Nuuskommentaar: Midrandkongres keerpunt vir grondwetlike demokrasie? Kan tegnokrasie oorleef?

Met die oë op die ANC se groot kongres die einde van die jaar in Bloemfontein, word die komende week se ANC-beleidskongres in Midrand dalk nie altyd in die belangrike perspektief beskou wat dit verdien nie.

Na die Griekse stadstate ‘n vorm van demokrasie aangeneem het, was dit dikwels nog die praktyk om, in tye van oorlog, sogenaamde tiranne aan te stel wat as diktators die state deur die oorlog moes regeer. Die vertroue in die demokrasie om dit te kon doen, het nog lank ontbreek.

‘n Nederlandse hoogleraar, Jouke de Vries, professor in bestuurskunde aan die universiteit van Leiden, skets nou ‘n moderne weergawe van dié ou Griekse oortuiging. Onder die opskrif, Opmars van die tegnokrate, skryf hy in Trouw dat Nederland se finansieel-ekokonomiese probleme so groot is dat politici nie by magte is om dit op te los nie, en dat daar in dié land ook, soos elders in verskeie wêrelddele, meer dikwels tegnokrate op die toneel sal verskyn. Onder die voorbeelde wat hy gebruik, is die Italiaanse premier, Mario Monzi wat sonder verkiesing in die plek van die “hansworsagtige” Berlusconi aangewys is. Monzi is ‘n tegnokraat, en sy aanwysing het dadelik meer vertroue in Italiaanse instellings geblaas.

Die Vries meen ook die jongste Griekse verkiesing lewer meer tegnokrate op wat die leisels daar sal kan behartig. Selfs in Nederland is daar ‘n opmars van tegnokrate aan die kom, met die minister van finansies, Jan Kees de Jager wat homself glad nie as politikus beskou nie.

Word na die Midrandkongres gekyk, sou ‘n oorname deur tegnokrate ook hoog op die lys van baie ekonome se agenda wees, al was Suid-Afrika se geskiedenis voor 1994 van tegnokrate wat soms as ministers van Finansies gedien het, dikwels minder suksesvol. Dit sal nogal ‘n interessante debat wees of die belangrikste nie is dat die land vertroue moet hê in ‘n deeglike kundigheid in amptenare en adviesliggame nie, en ‘n politikus wat die balanseertoertjies ken om na raad te luister, maar met genoeg populistiese uitsprake die grootliks oningeligte publiek wolle oor die oë te trek.

Beleidskongresse van politieke partye is deeglik bekend daarvoor dat onpraktiese en selfs duidelik lawwe voorstelle op die tafel kan beland, maar met die groter perspektief van wyer belange, in die slag bly. Jare gelede het die Smithfieldse tak van die Nasionale Party ‘n besluit probeer deurvoer om te vra dat Bloemfontein die enigste hoofstad van Suid-Afrika moet word, omdat die land daardeur miljoene ponde per jaar sou bespaar. Goed of sleg, die voorstel het nie ver gevorder nie, en met die koms van die grondwetlike hof, is Bloemfonteinse status as geregtelike hoofstad min of meer ‘n klug.

Dit sal egter ‘n groot fout wees om die ANC se beleidskongres nie met die nodige erns te bejeën nie. Wat die kongres betref, is Suid-Afrika vir praktiese doeleindes ‘n eenpartystaat. Dit is nie opposisiepartye wat die ANC sal verhinder om selfs ongrondwetlike besluite deur te voer nie, maar die grondwet, wat tweederde en selfs in sommige gevalle, groter meerderhede vereis om grondwetlike veranderings aan te bring wat die aanvaarding van sommige voorstelle sou behels.

Hieronder tel nasionaliseringsvoorstelle, veral voorstelle uit die jeugliga, en dat dit sonder kompensasie moet geskied. Na berig word steun Cosatu ‘n voorstel dat die grond in Suid-Afrika staatsgrond moet wees en aan gebruikers verhuur moet word, min of meer soos in Mosambiek. Daar is voorstelle wat die provinsies sal raak, soos die vermindering van provinsies, wat ook grondwetlike implikasies het. Die grondwet is al lank onder skoot – nie net van die radikales nie, maar van Zuma en sy getrouste ondersteuners soos dr. Blade Nzimande. Nzimande is ‘n radikaal in eie reg, maar mak in vergelyking met die radikalisme wat bloots deur onder meer Numsa gery word.

Of erger no, dat die grondwet as sondebok voorgehou vir die gevolge van die  ANC se power vertoning as regerende party. Dat die aanvaarding van sommige van die voorstelle in wese die opskorting van die Nasionale Akkoord behels, is al ou nuus maar het nie minder ernstige implikasies nie. Dit plaas die onderskeie gemeenskappe in Suid-Afrika in min of meer dieselfde status as dié tussen Noord- en Suid-Korea, waar geen formele vredesooreenkoms bestaan wat die oorlog tot ‘n einde gebring het nie. Maar al het die eensydige opskorting van die vredesakkoord ook geen juridiese implikasies nie, het dit die praktiese implikasie van verdere polarisering.

Die radikales het min of meer alle rewolusionêre toestande in hul guns – grootskaalse werkloosheid, armoede, inkomste-ongelykheid en persepsies wat enorme vlakke van onkunde voed. Cosatu maak geen geheim daarvan dat hy meen die ANC het beloftes aan hom nie nagekom nie, en die implikasie is duidelik – daar sal nou toegesien word dat beloftes wat gereeld aan radikales gemaak word, nagekom word. En die radikales het ‘n stewige stok daarvoor – die kongres in Bloemfontein waar pres. Jacob Zuma en sy kornuite ge-Polokwane kan word. Zuma kon tydens sy bewind nooit die beeld van ‘n koersvaste leier ontwikkel wat die populiste met ‘n sterk toespraak met die kluitjie in die wind sou kon wegstuur nie. As dit so moeilik vir die land gaan wees om die regte ekonomiese besluite te neem, waar kom kwessies oos die groen ekonomie, klimaatverandering, voedselsekuriteit en ander grootlikse tegnokratiese kwessies in?

Juis nou dat Suid-Afrika, nog meer as baie ander lande, nodig het dat die tegnokrate die land deur die drif sleep, gaan dit moeilik wees om ‘n radikale storm af te weer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.