Nuuskommentaar: Mogoeng in die kookpot

‘n Skynbaar heel onskuldige versoek van hoofregter Mogoeng Mogoeng dat senior regters en hoofde van howe ‘n leierskapskurus bywoon, na voormalige hoofregter Pius Langa in ‘n ondersoek bevind het daar is ‘n gebrek aan leierskap by howe, het nou in ‘n politieke debat met godsdiensondertone verander.

Mogoeng se omstrede aanwysing as hoofregter, gepaard met die feit dat hy vreemde uitlatings gemaak het, en te midde van pres. Jacob Zuma se bontpratery oor die magte van howe, grondwetlike wysigings en die onafhanklikheid van die howe maak eenvoudig waarnemers en opposisiepolitici uiters gevoelig, en elke uitspraak het nou hare.

Boonop is Mogoeng ‘n lekeprediker, en aan die hoof van die grondwetlike hof wat tot dusver in sy vertolkings voorkeur gegee het aan, soos dit gestel word, sekulêr-liberale uitgangspunte. Dit beteken waar ‘n grondwetlike bepaling op meer as een manier uitgelê word, die ideologie die deurslag gee. Voorbeelde hiervan is waar sommige deelstate in die VSA op sterkte van dieselfde grondwet, die doodstraf toepas en ander nie. In sommige deelstate is lyfstraf by skole verbied, terwyl seuns en meisies in ander met ‘n houtspaander brandboud opdoen.

Mogoeng toon tekens dat hy voorkeur gee aan uitlegte wat versoenbaar is met die Christen-demokrasie, maar sy uitlatings herinner dikwels aan dié wat kenmerkend is van die fundamentalisme van die VSA se suide. Die persoon wat die leierskapskursus aangebied het, is John Maxwell. Die probleem is dat Google verskeie bekende John Maxwell’s oplewer wat verwarring veroorsaak. News24 dui die John Maxwell wat die kursus aanbied aan as ‘n Suid-Afrikaner wat diep spore in die bankwese getrap het, terwyl RSG na hom verwys as ‘n evangelis wat uit die Amerikaanse charismatiese tradisie kom, en later in leierskapseminare en -boeke gespesialiseer het. Klaarblyklik is die Amerikaner die persoon ter sprake.

Hoewel Maxwell, aldus Amazon Books, die outeur was van ‘n boek, Creationism versus Theist Evolution, en hy soms as ‘n voorbeeld genoem word van ‘n voorstander wees van jong aarde kreasionisme, of te wel, “creation science”  dui meer onlangse gegewens daarop dat hy hom eintlik volledig op leierskapsontwikkeling toespits. Hy geniet deur verskeie gesaghebbende Amerikaanse instellings erkenning hiervoor.

“Creation science” word nou onder meer dwarsleggend in die drie Afrikaanse kerke as ‘n wapen teen die meer gevestigde opvattings aangewend, en word algaande ‘n bykomende klip in die versoeningspad. Die Gereformeerde Kerke het met sy onlangse sinode besluit om bloot kennis te neem van ‘n verslag van ‘n studiegroep wat ‘n alternatief met sterk “creation science”-elemente te neem, na die sinode besluit het om verdelende kwessies eers op die ys te plaas. In die publikasie van die Steedshervormers is ‘n artikel gebruik van ‘n skrywer van die Trojaanse perd in die NG Kerk en bekende aanhanger van “creation science” om maar ‘n paar voorbeelde te noem.

Die leier van die Suid-Afrikaanse Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha, het luidens SAPA tot die debat toegetree en na spesifieke voorbeelde verwys waar die Grondwetlike Hof in die verlede die sekulêr-liberale uitgangspunt gevolg het, soos die wettiging van aborsies op aanvraag.

Hierdie einste kwessie maak nou sterk deel uit van die Amerikaanse presidentsverkiesing, waar Republikeinse kandidate vroeg reeds hul teenkanting teen aborsies op aanvraag moes toon, of opposisie in hul nominasiestryde sou moes verwag van die konserwatiewe lobbies soos die Christian Coalition of America en die Tea Party. Die vernaamste dryfveer is dat pres. Barack Obama ‘n sterk voorstander is van aborsies op aanvraag, wat die partial birth-metode insluit, en ook onlangs werkgewers, selfs kerke, verplig het om in hul mediese voorsiening vir werkers vir aborsies op aanvraag voorsiening te maak.

Of Mogoeng se motiewe bloot leierskapsontwikkeling was, sal niemand met sekerheid weet nie. Kwaadwilligheid het gou ingetree met hardnekkige berigte dat Mogoeng die hof-ringkoppe verplig het om dit by te woon, ‘n opdrag wat dan in die wind geslaan is. Die hoofde van howe wat Mogoeng steun, en Mogoeng se kantoor ontken dit, en selfs na die presiese bewoording aan die media voorgehou is waaruit dit duidelik blyk dit was geen opdrag nie, word die swartsmeerdery volgehou.

Kenners van die sogenaamde Islamokrasie wys daarop dat die weste en die wêreld van die Islam heel uiteenlopende beskouings het oor wat die term “sekulêre staat” beteken. In sommige westerse lande neig dit om met ateïsme, en selfs onverdraagsame ateïsme gelykgestel te word, terwyl dit in die Moslemwêreld waar state amptelik sekulêr is steeds ‘n duidelike voorkeur vir die Islam verteenwoordig, soos in Turkye waar diskriminerende wetgewing teen Christene stadig en moeisaam uit die wetboeke begin verdwyn. In die VSA was ‘n onlangse fase waar dit veral opvallend was toe ateïste, onder die vaandel van sekularisme, ‘n veldtog teen Christelike simbole in die openbare oog gelei het. Die eerste geval was die regter wat in die sop beland het oor sy beeld van die Tien Gebooie, maar ander soos museums vir gevalle soldate het ook begin deurloop as dit enige Christen-simbool soos ‘n kruis sou insluit. Selfs die “In God we trust” wat die afgelope byna sestig jaar op Amerikaanse geld pryk, het onder skoot gekom.

Sonder dat Mogoeng dit waarskynlik in gedagte het, word hy nou geleidelik die hoop van ‘n groot groep Christene wat werklik moeg word om voortdurend vir hul Christelike oortuigings onder skoot te kom. Tien jaar sedert aborsies op aanvraag in Suid-Afrika gewettig is, is vroeër vanjaar herdenk met die nuus dat sowat ‘n miljoen babas in die periode geaborteer is. Die vernaamste kerke, soos die Afrikaanse susterkerke, die AGS en die Rooms-Katolieke, asook al die charismatiese kerke met ideologiese bande met die VSA se suidelike Baptiste, is hierteen gekant. Tog stem die meeste van hierdie lidmate in die praktyk vir partye wat pro-aborsie is of wat ‘n keusevryheid bied.

Na liberalisme in Afrikanerpolitiek onlangs taamlik wyd erg onder skoot gekom het, soos met die gewraakte DASO-plakkaat, kritiek op AfriForum se haatspraak-hofsaak teen Malema, en weer Max du Preez en denkgenote se kritiek op AfriForum se veldtog oor die regstel van die geskiedenis, wil dit voorkom of daar ‘n wydlopende aksie is om liberalisme weer in ere te herstel.

In die afgelope Sondag se Rapport word pres. Zuma in ‘n berig bygedam oor ‘n godsdiens-politieke stelling, waar hy moontlik vir die eerste keer iets in dié verband gesê het wat Christelik onberispelik is. Hy het naamlik na die mens as feilbare wese verwys, en gesê ook die grondwet is nie volmaak nie. Slegs God is volmaak.

Voorts meld die skryfster, sonder vermelding van bronne, dat Suid-Afrika se grondwet wêreldwyd as die beste model beskou word. In werklikheid sal baie van die land se voorste grondwetkenners, verspreid oor die politieke spektrum, hiervan verskil, terwyl baie grondwetlike kenners buite Suid-Afrika met verbasing hierop sal reageer. België, onder meer, werk al jare in die teenoorgestelde rigting juis om die tipe diversiteitsprobleme wat Suid-Afrika ervaar, die hoof te bied.

Op gisteraand se RSG-program, Kommentaar, het prof. Albert Venter juis op die dilemma van die Suid-Afrikaanse, ook Afrikaanse kieser, gewys. Peilings dui daarop dat ook die meestal konserwatiewe Afrikaner eerder pragmaties as ideologies, vir die DA stem waarvan die DNS liberaal is, en waarvan die leier, Helen Zille, die uitstaande eksponent is. Die feit is dat ook diegene met konserwatiewer neigings wat na berig word ‘n troonrevolusie in die DA beplan, moet aanvaar dat die DA ‘n etniese swart party, leierskap inkluis, moet word om die ANC ernstig te kan uitdaag.

Die feit is dat talle grondwette, soos dié van Indië, Nieu-Seeland, België en Spanje, en selfs die Europese Unie, juis elemente bevat om hierdie staatkundige onmag van minderhede teen te werk. Hierby kan bygevoeg word, dat ook die Christen-meerderheid hier op die staatkundige vlak tot ‘n minderheid met beperkte inspraak gereduseer word, maar hiervoor moet die Christen-kieser self ook minstens deel van die blaam dra.

Of Mogoeng die ridder op die wit perd is wat die land na ‘n gebalanseerde staatkundige uitkoms sal lei, is te betwyfel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.