Nuuskommentaar: Midvaal en verkiesingsknoeiery

Screen Shot 2013-10-15 at 12.46.48 PMDie DA se Gautengse bastion, Midvaal, gaan verdwyn, maak nie saak hoe die inwoners daaroor voel nie, en die DA gaan hof toe. In Giyani in Limpopo eis die inwoners ‘n eie munisipaliteit. Het die munisipale afbakeningsraad objektiewe besluite geneem, of word die politieke meesters se belange gedien?

‘n Hofsaak sal vermoedelik hierdie vraag beantwoord.

In werklikheid het die afbakeningsraad gister verskeie saamsmeltings aangekondig wat veral KwaZulu-Natal raak, maar die aandag was veral op Midvaal, en twee munisipaliteite wat nie nou verander nie, Malamulele op Giyani en die beoogde samesmelting van Metsimahole (Sasolburg en omgewing) en Ngwathe by Parys. Oor laasgenoemde voorneme het baie ernstige onluste uitgebreek, en het woedende inwoners ernstige bymotiewe gelees in die ANC se voorneme tot samesmelting. Ironies wil baie inwoners van Heilbron, wat voel hulle is vanuit Parys “gekoloniseer” ook weer ‘n eie munisipaliteit terug hê.

Om geografie vir politieke manipulasie in te span, is niks nuuts nie. Politieke geograwe is soms ook meesters daarvan om emosies op te sweep op die wyse waarop sekere politiek-geografiese werklikhede uitgebeeld word. Die een land se propagandiste sal die tongetjie van ‘n ander land wat in sy grondgebied in strek soos ‘n dolk uitbeeld wat in hom steek. Die ander land s’n beeld hulself as die slagoffer uit van die buurland wat soos ‘n wrede vis ‘n stuk van hul land in sy kake beet het.

Vir DA-ondersteuners is Midvaal ‘n oase in die ANC-woestyn van verval. Vir die ANC is Midvaal ‘n doring in die vlees.

Op provinsiale vlak is dit vir die ANC ‘n doring in die vlees dat die Wes-Kaap nie net in die sakkie is nie, maar in talle opsigte die ander provinsies uitpresteer. Binnelanders sê gereeld ‘n besoek aan die Wes-Kaap is nie net lekker omdat dit by die see is nie, maar om ‘n slag weer te ervaar hoe dit voel om op ‘n plek te wees waar munisipaliteite werk, met onder meer skoon sypaadjies.

Die ANC wil met die volgende verkiesing die Wes-Kaap “bevry” terwyl die ANC wild kwaad was toe daar in die Wes-Kaap na die derduisende emigrante wat uit die Oos-Kaap stroom, as vlugtelinge verwys is. Die vermindering van provinsies bly op die ANC se agenda en die Wes-Kaap is sterk in die visier om by die Oos-Kaap ingelyf te word, wat gesamentlik ‘n taamlike veilige ANC-vesting sal wees.

Die Noord-Kaap se ANC-beheer is aansienlik versterk deur die grens met Noordwes te verander, en so van Noordwes se “surplus” ondersteuners in die Noord-Kaap te laat beland.

Die begrip gerrymandering (verkiesingsknoeiery) het sy ontstaan in 1812 toe die goewerneur van Massachusetts, Elbridge Gerry, die kiesafdelings in sy staat so aangepas het dat dit sy party die meeste sou bevoordeel. Een kiesafdeling in Boston is so erg gemanipuleer dat dit die voorkoms van ‘n salamander gehad het. Met die aanbreek van die huidige Amerikaanse “shut down” het die Christian Science Monitor wat in die einste Boston gesetel is, geskryf dat aansienlike gerrymandering plaasgevind het toe die konserwatiewe Tea party (wat op sy beurt ook op die Bostonse Tea party van 1773 dui) op sy hoogtepunt was. Hierdeur is die posisie van sowat 80 Tea party ondersteuners in die Huis van Verteenwoordigers min of meer verskans, en oefen die Tea party ‘n beengreep op die Republikeine uit wat in hierdie huis ‘n meerderheid het. Trouens, in die VSA is kiesafdelings so saamgestel dat ‘n president met meer kieskolleges aan bewind kan kom, terwyl hy minder algehele stemme as sy teenstander getrek het. Dit het al vier keer gebeur, met die mees onlangse toe George W. Bush in 2000 gewen het, maar meer as ‘n halfmiljoen stemme minder as Al Gore getrek het.

In Suid-Afrika is die samesmelting van munisipaliteite dikwels ‘n teer puntjie. Die eerste teer kwessie is dat Suid-Afrika in die ou bedeling afsonderlike munisipaliteite vir wit en swart gehad het, of meer tegnies korrek, munisipaliteite vir wit, bruin en Indiër, en ander vir swart. Waar swart dorpe aanvanklik deur administrasierade, later omskep in ontwikkelingsrade, besuur is en gerem is omdat aangevoer is swart mense buite die tuislande is net tydelik daar, het sake so ontwikkel dat die swart munisipaliteite uiteindelik tegnies effens meer magte as die wit munisipaliteite gehad het.

Dit is as ontwerpe van apartheid beskou, en dit was effektief vanselfsprekend dat hulle saamgesmelt sou word.

Effektief saam hiermee is kleiner “surplus”-munisipaliteite, soos munisipaliteite vir hoewegebiede, ingesluk – amptelik omdat dit in die kleiner munisipaliteite se belang sou wees, maar in werklikheid om die hande op die “surplus”-fondse te kon lê sodat agtergeblewe gemeenskappe meer gefinansier kon word. Dit word graag aangevoer dat dit blote toeval is dat elke keer wat ‘n munisipaliteit se status, dikwels weens hierdie saamsmeltings, verhoog word, neem die salarisse van raadslede, burgemeesters en senior amptenare aansienlik toe. Die sogenaamde “surplusfondse” gaan maar te dikwels in die sakke van betrokkenes in, peperduur onthale, luukshede en, ja, volgens die ouditeur-generaal se jaarlikse slagting, sommer net weg.

‘n Tweede argument is dat saamsmeltings beter kundigheid verseker, maar danksy die amptelike kader-ontplooiingsbeleid kom hiervan min of meer dadels.

Met Midvaal se samesmelting met omringende munisipaliteite gaan daar juis ‘n nuwe metro tot stand kom, en ondervinding het geleer dat dit dikwels gebeur hoe groter munisipaliteite word, hoe groter word die probleme, wanadministrasie en sommer die hele gemors. Vra maar vir Johannesburgers hoe hul kragrekenings maand na maand kortsluitings maak en die betalers se gemoedere laat “trip.”

Veral ouer inwoners wie se aftreegeldjies nie tred hou met die maghebbers se persoonlike gelddors nie, trek noustrop.

Dis nie asof die ANC met Midvaal ‘n model-munisipaliteit oorneem nie, In 2011 het die openbare beskermer ‘n taamlik verdoemende verslag oor die munisipaliteit uitgereik, en verskeie aspekte is na onder meer die Valke verwys. Die Valke se verslag is nog nie voltooi nie. Die ANC was ook gou uit die blokke om dié feit op te rakel na die nuus dat Midvaal ingesluk gaan word.

Wie gedink het die manipulasie van die geografie vir politieke doeleindes is saam met die geopolitici begrawe misgis hulle. Dit is ook ‘n front waarop die oog gehou moet word om te keer dat die land in ‘n totalitêre land gemanipuleer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Die ANC-regering kan nou maar enige truuk uithaal om homself polities en geografies te bevoordeel – een saak staan egter soos ‘n paal bo water en dit is dat hy nie nooit daarin sal slaag om die lot van die duisende werkloses, dakloses en armes te verbeter nie. Inteendeel al sy beloftes van ‘n beter lewe vir die sogenaamde agtergeblewenes is slegs ‘n skyn want eintlik het al die ANC-elite, wat ook alle hoë poste in die regeringsdiens vul, net een doelwit op die oog en dit is selfverryking – dis juis om hierdie rede dat korrupsie, bedrog en diefstal hoogty vier in die regering

‘n Verdere rede waarom die ANC in die toekoms swakker sal vaar is omdat die al groterwordende swart middelklas die onvermoë van die ANC al meer sal raaksien en ‘n ander politieke tuiste sal soek wat hulle ‘n groter waarborg vir voorspoed sal bied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.