Nuuskommentaar: Mugabe die held

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe is deesdae weer sterk in die nuus. Hy en sy land het pas wêreldwyd die nuus gehaal toe ‘n grondwetlike aktivis Zimbabwe se grondwetlike hof genader het om Mugabe te dwing om ‘n verkiesing uit te roep sodat die nuwe grondwet wat onlangs in ‘n referendum goedgekeur is, in plek gestel kan word. Die hof het die aktivis gelyk gegee en beslis dat dit nou reeds te laat is om grondwetlik op te tree, en die verkiesing daarom voor 31 Julie gehou moet word.

Dié nuus word nie juis verwelkom nie. Die enigste persoon wat kan baat, is Mugabe, en deur hom sy kornuite. Die opposisieleier, Morgan Tsvangirai, wys daarop dat ‘n vry en regverdige verkiesing eers gehou kan word as ‘n behoorlike kieserslys opgestel is, en onder meer die weermag van sy partydigheid vir Mugabe gestroop word. En dit gaan tyd vat.
Dan is daar die lastige kwessie dat die staatskas leeg is, en ‘n verkiesing kos geld. Daar was skenkings, waaronder privaat skenkings, maar uiteindelik, as instansies soos die Europese Unie nie weer kom bydra nie, gaan die bleekgemelkte Suid-Afrikaanse kiesers weer opdok (en daar weer nie gesien kan word wat werklik met die geld gebeur het nie).

Maar Suid-Afrika, selfs al sou daar nog geen bloue duit na Zimbabwe en Mugabe se private rekening gegaan nie, betaal reeds ‘n ontsettende duur prys – aan sy internasionale aansien en die impak daarvan op onder meer beleggersvertroue. Mugabe is ‘n internasionale muishond, fieniesj en klaar.

Maar in die SAOG (Sadec) is Mugabe ‘n gewaardeerde kameraad en word die fiksie volgehou dat alles pluis is. Die tribunaal van die liggaam is selfs omvorm na Mugabe en sy bewind aanspreeklik gehou is vir die onteiening van veral blankes se grond, sodat dié liggaam voortaan nie meer klagtes teen lidlande kan verhoor nie.

Die kort en die lank is dat die ANC dik bevriend is met Mugabe se Zanu-PF, en met die oog op die komende verkiesing ook sy steun aan Mugabe en sy party toegesê het. Anders as tevore, is Cosatu dié keer saam met die ANC in die kooi oor dié ene. Tsvangirai se MDC het uit Zimbabwe se eweknie van Cosatu ontstaan, en aanvanklik was Cosatu traag om die historiese vriendskapsbande te laat vaar.

In die parlement is die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti, daarvan beskuldig dat hy soos Mugabe is, waarop die minister onder toejuiging van die ANC gesê het hy is trots daarop om met Mugabe vergelyk te word.

Intussen het ‘n ligte storm ook losgebars oor ‘n TV-onderhoud deur Dali Tambo met Mugabe wat in die program, People of the South uitgesaai is.

Tambo het woedend reageer toe hy daarvan beskuldig is dat die onderhoud ‘n Mugabe-beeldpoetsery was. Die bekende Debora Patta het die onderhoud as ‘n belediging beskryf vir die duisende Zimbabwiërs wat hulle weens Mugabe se menseregtevergrype in Suid-Afrika bevind.

Terwyl die ANC, in die woorde van ‘n Zimbabwiese minister, Mugabe as ‘n “dear old man” probeer voorstel, is Mugabe self minder diplomaties oor wat hy van die ANC kwytraak. Kort voor Nkwinti se opmerking, het Mugabe oud-president Nelson Mandela se versoeningningsrol gekritiseer, en onder meer gesê Mandela was te sag met die blankes.
Wat moet Suid-Afrika se minderhede in hierdie konteks van so ‘n opmerking deur Nkwinti dink?
Maar gestel Suid-Afrika se minderhede se persepsie oor Mugabe en sy menseregtevergrype is oordadig of misplaas. Hoe word Mugabe in die res van die wêreld beskou?

Enkele dae gelede, op 25 Mei, het die internasionale waghond vir persvryheid, Verslaggewers Sonder Grense, nog berig dat joernaliste in Zimbabwe te midde van die naderende verkiesing geteister word. Kriminele aanklagte word onder meer teen joernaliste gelê wat hul werk doen.

Omtrent al waarde, in terme van beeld, wat Mugabe vir die ANC inhou is om ‘n buurman te hê wat nog swakker as ons regering op die persvryheidsindeks, die korrupsiepersepsie-indeks, die indeks vir mislukte state en vele meer vaar.
Maar die spreekwoord lui ook: “Meng jou met die semels…”

Maar die ANC het ‘n geskiedenis dat hy vriendskapsbande met muishondlande en hul leiers handhaaf.

En daarvoor betaal die hele land ‘n duur prys.

Intussen voer Zimbabwe nog ‘n verbete stryd deur die Suid-Afrikaanse howe om te keer dat die Sadec-tribunaal se uitspraak teen hom in Suid-Afrika regskrag kry. AfriForum staan onder meer die ontneemde boere by. Die Zimbabwiese regering het reeds die saak op hooggeregshof- en appèlhofvlak verloor en toe die grondwetlike hof genader.

Dit is ongelooflik hoe iemand wat deur een deel van die bevolking as ooglopend seniel en die kluts kwyt beskou word, deur ‘n ander deel as ‘n held beskou kan word.

Presies hoeveel geloofwaardigheid het pres. Jacob Zuma toe hy nou in Japan gesê het die (grondwetlike) demokrasie in Suid-Afrika is kerngesond, as sy party Mugabe omarm? En dit kort na dit bekend geword het die Departement van Justisie gaan voort om uitsprake van die Appèlhof en Grondwetlike Hof te evalueer ir verbintenis tot transformasie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

H J Bester ·

Mugabe is, soos ook Zuma en vele ander leiers in Afrika, ‘n toonbeeld van armoede aan insig, wysheid en versiendheid – verder ook ‘n gebrek aan kennis en vaardighede oor hoe ontwikkeling en verspoed vir ‘n land geïnisieër en deurgevoer moet word. Die meeste wat die meeste Afrika-leiers op die oog het is selfverryking en magsbeheptheid.

Voorgenoemde is dat ook die redes hoekom Afrika ‘n tipiese derde-wêreldse kontinent is wat gekenmerk word deur min ontwikkeling, swak infrastruktuur, wanadministrasie, korrupsie, armoede en hongersnood.

Tog probeer Afrika ‘n beeld skep van volwassenheid en selfstandigheid en maak op alle forums sy stem dik vir groter inspraak. Sy eie skepping, die Afrika-Unie (AU) het onlangs sy 50ste bestaanjaar gevier maar het min te toon aan suksesse. Alle konflikte in Afrika moes deurgaan deur die Weste of die Europese Unie opgelos word. Verder moet die VN se Voedselhulpprogram en die Internasionale Rooi Kruis die ewigdurende hongersnode aanspreek en word werkspanne deurlopend vanuit die Eerste Wêreld gestuur om te help met onderwys, gesondheid en ander sake wat verband hou met die opvoeding en versorging van mense.

As op die geskiedenis van Afrika oor die afgelope 50 jaar gelet word, wil dit voorkom asof daar nie noemenswaardig ontwikkeling, ook van mensemateriaal, plaasvind wat die kontinent enigsins uit sy greep van die tipiese Derde Wêreld-status lig nie. Daar is te veel leiers en onderdane met die siening van ‘n Mugabe !!

piet ·

WAT MEER KAN EK SE, ALLES IS IN DIE ARTIKEL VERVAT, MAAR NIKS GAAN IN DIE VOLGENDE 10 000 JAAR VERANDER NI.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.