Nuuskommentaar: Moddergooi met grond

Gewild was dit nie, politiek korrek miskien nog minder, maar dat iemand in die parlement moes opstaan en perspektiewe regstel oor wie waar was toe die verskillende bevolkingsgroepe mekaar op Suid-Afrikaanse grondgebied ontmoet het, was onvermydelik. Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, en adjunk-minister van Landbou is die persoon wat sy kop hiervoor op die blok gaan plaas het.

Die rede hiervoor moet die ANC wat nou so ontstoke reageer, in sy eie geledere soek. Die ANC is waarskynlik die mees rasbehepte party van die 21ste eeu ter wêreld. Rasgedrewenheid word in so ‘n magdom wette en regulasies opgeneem dat dit die wetgewing van die apartheidsera volgens sommige waarnemers al lank na die kroon steek. Suid-Afrika is die enigste land waar die numeriese meerderheid wat die regeermiddele in die hande het, die voordeel van affirmative action trek.

Boonop kan die ANC net homself blameer as die kwessie nou in sy gesig ontplof. Pres. Jacob Zuma het onder meer die verhoog met Julius Malema gedeel toe dié omstrede leiers van die ANC-Jeugliga met verwysing na grondbesit, na blankes as misdadigers verwys het. Zuma het die jongman nie gerepudieer nie – nou nog nie na hy Mulder die kop gewas het – en toe Malema dissiplinêr verhoor is, is hy op hierdie aanklag vrygespreek omdat daar glo ‘n gebrek aan getuienis was. Het Zuma op sy ore gesit, of is die kwessie net te sensitief om binne die ANC aan die werklike geskiedenis gemeet te word?

Dit is ook die ANC se keuse om Malema by voorbaat tot in die grondwetlike hof te verdedig na hy aan haatspraak skuldig bevind is oor die sing van ‘n liedjie met die strekking dat die boere geskiet moet word.

Presies wat het Mulder gesê? Hy het daarop gewys dat swart mense, soos gedefinieer deur die regering se begrip van Africans 40 % van die land se grondgebied eers na die blankes beset het. Hy gee ‘n historiese akkurate weergawe hiervan, en gaan dan voort om aan die hand van syfers van die Ontwikkelingsbank die departement van landelike ontwikkeling se syfer dat nog slegs 8 % grondbesit na swart hande verskuif het, te bevraagteken.

Sapa het ‘n noukeurige weergawe hiervan gegee.

Mulder het later in onderhoude voorts gewys na die historiese posisie van die Koisan as eerste bewoners en besetters van die land.

Zuma se heftige reaksie is waarskynlik beïnvloed deur die verklaring wat die DA, by monde van mnr. Mmusi Maimane onder die opskrif ”Mulder needs a history lesson”  uitgereik het. Hy impliseer dat Mulder die geskiedenis verdraai, iets wat opsigtelik onwaar is, en begin sy verklaring deur te sê dat Mulder gesê het swart mense het geen aanspraak op 40 % van die land se oppervlak nie. Dit is blatante duimsuiery, waarvoor die media reeds deur ontevrede deelnemers aan die debatte wat op die kuberruim gevolg het, geblameer word.

In die proses word dit ‘n hartseer parodie van aanslane. Die eerste aanslaan was toe ANC-LP’s Mulder gehekel het met ‘n tegnokratiese weergawe van die geskiedenis. Hierna het Maimane die bal laat val toe hy woorde in Mulder se mond gelê het, en die media het ook die bal laat val deur Maimane se duimsuiery vir dieselfde prys as waarvoor dit aangeskaf is, te gaan verkwansel.

Dit het aan Zuma die gaping gebied om die morele hoë grond te probeer herwin. Mulder word verguis vir iets wat hy nie gesê het nie, en die ANC se aandeel deur die sing van “Skiet die Boere,” duidelik gedokterde grondhervormingsyfers, ‘n onbekookte groenskrif wat sonder die afhandeling van die nodige skaafprosesse tot beleid verklaar is, is op die agtergrond.

Mnr. Louis Meintjies, president van die TLU SA het dit soos volg gestel: “Die ANC jaag self die emosies oor grond en eiendomsreg op met ’n Groenskrif oor Grondhervorming, praatjies van nasionalisering, dreigemente van onteiening en pres. Zuma se verklaring dat die gewillige koper, gewillige verkoper beginsel nie werk nie. Verder word emosies opgejaag deur ’n president wat sing ‘Bring my masjiengeweer’, en sy party wat graag wil sien dat ‘Skiet die boere’ in die openbaar gesing moet word. Mnr. Zuma probeer duidelik nou die verdedigers van eiendomsreg die swartskape maak.  Ons het kennis geneem daarvan dat hy in sy Staatsrede gemeld het dat hy alle grond in terme van die Grondwet van eienaarskap na sogenaamd voorheen benadeeldes wil oordra.  Die ANC kan nie eenvoudig die geskiedenis wil herskryf en maak of alle grond voorheen gesteel is nie. Dit is histories nie reg nie maar hy probeer deur die punt te bereik dat as die leuen genoeg herhaal word, dit uiteindelik geglo sal word.”

As na die internet-reaksie gekyk word, sal die Vryheidsfront Plus nou tot sy eie nadeel verder aan die huidige opposisiesamewerkingsooreenkoms deelneem – in elk geval voor die DA nie vir Maimane tot orde roep nie. Selfs Zuma het in sy uittrappery van Mulder sy woorde versigtiger as Maimane gekies.

Die hartseer werklikheid is dat opnames toon dat meer as die helfte van die swart respondente wel glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. ‘n Groeiende aantal blankes glo dit ook, die skynbare gevolg daarvan dat die oorwinnaars die geskiedenis skryf. Die ANC is duidelik van plan om op hierdie persepsie te teer, en dit sal jammer wees as die DA ook verdraaide historiese persepsies aanwend om politieke munt te slaan.

Die uiteindelike kwessie is: Is Suid-Afrika ‘n reënboogland met duidelik onderskeibare bane, ongeag of die bane uiteenloop of saam ‘n reënboog vorm verenig in diversiteit soos bepaal in die grondwetlike beginsels en die vryheidsmanifes, of is die land slegs die swart mense se land?

Lippediens aan die een, en aktiewe maatreëls om die ander te dien, is nie volhoubaar nie. Polarisasievlakke is te hoog om opportunisme in politieke punte te probeer verdiskonteer. ‘n Verdraaide geskiedenis bou egter die konflikpotensiaal blywend in ‘n reënboog in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.