Nuuskommentaar: Menseregtedag – Viering of bestekopname?

Suid-Afrika het Vrouedag, maar onlangs, tydens die veldtog teen geweld teen vroue en kinders, het skokkende syfers aan die lig gekom oor hoe baie vroue aangerand en verkrag – en selfs vermoor word.

Suid-Afrika het Jeugdag, maar die lot van baie kinders is niks beter nie. Dit wissel van kindermishandeling tot wanvoeding tot skoolgaan onder bome, dikwels sonder handboeke, en “met” afwesige onderwysers.

Selfs in die lande met die mees gevestigde tradisie van menseregte is daar die randakkergevalle waar die gemeenskap en owerheid moet ingryp. Dit word nie teen die betrokke lande se koppe geslinger nie, maar daar is ‘n punt waar dit duidelik word dat ‘n land met ‘n probleem te kampe het, soos wanneer die land, soos Suid-Afrika, die verkragtingshoofsetel van die wêreld is, en sy moordkoers van die hoogste ter wêreld is.

Vir die slagoffer beteken menseregte dan niks.

Advokaat Pieter Vorster, voorsitter van die Afrikanerbond, het onlangs die probleem in ‘n wydlopende toespraak ook aangespreek. “Die reg tot lewe word in ses woorde in die Handves van Regte omskryf maar die regte van gearresteerde, aangehoudene en beskuldigde persone word in 695 woorde in dieselfde handves omskryf. Om dit anders te stel. Die misdadiger in Suid-Afrika het veel meer regte as slagoffers, wat nie eens in die Handves van Regte vermeld word nie. Kan ons dan in die lig van misdaadstatistieke en daaglikse mediaberigte nie die afleiding maak dat Suid-Afrika wel ʼn gewelddadige land is nie, te spyte van ontkennings tot die teendeel deur die regering.”

Vorster spreek ook die kwessie van die balans tussen regte en verantwoordelikhede aan.

Ds. Theunis Botha van die Christen-Demokratiese Party meen die verantwoordelikhede moet in moraliteit gesetel wees.
En, so weet ons, daar is min mense wat daar van verskil dat die moraliteitskwessie in ons land erg haper. Botha meen die regte wat so in die handves van menseregte opgeneem is, beteken weinig as dit nie ook in die harte en verstand van mense gesetel is nie.

Het respek vir ander se regte toegeneem of afgeneem oor die afgelope aantal jare?
– Presies hoeveel het van die publiek se reg op inligting wat hul belange raak geword as die wapenskandaal en Nkandla as voorbeeld geneem word, en met die snoerwet steeds in die pyplyn?
– Van hoeveel reg op lewe is sprake as die plaasmoorde jaar vir jaar voortwoed?
– Hoeveel van die publiek se reg op ‘n omgewing wat nie vir hulle skadelik is nie (die sogenaamde groen regte) is daar sprake as nuwe steenkoolkragsentrales – een nogal dig teen ‘n wêrelderfenisgebied – by voorkeur gebou word voor ‘n beoogde sonkragsentrale?
– Van hoeveel waarde is die reg op gesondheidsorg as hospitale deur kaders in die grond in bestuur word, is die reg op kos as die mense nie werk het om kos te koop nie en die regering se landboubeleid voedselsekuriteit in gedrang bring en die reg op water as die staat se bloudruppelverslae sterk aan dié van die ouditeur-generaal oor munisipaliteite herinner?
– Hoe bitter is dit nie dat ons Menseregtedag op 21 Maart gedenk, na aanleiding van die Sharpeville-skietery, maar die afgelope jaar het ons die Marikana-skietery beleef?
– Hoeveel inhoud het die reg op gelykheid as die neo-apartheidswette wat diskriminasie in die werkplek en elders opeis, die ou apartheidswette wat aantal betref in die skadu begin steek?
– Watter boodskap stuur dit uit as die regerende party hier, sy steun aan Robert Mugabe se Zanu-PF gaan toesê en ‘n hofbevel word daar geïgnoreer om ‘n vroulike regsverteenwoordigiger van die opposisie vry te laat?

Kortom, enige persoon kan toe-oë ‘n ellelange lys opstel van hoe sake met menseregte haper, hoe misdadigers meer regte as die wetsgehoorsames het, hoe daar ‘n totale afwesigheid van verantwoordelikheidsbesef is wanneer protes met vandalisme en selfs sabotasie gepaard gaan.

Dit is nog maar net met betrekking tot die individuele regte wat in die Handves van Menseregte omskryf word – die lys kan dalk selfs langer wees as die kwessie van minderheidsregte – die ander been van menseregte – genoem word. Hoewel die Handves ook terloopse verwysings hierna het, is hierdie regte meer verspreid deur die grondwet, en onregstreeks deur byvoorbeeld Suid-Afrika se grondwetlike gebondenheid tot internasionale verdrae.

Tog het Gwede Mantashé, sekretaris-generaal van die ANC, gesê daar is geen sprake van dat die Afrikaner minderheidsregte sal verkry nie. Dr. Nkosazana Zuma het verlede jaar tydens die Kliptown-konferensie, nogal oor versoening, haar soortgelyk uitgelaat.
Dit maar om enkele voorbeelde te noem, en ‘n mens eis om te dink hoe sake kon lyk as Solidariteit en Afriforum nie reeds ‘n rits hofsake teen die staat gemaak het om die vertrapping van hierdie regte te stuit nie.

Koester die regte, en wees dankbaar daarvoor, maar moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Die stryd om dit te bestendig is nog lank nie verby nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

William ·

Volgens my beskeie mening moet daar volgens die misdade gepleeg en uitmoor van onskuldiges in Suid Afrika elke maand n menseregte dag gevier word. Wonder net hoeveel geld gaan weer misbruik word vir kos en drank vir die ANC se hoog geplaastes om andermaal fees te vier en n vinger na die verlede te wys terwyl baie meer mense daagliks onskuldig sterf as wat by Sharpeville die geval was .

HELENA SEABORNE ·

al hierdie vreeslike VAKANSIE dae vir dit en dat maak geen indruk ni. dit is net nog i vakansiedag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.