Nuuskommentaar: Mugabe se bewind kry platinum-reddingsboei

Sonder fanfare het platinum weer neus voorgekry nadat dit lank laer as die goudprys was, en skaars drie maande gelede selfs meer as $200 per fyn ons minder werd was as goud. Op ongeveer $1 700 per fyn ons vanoggend, na ‘n lopie van $11 per fyn ons, is dit egter nie die hoogste vlak die afgelope maand nie.

Om voorspellings oor die platinumprys te maak het geblyk groter skoorsoek te wees as om vanjaar reën vir Sentraal-Vrystaat te voorspel, maar vir die huidige lyk dit asof Zimbabwe se Mugabe van oor tot oor kan glimlag – Impala Platinum, bekend as Implats, het pas aangekondig dat dit kopgee aan Mugabe se eis dat 51 persent van Implats se aandele vir sy mynboubedrywighede op die Zimbabwedyk, na Zimbabwiese belange gaan.

Volgens die verklaring gaan tien persent aandele aan die gemeenskap, 10 % aan die werknemers van Zimplats, en 31 persent aan die staat se National Indigenisation and Economic Empowerment Fund.

Waarnemers meen egter dit sal die despoot Mugabe se verkiesingsveldtog vir die verkiesing wat later vanjaar verwag word, ‘n stewige klop op die skouer besorg.

Die kraglopie wat die platinumprys die hupstoot verby die goudprys gegee het kan heeltemal onafhanklike oorsake hê as die Zimbabwiese verwikkelinge, en die platinumprys  kan letterlik binne minute na iemand sy hand op papier hieroor gewaag het, heeltemal anders daaruit sien; maar dit kan ook wees dat die wêreldmark met groot bedenkinge op die ooreenkoms reageer. Daar is onder meer groot onduidelikheid hoe die oorname gefinansier gaan word, terwyl die waardebepaling self slegs by benadering bereken sal word.

Suid-Afrika produseer volgens sommige bronne sowat 80 persent van die wêreld se platinumgroep se metale, hoofsaaklik afkomstig van die Bosveldstollingskompleks. Saam met die platinum wat in op die Zimbabwedyk gemyn word, is dié twee lande in wese die bepalers of die wêreld voldoende platinum vir die wye verskeidenheid strategiese nywerheidsaanwendings het, onder meer vir katalisators vir motoruitlaatgasse en onderdele in onder meer rekenaars. Veral na die prys so getuimel het, is intensief gewerk om die juwelierswaarde van platinum self as winskopie te bemark omdat dit byvoorbeeld sterker as goud is om diamante en ander edelgesteentes is te set.

Die konsentrasie platinum in die Zimbabwedyk is laer as dié in die Bosveldstollingskompleks, maar die ontginbare erts kom in ‘n betreklike dun lagie voor, en die ontginningskoste is van die laagste ter wêreld. Die konsentraat van ander waardevolle metale in die erts soos nikkel en koper is egter hoër as in die Bosveld. Om ‘n aandeel in die Zimbabwedyk se rykdomme te hê is vir ‘n Suid-Afrikaanse produsent ‘n waardevolle spaarvarkie vir wanneer die platinumprys gevaarlik na-aan die produksiekoste draai.

Die hoër platinumprys kan ook op ‘n vroeë aanduiding dui dat die vertroue in die wêreldekonomie kop optel, ook as uitvloeisel van onlangse berigte uit Europa dat dit lyk of die Griekse tragedie beter die hoof gebied kan word.

Dit is egter ook moontlik dat die styging van die platinumprys meer met Implats self verband hou. Van die onlangse staking by Implats begin het, tot dit beëindig is, het die platinumprys met sowat ‘n $500 per fyn ons gestyg. Produksieverliese van sowat  R1,2 miljard is gely. Boonop is berigte die wêreld ingestuur dat die staking na ander mynhuise kon uitbrei.

Na dit geblyk het dat die staking beëindig word, het die platinumprys bykans oornag met sowat $50 per fyn ons gedaal, en later selfs meer as ‘n $100 teen die hoogtepunt gedaal, voor dit begin kop optel het. Die huidige prys van $1 680 per fyn ons is nog heelwat laer as die hoogtepunt van $1 729 voor die staking geblyk het einde se kant toe te staan.

Die sinikus sal opmerk dat die platinumprys met die aanvang van die staking volgens sommige bronne laer as die produksiekoste was, en dat Implats aansienlik op lone bespaar het terwyl die platinumprys weer gestyg het, en produksie kon hervat met die platinumprys wat heel anders daaruit sien.

Word egter na die goudprys oor dieselfde tydperk gekyk, lyk dit of meer as die staking in gedagte gehou moet word. Goud is ‘n tipiese beleggerstoevlug wanneer die wêreldmarkte onstabiel raak, en toe platinum op sy onlangse hoogste was, was die goudprys nog $16 per fyn ons hoër. Goud het dus sedertdien van effens hoër as die platinumprys tot effens laer gedaal.

Die ander barometer, die prys van ruloie, kan nie nou gebruik word om vertroue in die wêreldmark te meet nie, omdat die kernwessie in Iran, en die bedreiging wat dit vir die olieroetes deur die Straat van Hormoes die olieprys opwaarts verwring, terwyl die herstel van die Libiese olietoevoer en die naderende Noordelike somer juis afwaartse druk moes veroorsaak.

Net ‘n baie dapper ekonoom sal nou vol selfvertroue die pen opneem en voorspellings maak. Maar wat vir die huidige darem duidelik is, is dat Mugabe ‘n breë glimlag op sy bakkies sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.