Nuuskommentaar: Moet Suid-Afrika die Olimpiese Spele aanbied?

President Jacob Zuma tyden ‘n perskonferensie in Japan. Foto: Baba Jiyane/GCIS

Pres. Jacob Zuma het pas tydens sy ampsbesoek aan Japan gesê dat hy geneë is dat Suid-Afrika die Olimpiese Spele van 2024 aanbied.

Dit klink nog ver in die toekoms, maar die kortlys van stede vir die aanbied van die 2020 Olimpiese Spele wag reeds om te hoor wie van Tokio, Madrid en Istanbul View postdie Olimpiese Spele van 2020 gaan aanbied. Dié aankondiging word op 7 September verwag.

Rio de Janeiro bied die 2016 Olimpiese Spele aan, nadat Brasilië ook aangewys is om die volgende eindtoernooi van die sokkerwêreldbeker aan te bied.

Suid-Afrika het aanvanklik aangedui dat hy ‘n bod vir die 2020 Olimpiese Spele sou indien, maar die regering het destyds besluit dat hy eers op ander prioriteite gaan fokus. Durban is toe as gasheerstad genoem.

Intussen is Amerikaanse stede reeds volstoom aan die werk om hul voorleggings vir die aanbied van die 2024 Olimpiese Spele voor te berei. Een van die stede wat genooi is om ‘n bod in te dien is San Diego, wat geskiedenis gemaak het deur ‘n aansoek in te dien dat hy sy “susterstad” in Meksiko, Tijuana, as mede-gasheer benoem het. Indien dit slaag sal dit die eerste keer wees dat stede in twee lande die spele aanbied.

Maar kan Suid-Afrika die spele aanbied, en so die eerste Afrikaland word wat dit aanbied?

Die Londense Olimpiese Spele het die stad sowat $13,9 miljard gekos. Met die rand nou laag is dit maklik om te bereken dit kom op sowat R130 miljard neer.  Londen het gelyk gebreek, maar in 2004 het Athene ‘n verlies van tussen $14 miljard en $15 miljard gely. Die aanbieding het Athene volgens die begroting daarvan, ook sowat miljarde uit die sak gejaag. Die reuse verlies word as bydraend beskou tot die probleme wat die Griekse ekonomie nou so kniehalter.

Omdat Kaapstad (en die Wes-Kaap) volgens huidige aanduidings teen 2024 nie deur die ANC regeer sal word nie (en in ANC-terminologie dan nog nie bevry sal wees nie), is dit baie onwaarskynlik dat dié stad ‘n regmerkie van die regering sal kry om die geleentheid aan te bied.

Geen ander stad, behalwe Durban, wat werklik binne trefafstand van die see is waar van die items aangebied word, lyk na ‘n moontlike kandidaat nie. Verskeie binnelandse stede, soos Meksiko-stad, het egter al die Olimpiese Spele aangebied met ander sentra wat dan vir die “see-items” moet instaan. Selfs met die Londen-spele is van die items aan Engeland se suidkus aangebied, betreklik ver van Londen af. Slegs Johannesburg, dalk in samewerking met Rand-stede en selfs Pretoria, lyk na moontlike kandidate.

Ongelukkig, “tipies” van Suid-Afrika, het Zuma se flikkers vir die aanbied van die Olimpiese Spele, saamgeval met die gedeeltelike bekendmaking van die Manase-forensiese verslag oor die eThekwini-metro (Durban). Dat daarin onregmatighede, selfs deur raadslede, uitgewys is blyk uit die aankondiging dat drie van die raadslede reeds tussen ‘n paar weke en ‘n jaar van hul vergoeding aan die raad moes terugbetaal. Wat die IOK sou wou hoor is dat dié raadslede geskors is en krimineel vervolg gaan word.

Volgens RSG-nuus het die ouditeur-generaal in sy jongste verslag bevind dat tot soveel as ‘n half miljard rand onregmatig in die 2009/2010 geldjaar deur die  metro bestee is. Dit was weens afwykings in die voorsienings-kettingbestuurprosesse wat die deur oopgelaat het vir bedrog, korrupsie en wanadministrasie. Die name van tien raadslede van die metro wat deur munisipale tenders bevoordeel is, is ook in die verslag bekend gemaak.

Toe die bespreking deur die volle raad van die Manase-verslag skielik deur die ANC gekanselleer is, is in die media bespiegel dat nie net hoë amptenare en raadslede van die raad genoem word nie, maar ook senior politici, onder meer in die provinsiale regering.

As Durban dus wil begin meeding met ander stede wat reeds kliphard besig is om hul beste voetjie voor te sit om die 2014 Spele aan te bied, moet nou duidelik en sigbaar opgetree word om ‘n skoon aansien dringend te verseker.

Met Nkandlagate en ander uitstaande kwessies op nasionale vlak, kan die IOK net besluit Suid-Afrika is ‘n gawe plek om te makeer. Aan die ander kant word die IOK en korrupsie ook wyd as sinonieme beskou, en word onder meer goed deur Jonathan Mahler, ‘n rubriekskrywer van Bloomberg, uitgelig.

Verskeie ander stede in Afrika, waaronder Nairobi en Casablanca het al aangedui dat hulle belangstel om die 2024-spele aan te bied.

Zuma gebruik die aanbied van die eindtoernooi van die sokkerwêreldbeker en ander wêreldbyeenkomste soos rugby en krieket om aan te dui dat Suid-Afrika wel oor die vermoë beskik om die spele aan te bied.

Daar is egter belangrike verskille en ander faktore wat in berekening gebring moet word. Die rugbytoernooi is nog grootliks met die infrastruktuur en kundigheid van die vorige bedeling aangebied, en dus voor die kaderontplooiingsbeleid veel impak kon hê. Met die kriekettoernooi het sake op die oppervlak goed verloop (hoewel baie mense wat self betrokke was dit as ‘n mislukking beskryf). Die sokkertoernooi, na berig word 70 keer groter as die rugby-eweknie, het uiteindelik onder streng, regstreekse beheer van Fifa plaasgevind. Groot politieke druk is op die polisie uitgeoefen dat die amptelik misdaadsyfers vir die toernooi laag moes wees, maar polisiebevelvoerders wat uitgevang is dat hulle syfers gemanipuleer het, het ‘n wanklank gelaat. ‘n Hele spektrum van goggas oor die bou van stadions is steeds besig om uit die gate gedwing te word.

Met die aanbied van ‘n Olimpiese Spele is dit eerder ‘n stad as die land wat dit aanbied. Dit is nie net een stadion, soos met die sokker nie, maar ‘n veelheid van geriewe waar ‘n groot verskeidenheid sportsoorte aangebied moet word, en die oprigting van ‘n Olimpiese dorp waar die atlete en hul afrigters in gehuisves kan word.

Dit kan aanvaar word dat die provinsiale en sentrale regerings sal hand (en geld) bysit, maar daardie geld moet weer uit Jan en Alleman se sakke getap word.

Die positiewe is dat Suid-Afrika weer ‘n motiveringsinspuiting nodig het. Die kundigheid om dit aan te bied bestaan wel, hoewel nie noodwendig nou so “ontplooi” dat die regte mense en hul kundigheid reg geplaas is nie.

Met die VSA wat ‘n gasheerstad gaan aanbied, is dit miskien goed dat Suid-Afrika eers nog ‘n rondte uitsit en eers korrupsie uitroei, en buitelandse vertroue in die land herstel, voor die wêreld weer die land onder die vergrootglas plaas.

Daar word bereken dat daar vir die 2024 Olimpiese Spele hotelverblyf vir 45 000 mense per dag nodig sal wees. Dit sal sowat $3 miljard kos om die nodige infrastruktuur op te rig.

Die Amerikaners glo dat dié land ‘n goeie kans staan om weer die 2024 Olimpiese SA spele aan te bied, en noem openlik dat die feit dat die VSA eintlik maar die IOK se ekonomiese ruggraat is, ‘n deurslaggewende rol behoort te speel.

Kommentators is opgewonde oor San Diego se bod, en raak liries oor die vooruitsig dat items soos die strandvlugbal op Tijuana se skilderagtige sonskynstrande aangebied kan word.

Tijuana het sowat 2 miljoen inwoners, terwyl San Diego sowat een en ‘n half miljoen inwoners het. Hulle word saam as ‘n metropolitaanse gebied beskryf, met sowat 300 000 grenskruisings per dag tussen die twee stede.

Kan Durban (en dalk Johannesburg wat nie eens sy rekenings kan uitpluis nie) werklik bekostig om teen die VSA en sy kandidaatstad – watter stad dit ook al uiteindelik sal wees, te staan te kom?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Seker nie net “brood en speletjies” ( panem et circenses) nie maar ook basking in the lime light en VERAL “kick backs” ( geld onder die tafel) en baantjies vir boeties?

piet ·

NEE NOGMAALS NEE, DIE BELASTING BETALER KA DIT NIE BEKOSTIG NIE,DIE SOKKER TOERNOOI SE SKULD IS NOG NIE EENS GDELG NIE, STADIONS STAAN SOOS WIT OLIFANTE. DIT NET OM TE KAN SE ONS HET N SPELE AAN GEBIED SAL GOEDKOPER WEES OM ELDERS TE KYK. EN OM TE SE WERSKEPPING IS N DOOIE PERD, DINK EERDER DIE ERNORME KORUPSIE WAT GAAN PLAASVIND

Johan Hanekom ·

Dit gaan ons kos. Alles, alles moet gebou word, ons het niks. En dan word dit ‘n witolifant soos die sokkerstadiums.

Piet ·

Ek is seker die Gupta’s sit agter hierdie storie. Hulle en die Zuma’s kan groot skep as die Olimpiese spele in SA aangebied word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.