Nuuskommentaar: Met Malema is spulle in die dorp

Julius Malema, leier van EFF Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, leier van EFF Foto: Werner Beukes/SAPA

Wanneer die sirkus dorp toe gekom het, het oupa Nic altoos gesê die spulle is weer in die dorp.

Dié ou uitdrukking het blykbaar sy herkoms in die Nederlandse woord “spullen” wat op ‘n versameling, gewoonlik goedere, dui, en in Afrikaans nie altyd ‘n baie positiewe betekenis het nie, soos: “Na die kroeggeveg het die polisie opgedaag en die spulletjie in vangwaens geboender.”

Wanneer Julius Malema en sy party, die Economic Freedom Fighters (EFF), se uitsprake, baniere en optredes bekyk en beluister word, is dit baie moeilik om die spulletjie as iets anders as ‘n sirkus te beskou.

Was die implikasies van die rassetoon daarin nie so ernstig en gevaarlik nie, kon dit ook snaaks gewees het.

Maar daar is niks snaaks in die versteurde uitsprake, gevoed deur ‘n totale onbegrip van die geskiedenis oor sake soos onder meer grondbesit, hoe ‘n ekonomie werk, die regte van ander, verantwoordelikheidsin, ‘n waardestelsel of redelikheid in die optrede tot dusver van hierdie spulle nie. Ook nie in die reaksies wat dit in die sosiale media ontlok nie.

As daar een ding is waarmee Malema en sy spulle goed is, is dit om die aandag – en weerlig – te trek. Soos oud-minister Blaar Coetzee by geleentheid gesê het: “In die politiek is daar nie slegte nuus nie, net nuus.” Dié stelling mag ongenuanseerd nie korrek wees nie, want die Watergate-nuus was vir pres. Richard Nixon slegte nuus wat sy politieke loopbaan vernietig het, maar dit is ook so dat kiesers nie vir ‘n party kan stem waarvan hulle nie weet nie.

En Suid-Afrika word reeds op die internasionale persvryheidsindeks geknyp weens die beskouing dat baie van die media hier so op hul persoonlike politieke voorkeure fokus dat hulle glad nie die politieke diversiteit van die land weerspieël nie.

Hoe dan gemaak om ‘n alledaagse, huishoudelike naam by die kiesers te wees, en wat mediablootstelling betref, kers vas te hou by die regerende party en die media se gunstelingpartye? Die antwoord is eenvoudig: Sorg dat die weerlig jou raakslaan – dit is nuuswaardig. In hierdie toetse het Malema van hy op die openbare verhoog beland het, die onderskeidings ingeryg en sy “graad” met lof geslaag.

Vir baie Suid-Afrikaners het sy “debuut” gekom toe hy, tydens amptelike jeugdagvieringe in Botshabelo, die verhoog met Jacob Zuma, destyds nog net president van die ANC, gedeel het. Die feit dat beide, wat geen amptelike amp in Suid-Afrika beklee het nie as hoofsprekers by ‘n amptelike geleentheid waarvoor die belastingbetalers opgedok het was, het ‘n draai by die openbare beskermer gaan maak. Maar die eintlike nuus was dat Malema gesê het hy sal doodmaak vir Zuma.

Kort hierna het Zuma, toe president van die land, tydens ‘n openbare toespraak in Malema se grootworddorp die jongeling as kroonprins – ‘n toekomstige president van die land gesalf.

Die res, die skeur en breekspul tussen die twee is geskiedenis.

Malema het sy rolmodelle graag genoem – Mugabe, Ché Guevarra en Fidel Castro.

Malema weet hoe om tot die gemarginaliseerdes – en meer spesifiek die gemarginaliseerde swartes te spreek. Dit is die groep wat gewoonlik jonk en werkloos is, en wat die kort lootjie van die nuwe Suid-Afrika trek. En hulle is baie.

Tog is daar groot onsekerheid oor presies hoeveel steun die spulle geniet, en nog minder wat hul groeipotensiaal is. Malema self dagdroom van aan bewind kom, maar beskikbare peilings toon dat die party in die orde van 20 persent steun onder minstens verstedelikte jong swart mense kan hê. Met dié soort steun, sou daar nou verkiesing gehou word, sal die party in alle waarskynlikheid gevestigde partye soos die UDM, Cope, die ACDP en die Vryheidsfront Plus verdwerg.

Maar wat die spulle in stemvee kan wen, sal waarskynlik in hoofsaak getalle by die ANC tap. Sou dit realiseer, en die ANC beduidend erodeer, skep dit nuwe horisonne vir dit wat die gesamentlike opposisie kan vermag. Die groot vlieg in die salf is egter juis weer – watter party sal sy eie aansien wil skend deur enigiets met die spulle te make te wil hê?

Maar benewens ‘n gevaarlike sirkus, wat is die EFF?

Sy eie grondwet beskryf dit as ‘n radikale, linkse, anti-kapitalistiese anti-imperialistiese party.

Die woord “revolution” neem ‘n sentrale plek in Malema se woordeskat in. Met die amptelike byeenkoms by Marikana is ‘n banier vertoon wat opslae op die sosiale media maak, en die volgende woorde bevat: “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate.”

Die grondwetlike bepaling dat onteiening met vergoeding gepaard moet gaan, is vir die spulle ‘n steen des aanstoots. Die uitgangspunt is dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en daarom sonder kompensasie afgevat moet word.

Hierdie historiese bog val ongelukkig op ‘n veel groter braakland as net die werklose swart jeug. Opnames, soos vervat in die Matie Charl Swart se meestersverhandeling, toon dat ongeveer 85 persent van die swart mense – wat intellektuele insluit – ook glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Ander plakkate wat glo ook by Marikana gesien is, lui: “Honeymoon is over for white people in South Africa“.

We need to kill them like they killed us.”

Dit kom ook voor asof die spulle nie die woord “politieke opponent” ken nie, net “vyand.” En ondersteuners spel dit gereeld uit dat die grootste van hierdie vyande die “wit monopolie” is.

Kortom, is ‘n gepolariseerde heterogene gemeenskap, wat volgens sommiges duidelik meer gepolariseerd raak weens die regering se rasbeheptheid, is die spulle ‘n spulletjie wat Suid-Afrika so nodig het soos ‘n hou oor die kop.

Malema het sy toespraak afgesluit deur die liedjie waarvoor hy reeds aan haatspraak skuldig bevind is, “Skiet die Boer” te sing.

Hoe reageer ‘n mens op Malema en sy spulle? Verantwoordelike politieke partye sou vreeslik graag die spulletjie wou ignoreer , en sal waarskynlik so lank as moontlik probeer om juis dit te doen. Die spreekwoord lui immers: “Meng jou met die semels…”

Maar Malema laat hom nie ignoreer nie. Die mense wat hy so die harnas injaag, is ondersteuners van ander politieke partye, en die gevaar bestaan dat hierdie ondersteuners hul eie partye as slap en ruggraatloos gaan beskou deur die blinde oog op die spulletjie te werp.

AfriForum, ‘n burgerregte-organisasie en nié ‘n politieke party nie, neem waarskynlik die regte benadering in. AfriForum het in reaksie op Malema se polariserende uitsprake gesê dat minderheidsgemeenskappe in besonder en die gematigde meerderheid Suid-Afrikaners in die algemeen, hulle nie van stryk sal laat bring deur Malema se tirades nie. Volgens AfriForum het minderhede in die geskiedenis al baie groter uitdagings as Malema met groot sukses getrotseer. Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat sy organisasie hom nie op sleeptou sal laat neem deur Malema nie, maar dat AfriForum ook nie huiwer om ferm teen Malema op te tree, sou die situasie dit vereis nie. “AfriForum se regspan is reeds gevra om Malema se uitsprake die afgelope naweek te bestudeer en aanbevelings te maak oor moontlike optrede.“

Wat duidelik is, is dat hier ‘n heel ander dinamika intree as die “goeie ou dae” toe die Natte en Sappe mekaar te lekker met die opvoustoele bygedam, en Ladybrand se stadsaal se deur met kosyn en al uit die muur uit baklei het. Dis selfs ‘n ander dinamika as toe die Natte die “Hertzogiete” se sprekers met vrot eiers en tamaties bestook het, en selfs ernstiger as toe dr. Manie Schoeman in die parlement ‘n hou na die ANC se Johny de Lange gemik, maar De Lange die agbare Nat met ‘n lieflike haakhou plat op die parlementsvloer tot binne-in die  ANC in gemoker het.

Hier word nou van doodmaak gepraat en van Boere skiet gesing – ongeag hoe retories bedoel.

Dis iets wat die land nie kan bekostig nie, want in ‘n heterogene samelewing verstaan al die kulture nie alles dieselfde nie – en die spulle se vlamspoegvertoning kan die sirkustent aan die brand steek.

Vir kommentators bring die spulletjie welkome afwisseling. Daar  is waarskynlik nie een wat nie al sat is vir al die Zuma-bashing wat die president op homself trek nie. En soos Gill Moodie skryf oor Malema wat Zuma van die voorblaaie af dryf: “It really is amazing how King Tubby gets the media coverage that he does.Our president, for instance, was at an ANC shindig over the weekend in the Eastern Cape and there was a dramatic scuffle with his bodyguards and a man, apparently mentally ill, who tried to get into the Jacob Zuma’s car – and this only made one paper’s front page: the Daily Dispatch.

Ja, in ‘n Zuma-sat omgewing is Malema ‘n kleurvolle (maar klaarblyklik anti-wit) afwisseling, maar nie ‘n welkome afwisseling nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie Botha ·

Julius Malema,,,,,is die nuwe “Warlord”,,sy meerderheids volgelinge het niks te verloor,net om te wen deur vir Julius Malema te stem,dan kan hulle vat wat hulle wil he in “arnagie” ! Julius het n “langlyn” visvang metode gebruik met duisende hoeke aan,,,en gretige werkloses en gieriges het gebyt aan hierdie hoeke,en is almal ingetrek,met beloftes,as ons dit nie kry nie sal die “bloed” loop van die “witman” die “diewe” van Afrika!
Interesant dat die Palesteine meegedeel is dat E.F.F. sal hulle help om Isriaal te oorwin,seker as betaling vir die finansieele ondersteuning van Palestiena af,,,wie weet! Die feite bly staan,,wie ookal Julius Malema minag,as n “foefie” ,,,,,wees gewaarsku,,,,hy het reeds ernstige krake veroorsaak in die huidige meerderheids regering,en skroom nie om almal te waarsku,,,dat die E.F.F. gekom het om te bly!,,,en o.a. ook n eed gesweer op die bloed wat in die grond ingetrek het op Marikana,,,,,,ek is maar versigtig en paraat vir “mens” wat besig is om n teelaarde vir revolussie te skep!

Agent Koos ·

Ek stem saam, die grootste fout sal wees om hom te onderskat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.