Nuuskommentaar: Moslemgeweld vergiet SA-bloed

Beeldmateriaal uit die YouTube-video, Innocence of Muslims

Met al hoe meer Suid-Afrikaners wat hulle om den brode in die buiteland bevind, ook Moslemlande, was dit bykans onvermydelik dat Suid-Afrikaanse bloed uiteindelik vergiet sou word. Nou het agt Suid-Afrikaners in ‘n oorlog gesterf waarby hul land nie betrokke is nie.

Dit was nie die eerste keer dat Suid-Afrika die skerp kant gevoel het van wat internasionaal as Moslemgeweld bekend staan nie. Tydens die vlaag bomontploffings wêreldwyd wat met die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum verband gehou het, het ‘n bom in Planet Hollywood aan die Kaapse Waterkant ook ontplof. Twee mense is destyds dood en 26 beseer.

Korrupsie in Suid-Afrika het dit maklik gemaak om paspoorte te bekom, en heelwat Moslem-ekstrimiste het hul weg na Suid-Afrika gevind, en selfs van hier af aanvalle beplan, soos die 2005-aanvalle in Londen, aldus prof. Hussein Solomon, dosent in Politieke Wetenskap aan die UVS. Die volledige berig kan hier gelees word.

Solomon stel dit ook dat sy soort Islam nie vliegtuie kaap en in geboue vasvlieg nie. Nie alle Moslems moet onder dieselfde kam geskeer word nie.

Die tipe terreur wat met Moslem-terreur verband hou, kom uit die geledere wat nou onnadenkend as Salafisme bekend staan. Salafisme was egter oor die eeue soms die meer gematigde denkskool binne die Islam, en dit sal meer korrek wees om die huidige groepering as die neo-Salafiste uit te sonder. ‘n Volledige uiteensetting kan hier gelees word.

Die Christian Science Monitor het dié week ses voorbeelde gelys waar optredes in die Weste deur Moslems as beledigings teen hul profeet ervaar is. Terwyl nie alle Moslems tot geweld oorgaan nie, voel veel meer gekrenk oor hierdie optredes.

Die jongste voorval is die verspreiding op YouTube van ‘n bedenklike filmpie, Innocence of Muslims. Dit is hierdie film wat ook in verband gebring word met die dood van die agt Suid-Afrikaners. Die vrou wat die selfmoordbom laat afgaan het, het aan die groep Hezb-e-Islami behoort, wat tot nou as ‘n gematigde groep beskou is.

Onder die ander voorvalle tel  die Mohammed-spotprente deur ‘n Deense spotprenttekenaar, die Koranverbranding deur past. Terry Jones, die begraaf van Korans by Bagram in Afganistan deur Amerikaanse soldate, en die beweerde afspoel van Korans in ‘n toilet by die Amerikaanse aanhoudingsentrum in Guantanamo Bay.

In sommige gevalle was daar soortgelyke aanvalle as nou, en het mense ook die lewe gelaat.

Ongeag wat die internasionale reg sê oor vryheid van uitdrukking, bly dit ‘n vorm van ideologiese imperialisme om eie waardes op ander te wil afdwing. Om uit onkunde op ‘n manier op te tree wat op neerhalendheid teenoor ander neerkom is een ding, maar om nog daaroor arrogant en hardvogtig te wees, is ‘n ander. Die VSA bly dus ‘n gewilde fokuspunt van reaksie.

Nie alle gewelddadige optrede vanuit Moslemgeledere kan noodwendig tot die neo-Salafiosme of die belediging van Mohammed herlei word nie. Die Russiese hantering van die Tsjetsniese situasie het geopolitieke motiewe, en die Weste se lomp hantering van die Siriese kwessie word deels gevoed oor kritiek waarop die Saddam-situasie in Irak, en die Libiese situasie hanteer is.

Intussen laat die radikale hulself deeglik geld in sulke situasies, en teer op die emosies wat in die proses loskom. Waar radikale Islam met die aanvang van die Siriese kwessie kwalik ‘n faktor was, moet elke nuwe toekomsscenario meer en meer kennis neem van die impak hiervan.

Intussen moet die stem van Solomon ook gehoor word: Ons is nie almal so nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.