Nuuskommentaar: Misdaadstatistiek en persepsies daarvan

Die misdaadstatistiek word voorgelees. Foto: EWN

Met die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek het die polisie en die regering hulle in twee probleme vasgeloop: dit bly, ten spyte van ‘n effense afname, bitter hoog, en die publiek trek die akkuraatheid van dié inligting sterk in twyfel.

Dit is ‘n probleem as die publiek se eie ervaring van misdaad en die syfers nie strook nie. Daar is dus wye skeptisisme, soos blyk uit die 100 % Maroela-lesers wat teen vanoggend steeds in die lopende peiling aandui het dat hulle die syfers met ‘n knippie sout neem.

Tog lyk dit of die polisie redelik kon raakvat as die syfers vergelyk word met data wat deur ander instansies soos versekeraars bygehou word.

Moordkoers steeds byna een mens elke halfuur

Persepsies buite rekening gelaat – daar  is min rede vir vreugde as die Suid-Afrikaanse moordkoers steeds 30,9 per 100 000 van die bevolking is teenoor die wêreldgemiddeld van 5 per 100 000 per jaar. Amper 16 000 mense is in die vorige boekjaar vermoor, oftewel 44 per dag, of byna twee elke uur.

Dat die moordkoers in die Wes-Kaap steeds die hoogste pro rata in die land is, dui boonop daarop dat die sosio-maatskaplike probleme wat bendegeweld onderlê baie ver van opgelos is. Om perspektief te kry: Sedert die Meksikaanse regering in 2005 oorlog teen die dwelmkartelle verklaar het, het moorde byna drievoudig toegeneem. In 2005 was die Meksikaanse moordkoers 9 per 100 000 per jaar. Verlede jaar het dit tot 24 per 100 000 per jaar toegeneem, en meer as 27 000 mense het omgekom. Suid-Afrika se moordkoers wat afneem, is steeds veel hoër as dié van Meksiko met sy dwelmkartelle.

Seksmisdaadsyfers misleidend; SA steeds bo

Die geringe afname in die koers van seksmisdrywe is effektief niksseggend omdat ‘n baie klein persentasie van verkragtings volgens die polisie self ooit aangemeld word. Syfers van een uit sestig, maar meer algemeen een uit dertig wat by die polisie aangemeld word, word genoem. Maar selfs sonder die lae aanmeldkoers, is Suid-Afrika die verkragtinghoofsetel van die wêreld. Dat die slagoffers van babas tot bejaardes wissel, dui op ‘n siek gemeenskap.

Ongelukkig is daar ook ‘n aantal kategorieë waar die oortredingskoers toegeneem het. Diefstal wat nie in spesifieke kategorieë opgeneem is nie, het betreklik skerp toegeneem, wat ongelukkig vraagtekens plaas oor die afnames in sekere spesifieke kategorieë van diefstal. Boonop het veediefstal ook toegeneem wat nie net die diefstalprobleem van die land onderstreep nie, maar ook die aandag van die regering oor landelike misdaad opeis. Kort voor die misdaadstatistieke bekend gemaak is, het dit bekend geword dat die bekende skrywer, Chris Barnard, ook die slagoffer van ‘n plaasaanval was. Die polisie hou ten spyte van druk nie afsonderlike data oor plaasaanvalle by nie, en dit is ook nie meer ‘n prioriteitsmisdaad nie, wat die vertroue in die polisie ernstig skaad.

Ook oor veediefstal is daar vraagtekens as dit teen die werklike omvang gemeet moet word, soos dat hierdie syfers, en die syfers van landbousensusse baie verskil – in omvang en geografiese voorkoms.Diefstal uit voertuie het ook toegeneem, en volgens gereelde terugvoer deur die polisie en versekeraars hou dit deels verband met skelm voertuigeienaars wat hul verouderde selfone en skootrekenaars oop en bloot in voertuie laat, juis om gesteel te word sodat die versekeraars ‘n deel van die opgraderingskoste moet betaal. Dit dui op ‘n bykomende probleem van ‘n siek ingesteldheid.

Dronkbestuur: minder weens slapper wetstoepassing?

Wat beslis op ‘n groeiende maatskaplike probleem dui, is die skerp toename in dwelmverwante misdrywe. Die toename in gevalle van mense wat vir dronkbestuur aangekeer is, hang hiermee saam, maar verdien ook ‘n bietjie meer aandag: Die land se aankeerkoers het verhoog, maar in die Vrystaat effens afgeneem. Hierdie is ‘n duidelike statistiese uitskieter. Die land se gemiddelde koers is 137,3 per 100 000, maar in die Vrystaat is dit nou 55,2 per 100 000. Tog is die Vrystaatse syfers hoër as dié van Limpopo en Noordwes, en statisties is die persentasie bestuurders wat met Bacchus in die lyf agter die stuurwiel inklim veel minder as anderkant die wyngordyn, waar die aankeerkoers 331,6 per 100 000 is. Nog iets wat verklap dat dit nie oor nugterder bestuurders gaan nie, maar oor slapper wetstoepassing is dat Mpumalanga se koers tot vyf jaar gelede nog laer as dié van die Vrystaat was, en gestyg het tot 102,7 per 100 000. Dit maak nie sin dat juis dat die bestuurders in een provinsie in vyf jaar amper drie keer meer sou gaan dronkbestuur nie.

Indien die syfers wel aanduidend van die persentasie mense is wat wél dronkbestuur, sou daar ook ‘n verband met die provinsiale padsterftesyfer verwag kon word omdat alkohol een van die hoofoorsake van ongelukke is. Beskikbare syfers dui egter eerder ‘n pro rata toename in noodlottige ongelukke in provinsies waar die aankeerkoers laag is.

Nog ‘n syfer wat effens hoër is, ontvoering, dui ook op ‘n sosio-maatskaplike probleem.

Met die hoë misdaadkoers is dit te wagte dat ondernemings en individue wat dit kan bekostig baie sterk veiligheidsmaatreëls sou instel. Daar is byvoorbeeld nou al drie keer meer privaat sekuriteitspersoneel in diens as die sterkte van die polisiediens. Die geringe toename in diefstal en rooftogte by sake-ondernemings word hoofsaaklik aan toenames in ondernemings in die informele sektor toegeskryf.

Hoër misdaadsyfers soms goed

Hoër misdaadsyfers is nie noodwendig sleg nie, omdat dit in sekere kategorieë  soos die onwettige besit van vuurwapens, dwelmhandel en dronkbestuur juis op strenger wetstoepassing dui. Dat handelsmisdaad afgeneem het kan op ‘n afname van sulke misdaad dui, maar ook op minder korrupsie wat oopgevlek word. ‘n Afname in verkragting en diefstal kan ook op verminderde vertroue in die polisie en dus ‘n laer aanmeldkoers dui.

As moord afneem, is dit ongetwyfeld goeie nuus maar vertroue in die polisie se syfers sal eers behoorlik herstel wees as die polisie en die Mediese Navorsingsraad mekaar hieroor kan vind.

Die somtotaal is dat die land moraliteits- en sosio-ekonomiese probleme ervaar. Ingesteldheid is ‘n verdere probleem, soos daaruit blyk dat ‘n peiling getoon het die meerderheid Cosatu-lede glo stakings moet met geweld gepaard gaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae