Nuuskommentaar: Meeluistering en Suid-Afrika

Grafika: Manning tydens sy verhoor, AP. Via LA Times

Suid-Afrika is saam met Turkye deur die Britte vir meeluistering geteikentydens die G20-beraad wat in 2009 in Brittanje gehou is. Nie net amptenare van lidlande van die G20 se gesprekke en e-posse is afgetap nie, maar ook dié van politici. So berig The Guardian, wat voortbou op die onthullings van die Amerikaanse NSA se wydverspreide meeluistering. Die bron is steeds die Amerikaner, Edward Snowden, wat die breekspul op die lappe bring.

Volgens The Guardian was die doel om Suid-Afrika en Turkye uit te sonder vir spesiale aandag, nie so seer vrese vir die huisvesting van terroriste nie, maar om voorspronge in die onderhandelings by die beraad te verkry.

Die meeluistering sou die werk van die GCHQ wees.

Dit is kwalik meer nuus dat regerings kommunikasie van hul eie burgers onderskep, en so ook die kommunikasie van ander regerings – selfs bondgenote en hul burgers. Dit geskied normaalweg onder die vaandel van die oorlog teen terreur, of soos pres. Barack Obama dit gestel het, niemand kan gelyk volle privaatheid en volle veiligheid hê nie.

Hierdie ontwikkelings kom terwyl Bradley Manning, die rekenaarfundi en bleeksiel wat ‘n magdom inligting aan Julian Assange en WikiLeaks gelek het, deur ‘n krygsraad verhoor word. Manning staar moontlik lewenslange gevangenisstraf in die gesig.

Sy regsverteenwoordiger voer aan Manning was met sy aankoms as troepie in Irak geskok toe Amerikaanse soldate gejuig het omdat hulle self ‘n bomontploffing langs die pad vrygespring, maar ‘n Irakese gesin deur die slag getref is. Een van die gesinslede is onderweg hospitaal toe dood.

Hy het voorts ook materiaal oor die aanhouding van terreurverdagtes gelek omdat hy ontevrede was omdat die Obama-administrasie, anders as wat beloof is, nie die aanhoudingsgeriewe by Guantanamo-basis in Kuba gesluit het nie. Voorts het hy foto’s gelek van twee Reuters-joernaliste wat in ‘n aanval dood is na die Amerikaanse weermag die twee se werkgewer meegedeel het dat sulke foto’s nie bestaan nie.

Op Manning se nekplaatjie het hy by die ruimte waar sy godsdiens aangedui word, “humanis” aangebring.

Die staat voer weer aan dat Manning in totaal meer as 700 000 stukke geklasssifiseerde inligting aan WikiLeaks voorsien het. Hieronder tel evaluasies van bondgenote, wat ‘n groot diplomatieke verleentheid was.

Die verhoor val saam met ‘n ongemaklike periode van die Obama-administrasie. Verskeie gevalle het voorgekom waar die Amerikaanse veiligheidmagte kommunikasie van joernaliste onderskep het. Die kop van die VSA se prokureur-generaal word onder meer geëis, terwyl Obama se eie gewildheid met ongeveer 5 persentasiepunte gedaal het na die onderskeppings aan die lig gekom het.

Die gevoel dat regerings nie met hierdie bekomde inligting vertrou kan word nie, word versterk der die onthullings dat die Amerikaanse Inkomstediens op konserwatiewe groepe soos die Tea Party gefokus het.

Terwyl die praktyke vir die meeste mense waarskynlik ‘n ope geheim was, is die kinkel in die jongste onthullings dat Suid-Afrika saam met Turkye uitgesonder is.

Net kortliks oor Turkye. Turkye is ‘n lidland van Navo, en is uiters strategies geleë. Turkye wil ook graag ‘n lidland van die Europese Unie word. Tog is hier vele potensiële konfliksituasies in opgesluit, waaronder die Koerdiese kwessie en die potensiaal van radikale Islam maar twee is. Die huidige onluste toon hoe moeilik dit is om Turkye as betroubare bondgenoot te hê, veral in die vind van oplossings soos die Siriese kwessie.

Dat Suid-Afrika geteiken sou word, sou amper ‘n gegewe wees. Dit was die jaar na pres. MThabo Mbeki uitgewerk is, en Jacob Zuma die president van die ANC geword het, en dus die land vanuit Luthuli-huis begin regeer het. Zuma was reeds erg gekontamineer deur sy verhoor wat onder andere met die wapenskandaal verband gehou het.

Wat buitelandse beleid betref, het Suid-Afrika sedert 1994 soos ‘n dronk tor rondgesteier, en die een besluit na die ander geneem wat die kop laat duisel het. Omtrent al wat konstant was, was dat Suid-Afrika lojaal was teenoor ‘n hele klompie van die wêreld se grootste muishonde, soos Ghaddafi, Mugabe en Fidel Castro Neem is ag dat al die lidlande van die G8 ook lede van die G 20 is, en dit was duidelik dat Suid-Afrika se duidelikste vriende van die wêreld se sterkste lande se vyande was. In daardie stadium het Brittanje en die VSA byvoorbeeld nog lank nie klaar gerou oor die Lockerbie-terreuraanval nie.

Suid-Afrika het ook nie oortuig in sy verbintenis om die lewe vir Al Kaïda so warm te maak dat dié organisasie nie op die een of ander manier van Suid-Afrika se “geriewe” soos lakse grenskontrole en vervalste dokumentasie gebruik sou kon maak nie.

Die lekkasie kom kort voor pres. Barack Obama se reeds omstrede besoek aan Suid-Afrika. Dat Obma tot in sy tweede termyn gewag het om Suid-Afrika te besoek, is ‘n duidelike boodskap dat die Amerikaners nie tevrede is met hoe sake in Suid-Afrika verloop soos in die stryd teen korrupsie nie. Hierdie norm het onder meer daartoe gelei dat Kenia, die geboorteland van Obama se pa, nog geen beplande besoek van Obama kry nie.

In dié stadium maak die ANC nog die rug styf om nie aan Obama die geleentheid te bied om die parlement toe te spreek nie. Dit is moontlik uit weerwraak omdat die destydse Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, juis tydens ‘n vroeëre besoek aan Suid-Afrika haar weergawe van die “winde van verandering“-toespraak gelewer het, en daardie toespraak het boonop byna saamgeval met Mary Robinson se “winde van verandering”-toespraak.

Dit sal ‘n absolute laagtepunbt vir die Zuma-administrasie wees as Obama tydens ‘n besoek aan die parlement ‘n “winde van verandering”-toespraak sou afsteek.

En soos ons weet, weet die Amerikaners baie goed wat onder die tafels in Suid-Afrika aan die gang is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae