Haren op te ruk.

Nie lank nie, het die storie van die kuberruim na die lugruim en die gedrukte media versprei, en een radiostasie het mense blatant opgeroep om na die dorp toe te gaan. In ‘n stadium is selfs gevrees dat tot 33 000 mense sou opdaag.

Uiteindelik het veel minder opgedaag, maar onder die paar duisend wat wél opgedaag het, was genoeg gopse dat onluste uitgebreek het, en miljoene Euro’s se skade aangerig is. Altesaam 36 molesmakers is in hegtenis geneem, waaronder ‘n lid van ‘n radikale Moslemgroep, Sharia 4 , wat as een van die voorbokke beskou word.

In die ontleding van wat tot die onluste bygedra het word elke moontlike oorsaak onder die loep geneem. Van die ouers se opvoeding van kinders, tot kinders se rebelsheid, en ook om te kyk of die media die skuld kan kry.

Een vertolking is dat kinders en jong mense verveeld is omdat daar min gebeur. As iets na opwinding ruik, soos ‘n fees, sal na selfs die dooilikste dorpie opgeruk word waar die blote teenwoordigheid van soveel wat na opwinding soek, self vir die opwinding sorg. Een van die voorstelle is dan juis dat dorpe hierdie Projek X-feeste as bemarkingsgeleenthede aangryp deur onder meer terreine daarvoor beskikbaar te stel en kunstenaars te reël. Volgens Trouw is daar genoeg orkeste wat in ruil vir gratis publisiteit gratis sal optree.

Maar … by verskeie van die groot feeste wat wel behoorlik in België en Nederland gehou word, gaan dinge ook nie soos dit moet nie, en gevegte en messtekery kom gereeld voor. Sommige van hierdie saamtrekke waarheen jong mense opruk en intensief deelneem, is egter opvoedkundig en selfs Evangeliesasiegeleenthede.  Onlangs is ‘n kuns- en musiekfees by Vlieland gehou. ‘n Parlementslid skryf hoe die tent stampvol was waar ‘n rubriekskrywer van die NRC Handelsblad, Bas Heijne, meestal jong mense toegespreek het, en mense aangemoedig het om weer ‘n doel in die lewe na te streef. “Ons sal weer groot ideale moet uitvind.”

Maar die media? ‘n Mediasosioloog van die Universiteit van Amsterdam, Peter Vasterman, het aan die Vlaamse De Standaard gesê solank so ‘n aanloop tot die sosiale media beperk bly, is daar nie veel aan nie. Maar wanneer dit die “tradisionele media” haal word dit belangrik. Vasterman verwys ook na die invloed van die media in die Londense onluste van 2011.

Dat die “tradisionele media” ‘n saak belangriker maak, is meer op persepsie as werklikheid gebou. Die Amerikaanse peilingsinstansie, Rasmussen, het onlangs sy bevindings oor Amerikaners se voorkeur vir media om nuus te bekom, bekend gemaak. Veertig persent van die volwasse Amerikaners dink die kuberruim is die beste plek om daagliks oor nuus en ander sake ingelig te word. Altesaam 37 % meen die TV is die beste manier, 9 % die radio en net 7 % sê hulle wend hulle tot gedrukte koerante.

Jong Europeërs se voorkeure sal waarskynlik nie heeltemal dieselfde lyk nie, maar dit is ook duidelik dat die rol van die kuberruim toeneem.

Die meeste ontleders na die Haren-moleste kyk dus baie intensief na die rol van die sosiale media, en die kuberruim in die algemeen. Dis immers waar die hele probleem ontstaan het.

Koerante, radio, die TV en internet sal almal nie net om getalle meeding nie, maar ook die persepsie van hul belangrikheid, en geloofwaardigheid speel ‘n belangrike rol. Dit plaas weer die Woolworthssaak aan die bod – die “tradisionele media” word vir hul meer simpatieke hantering van Woolworths met advertensies beloon, soos weer die naweek met baie groot advertensies in die Sondagkoerante gesien kon word. Maar dit is ook reeds opvallend hoe van Woolies se mededingers op die kuberruim waar verskeie veldtogte teen Woolies gevoer word, adverteer.

Tim du Plessis, nou hoofredakteur van Media 24 se Afrikaanse koerante, het enkele jare gelede geskryf koerante kan nie meer inligting plooi nie, want die ware toedrag van sake sal eenvoudig via die kuberruim daarom spoel, en die koerante se geloofwaardigheid aantas. Dit beteken nie dat baie mense steeds glo dat veral sommige koerante hul nuus volgens sekere agendas plooi nie.

Haren, en hier plaaslik Malema, toon tog dat die belangrikheid van ‘n agenda – ‘n agenda om nie geweld aan te blaas nie en ‘n agenda om ‘n probleem te help oplos – nie sonder meer as verkeerd afgemaak kan word nie.

Dit is gesond dat die verskillende mediavorme mekaar op die tone hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.