Nuuskommentaar: Moermeter in rooi en die bôlle rol – ‘n president van doen en late

President Jacob Zuma

Die ouer lesers sal seker nog die ou drukkokers met die “melkkannetjie” op die stoomklep onthou. Kos is so gouer klaar gekook, maar soms het die druk binne die pot eenvoudig te vinnig opgebou, en is die “mekkannetjie” met ‘n klapgeluid teen die plafon geskiet, gevolg deur die sous van dit wat aan die prut was.

Die druk in die ANC bou ook op namate die kongres in Bloemfontein die einde van die jaar naderkom. ‘n Paar vergaderings van pres. Jacob Zuma het nou al tot vuisgevegte gelei, en minister Collins Chabane wat op Jeugdag vir Zuma moes instaan, se toespraak is ontwrig.

Gisteraand was dit weer sulke tyd, toe ‘n groep ‘n prestige lesing van die president in Limpopo ontwrig het. Groot getalle gaste vir die lesings, klaarblyklik Zuma-ondersteuners, is met busse uit KwaZulu-Natal en Mpumalanga aangery.

Tydens ‘n vorige gedenklesing, in Kaapstad, is verrigtinge ook ontwrig en is ‘n joernalis beseer.

Terwyl sommiges hul dik bekke agter maskers van duidelik opgemaakte dienstigheid aan die president verdoesel, sit ander dikwels letterlik droëbek soos onbekwame kaders hul dorpe die afgrond in dronkbestuur. Zuma se beloftes op beterskap bly gewoon beloftes.

Protes binne die ANC, soos die dienstebetogings, of eerder, gebrek aan dienste-betogings, is nou alledaags, maar nou is dit boonop duidelik dat ‘n groep Zuma self teiken en waarskynlik Zapiro se pen na die kroon steek om dit vir die president moeilik te maak om presidensieel te lyk.

Zuma self doen egter min om sy beeld as waardige president te vestig. Sy persoonlike lewe laat veel te wense oor, sy godsdiensuitsprake het ‘n ongekende hoeveelheid vermanings van kerke ontlok, en in leierskap in ‘n heterogene samelewing laat sy regeerstyl veel te wense oor.

Dit is dus lank nie net die jeugdige teenstanders in die ANC wat dikbek is nie.

Die vernaamste kerke is onlekker met die president wat nie net gereeld godsdiens vir politieke gewin inspan nie, maar boonop vreemde godsdienssienings opdis. Die boere word kort-kort in die gesig gevat deur uitsprake soos dat plaasmoorde nie uitskieters op die gewone misdaadstatistiek verteenwoordig nie, iets wat gewoon net nie waar is nie, asook vreemde uitsprake oor grondbesit. Verskeie landbouleiers het nou al die afgelope paar jaar verklaar dat die boere se moermeters in die rooi loop.

Ekonome trap katvoet oor die president se voorliefde vir kommuniste wat hy in sleutel-ministeries aanstel, asook elders in die ANC.

Verskeie instansies het al ‘n rits voorbeelde van onkunde aan die kant van Zuma gelys en dan die vraag gevra wie op aarde die president so verkeerd inlig? Dit ontlok weer reaksie omdat van die standpunte van die president geskoei is op persepsies van baie mense deel, ongeag of daardie persepsies met werklike feite verband hou. ‘n Verantwoordelike president werk egter op feite en bestuur bloot persepsies op ‘n verantwoordelike wyse – maar Zuma reageer daarop op ‘n manier wat die druk laat opbou.

En oplaas moet die Afrikaanse sepsieslawe nou kort-kort ervaar hoe 7de Laan ontwrig word deur Zuma se stukkende horlosie. Gisteraand was dit weer so toe die president meer as ‘n uur laat by die verrigtinge opgedaag het wat regstreeks op SABC 2 uitgesaai is.

Die ironie is dat Zuma omtrent net soveel spanning laat opbou deur dit wat hy versuim om te doen, as wat hy doen. Zuma het wel sy kabinet ongewoon baie vir die ANC geskommel, maar steeds te lank gewag en dan ook nie altyd raakgevat met wie bly, en wie gly nie.

Die druk bou ook op omdat dit nog nie duidelik is of die president einde vanjaar die leierskapstryd gaan oorleef of nie. Die ANC het ‘n verbod geplaas op stemwerwery tot nader aan die verkiesing, maar dié verbod geld klaarblyklik net Zuma se potensiële teenstanders.

Vir Zuma is ‘n tweede termyn baie belangrik, maar of die land dit kan bekostig is ‘n ander vraag. Aan die ander kant, dit kan die skeuring in die ANC verhaas, wat die land na ‘n meer bestendige veelpartydemokrasie kan laat aanbeweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.