Nuuskommentaar: Moord-selfmoord – wat skuil daaragter?

Die jongste moord-orgie by ‘n Kaliforniese Bybelskool, asook die onlangse moorde en selfmoord by ‘n prokureursfirma in Centurion, en die voorval waarin ‘n jong man sy meisie wat hom glo wou afsê, doodgeskiet het, voor hy selfmoord gepleeg het, plaas opnuut die soeklig op dit wat ‘n rol speel dat mense die samelewing op hierdie wyse skok.

Die losbrand op onskuldiges is nie ‘n nuwe verskynsel nie, en onlangse voorvalle in die VSA, Noorweë en België het die wêreld geskok. Maroela Media het ook al in diepte na veral die sosiologiese aspekte hiervan gekyk.

Die skietery in Centurion moet egter eerder sielkundig as sosiologies ontleed word – hoewel beide elemente altyd teenwoordig is. Kenners onderskei tussen moord-selfmoorde, en selfmoord-moorde. Moord-selfmoord is die geval wat op die Centurion-skkietery betrekking het, maar vir hierdie doeleindes is dit onnodig om te onderskei.

Waarskynlik een van die omvattendste studies is in 1999 deur dr. Katherine van Wormer van die Universiteit van Noordelike Iowa gedoen. Sy behandel dit as ‘n aanloop tot haar eintlike studie – mense wat moord pleeg met die doel om selfmoord te pleeg deur hulle te laat teregstel. Ongelooflik soos wat dit mag klink, dit kom meer voor as wat ‘n mens dink. Die verwante vorm is die sogenaamde “suicide by cop” waar mense misdade pleeg met die gedagte dat hulle deur ‘n polisiebeampte doodgeskiet moet word.

Biologiese faktore speel dikwels ‘n rol. Mans wat in sulke dade betrokke raak het dikwels hoë testosteroonvlakke. Verwantskappe is ook met lae vlakke van serotonien gevind, maar dit hou meer met impulsiewe gevalle van moord en selfmoord verband. Dié biologiese faktore hou waarskynlik verband oor hoekom mans en vroue gewoonlik by verskillende soorte selfmoord-moorde betrokke raak – mans gewoonlik waar uiterste jaloesie daartoe lei dat die vrou ook vermoor word – gewoonlik met ‘n vuurwapen, en vroue wat gewoonlik “sagter” metodes gebruik om haar kinders “saam te neem.”

Verskeie soorte selfmoord-moorde word onderskei. Die belangrikstes wat hier ter sprake is, is selfmoord om straf te ontduik, selfmoord om self gestraf te word as gevolg van skuldgevoelens, en selfmoord na gesinslede vermoor is om toekomstige swaarkry vir die gesinslede te voorkom – gewoonlik die geval waar ‘n ma haar kinders en dan haarself om die lewe bring.

Dit spreek vanself dat abnormale sosiologiese en of sielkundige redes teenwoordig moes wees. Dat sosiologiese faktore ‘n rol speel, kan nie betwyfel word nie. Oor ‘n kwessie van 100 jaar het selfmoord-moorde in Brittanje van sowat drie persent van alle moorde, tot ses persent toegeneem. Maar is daar waarskuwingstekens? Sielkundiges is dit eens dat daar is, en lys ‘n aantal. Hulle glo dit is gewoonlik ‘n ervaring dat dit die laaste uitweg is. Enige vorm van verlies, soos verlies aan werk, finansiële status, en gesondheid kan as snellers dien. ‘n Gevaarteken is as iemand selfmoordpraatjies begin maak, of sy dwelm- en drankgebruik begin toeneem. Die persoon het gevoel daar is geen ander uitweg nie.
Dit het dikwels ook met werkverwante toestande te make. Hoe strenger arbeidswetgewing word, hoe meer kan werkgewers hulle tot teistering as metode tot konstruktiewe ontslag wend. Die nadeel van so ‘n praktyk is dat die slagoffer in die spervuur kan beland nie omdat hy ‘n swak werker is nie, maar omdat die toesighouer deur sy kundigheid en werkywer bedreig voel.

Bloot swak bestuurders wat nie die kuns van deelnemende en mensgerigte bestuur verstaan nie, kan ernstige gevolge inhou. Om behoorlike sielkundige dienste beskikbaar te hê waarvoor die slagoffer uit die stelsel gehaal word, behandeling kry en net so weer in die onveranderde stelsel teruggeplaas word, is al met heelwat selfmoord-, en moord-selfmoordgevalle deur lede van die polisie in verband gebring. Dit kompliseer vakbonde se verantwoordelikheid teenoor lede ontsettend, omdat die vakbond dikwels gevestigde bestuurspraktyke moet aanspreek om sy lede te beskerm.
Werkgewers kan ook neig om hul bestuurspraktyke te verdedig omdat dit sogenaam taakgerig is.

Werkgewers baat egter wanneer vakbonde argaïese en swak bestuurspraktyke op hul kop omkeer, want die resultaat is gemotiveerde en gelukkige werkers. Dit spreek vanself dat die sigbare gevaartekens ook bloot na simptome verwys – iets anders veroorsaak dat die persoon probleme erger ervaar as wat dit werklik is. Sekere mense is meer aanpasbaar as ander, byvoorbeeld selfgewaande perfeksioniste wat in ‘n groef vasgeweef geraak het. Soms is die veranderingsweerstand noodwendig, soos wanneer die persoon hoë morele standaarde het maar die nuwe bestuur, stelsel en nuwelinge is korrup, of veranderings is duidelik kontraproduktief maar onder die dekmantel van transformasie onafwendbaar. ‘n Eens gelukkige werknemer bevind hom skielik in ‘n situasie wat teen sy hele grein indruis.

Omdat die gemiddelde mens nie die nodige kundigheid het nie, en dikwels subjektief betrokke is, is dit wys om hulp te gaan soek as daar enige teken van onstabiliteit by iemand begin sigbaar word. Te dikwels word mense wat met die geval saamgeleef het, eers na die moord-selfmoord bewus van tekens wanneer dit aan hulle uitgewys word.

En tog, daar is ook gevalle waar selfs kundiges die vooraftekens nie kan rekonstrueer nie…daardie gevalle waar die redes en oorsake saam graf toe is.

‘n Faktor wat groot frustrasie veroorsaak is mense wat duidelik hulp nodig het, maar die hulp in die wind slaan en selfs aanvoer hulle is self sterk genoeg, dat hulle nie mal is nie, of godsdiens as kruk wil inspan – in laasgenoemde geval dan juis diegene wat deur die Here met talente geseën is om te kan help, se hulp in die wind slaan.
Moenie wag vir die ramp voor kundige hulp gesoek word nie – soek eerder onnodig gou as te laat hulp.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae