Nuuskommentaar: Motlanthe neem wraak

Adjunk-president Kgalema Motlanthe. Foto: GCIS

In my laaste nuuskommentaar het ek melding gemaak van die kernoorsake van Suid-Afrika se huidige malaise. ‘n Selfvoldane politieke elite, Cosatu, en rigiede arbeidswetgewing tel onder hulle. Ek hoor gister dat adj.pres. Kgalema Motlanthe die sy internasionale bondgenote by die naweek se International Solidarity Conference (wat terloops niks met die Solidariteit Beweging te doen het nie!) gevra het om die ANC se foute uit te wys sodat die party dit kan regstel.

Met die eerste aanhoor is dit logieserwys ‘n welkome en eerlike versoek. Motlanthe was nog altyd immers meer opreg oor sy party se probleme as meeste ander prominente ANC-lede en is ‘n regverdige man. Dit is ‘n veel beter benadering as die Mbeki-era toe alle kritiek bloot geïgnoreer is. Maar waar daar politiek betrokke is, moet niks op gesigswaarde aanvaar word nie en daarom moet die omstandighede sowel as taktiek van Motlanthe se kommentaar betrag word. Dan eers kan daar ‘n gebiedende oordeel oor sy uitlatings gelewer word.

Suid-Afrika is onlangs uit verskeie oorde gekritiseer en met goeie rede. The Economist, The Wall Street Journal, die plaaslike media, en plaaslike asook oorsese politieke kommentators het skerp ten velde getrek teen die huidige toestand van die land onder die (huidige) ANC. Selfs oudpres. Thabo Mbeki het uit obskure omstandighede herrys om ‘n uiters kritiese stuiwer in die armbeurs te gooi in ‘n toespraak by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap. Al hierdie kritiek was ook nie ongegrond nie: Kredietagentskappe het Suid-Afrika afgegradeer, buitelandse investering het luidens ‘n nuwe VN-verslag met 43.6% gedaal en mense is doodgeskiet deur die polisie tydens ‘n staking in die mynsektor. Die kritiek was   uiteenlopend, maar die kritici was dit eens dat Suid-Afrika nie aan die verwagtinge van ‘n middelinkosmteland voldoen nie. Mbeki het dit amper die beste raakgevat met sy stelling dat miljoene mense in die land nie ‘n beter toekoms tegemoet gaan nie en dat die situasie se rigtingsloosheid hom kwel.

Die feit dat verskeie ANC-toplui gereageer het op Mbeki se uitlatings, wys dat dit hulle tog gepla het en nie kon afmaak as ‘n “afdankingswrok” nie. Die kritiek was egter gedemp, meestal beleefd en diplomaties. Gwede Mantashe het gevra dat die prestasies van die land onder Zuma, soos die behandeling van HIV/Vigs, en die gepaardgaande styging in lewensverwagting van 52 na 60 jaar. ANC-segsman het gesê Mbeki se assessering van die land se situasie is grotendeels in die kol, maar nie dat die land nie ‘n beter toekoms tegemoet gaan nie. Mathews Phosa en die ANC-voorsitter, Baleka Mbete, het albei Mbeki se kritiek probeer onderbeklemtoon as “niks nuuts nie”. Nie een het egter om verdere kritiek gevra nie. So grootmoedig is hulle nie.

Dan moet Kgalema Motlanthe die politikus en ook die gehoor bekyk word om sin van sy kommentaar te maak. Daar word wyd bespiegel dat Motlanthe vir Zuma by die Mangaung-konferensie gaan uitdaag om die party se leierskap. Of hy wil, weet mens nie want Motlanthe was nog altyd ‘n enigmatiese persoonlikheid wat sy lippe geseël hou. Om ambisies aan te kondig blyk ook nie ANC-tradisie te wees en leiers is die laaste paar jaar as’t ware “na vore gestoot” deur faksies binne die party. Zuma het Motlanthe, sowel as die ANC-Jeugliga, boonop die afgelope naweek uit die kollig probeer hou deur hul optredes te fnuik en vir Motlanthe na minder prominente gebeure te stuur.

Die gehoor by die konferensie was, soos die naam impliseer, vanuit die linker kant van die ideologiese spektrum. Hulle is organisasies en bewegings wat almal die ANC se anti-apartheid struggle ondersteun het en is afkomstig vanaf lande soos Zimbabwe, Palestina, Kuba en Angola. Hul teenwoordigheid by die konferensie is ook tekenend dat hulle steeds vurige pro-ANC alliansievennote is.

As al hierdie faktore in ag geneem kan word, kan Motlanthe se versoek eintlik op talle maniere vertolk word – of sommer almal gelyktydig. Nademaal Zuma die president van die land is en daarom verantwoordelik vir die rigting daarvan, kan sy versoek om opregte kritiek op sy beurt as ‘n stuk kritiek op Zuma voor ‘n groep reeds-bekeerdes vertolk word. Sonder om die semantiek van sy woorde tot in die fynste detail te interpreteer, is sy oproep net soveel ‘n bekenning van die ANC se mislukking as regerende party onder Zuma as wat dit ‘n poging was om “moontlike” kritiek te laat instroom. Hoewel ‘n paar plaaslike publikasies oor die storie berig het, het Motlanthe goed geweet hy praat eintlik met die ANC se vennote en het die versoek eintlik net aan húlle gerig. Oënskynlik lyk dit edel, maar hy is bewus daarvan dat die deelnemers aan hierdie beraad nie ‘n slegte woord oor die ANC sal rep nie. Die kritiek sal dus nie aanstons gelewer word nie en die ANC se beeld bly op daardie front ongeskonde terwyl hy ‘n hou teen Zuma kon inkry. Motlanthe se verdere waarskuwing dat Mangaung die ANC se laaste kans is om die mens van SA te oorreed dat dit kan regeer, was ‘n verdere klap in Zuma se gesig. Die implisiete aanname in so ‘n stelling is dat die ANC nie beter regeer onder Zuma nie en dat daar dalk plek vir ‘n nuwe leier gemaak moet word. Of hy dit werklik so bedoel het, weet niemand verseker nie, maar dit is deels die indruk wat dit geskep het.

Aan die ander kant kon dit ook so wees dat Zuma hom verder onder die stof wou loop deur hom die slottoespraak by die konferensie te laat lewer en terselfdertyd vir Motlanthe dwing om nederig, kruipend en swak voor te kom. Zuma is immers die president en ‘n uitgeslape politikus, baie meer uitgeslape as Motlanthe. Zuma kon dus hulde bring aan Oliver Tambo terwyl Motlanthe om verskoning moet vra vir die ANC se mislukkings.

As die internasionale gemeenskap nie ‘n ware weerspieëling van ‘n regering se foute is nie, aan wie moes hy die versoek eintlik rig? Die ou spreekwoord lui dat ‘n samelewing se deugdes aan die posisie van sy mees kwesbares gemeet moet word. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit die armes asook minderhede, veral ongewilde maar suksesvolle minderhede soos die Afrikaners en bruinmense. Dit is die groepe wat werkloos sit omdat die ANC se linkse vennote aandring op hoër lone en belegging afskrik, wie se skole weens regeringsdruk moet verengels, wie van regeringshulp moet lewe omdat die regering in sy taak misluk het om behoorlik werk te skep, wie nie ‘n beter toekoms vir hulself en hul kinders sien nie (en emigreer of klippe gooi, afhangende van watter g jy is), en wie op elke manier ekonomies uitgebuit word ten bate van mense wat nie wil of kan werk nie. As jy ‘n meningspeiling onder Afrikaners of die breë Afrikaanse gemeenskap vandag sou doen, sou die oproep om kritiek oor regeringsfoute se terugvoer baie verskil van dié wat deur die regerende elites in Kuba, Angola en Palestina gelewer word.

Maar eintlik moes hierdie versoek aan die hele Suid-Afrika gerig word want ons is die mense wat hier bly en die probleme van die land intens beleef. Was Motlanthe te bang om ‘n versoek om amptelike kritiek aan die SA burger te stuur? Heel moontlik. As hy werklik ernstig oor openhartige kritiek en oplossings is, moet hy eerder die burgerlike samelewing en sakesektor vir eerlike gesprekke nooi as om versoeke aan sy internasionale bondgenote te rig waarvoor ons almal reeds weet wat die reaksie gaan wees. Daarna sal die ANC moet besef, en sy geloof met dade opvolg, dat hy nooit die land suksesvol sonder die Afrikaner en ander minderhede sal kan regeer nie. Sal Motlanthe die eerste wees om hierdie voorbeeld te stel? Kom ons hoop so.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae