Nuuskommentaar: Munisipale skande – munisipale bestuur nie kaderspeletjies

Op 16 Julie 2009 het die destydse minister verantwoordelik vir munisipale regering, Sicelo Shiceka, Operasie Skoon Oudit 2014 van stapel gestuur. Dit het onder meer spesiale taakspanne ingesluit wat sukkelende munisipaliteite op die been moes help.

Hoeveel mense, die minister ingesluit, werklik gedink het dat dit haalbaar is, is moeilik om te bepaal. Soos gebruiklik het baie die minister heuning om die mond gesmeer deur hom na te praat, en die minister self is oorlede na hy afgedank is. Maar met sy afsterwe het die ANC geen moeite ontsien nie om te verduidelik hoe ‘n goeie minister hy eintlik was. Die OG vertel egter ‘n gans ander verhaal en nou het 95 % van ale munisipaliteite hul oudits gedruip.

Ariforum se reaksie op die slagting som die situasie raak op: “Wat AfriForum verder bekommer, is munisipaliteite se ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes wat tot R11 miljard beloop. Die verslag dui verder aan dat 84% van die munisipaliteite se rekeningkundige beamptes nie die nodige stappe gevolg het om die onreëlmatige besteding te stop nie. Daarby is byna R600 miljoen se tenders aan raadslede en munisipale amptenare toegeken. Die ongerymdhede het met 46% toegeneem vergeleke met verlede jaar. Die verslag se inhoud spreek vanself. Die feit dat munisipaliteite nie oor die vermoë beskik om dienste te lewer of om amptenare aan te stel wat gemeenskappe na behore kan bedien nie, plaas bykomende druk op gemeenskappe oor die land heen.”

Die probleem is dat al die metro’s ook in die OG-verslag in die hek geduik het. Verder is die nuusmedia vol van ander probleme op munisipale vlak – van diensleweringsprobleme soos dorpe wat lank sonder water sit, Eskomrekenings wat nie betaal word nie, rioolprobleme …

Baie van die redes is voor die hand liggend. Die beleid van kaderontplooiing het die land op diensleweringsvlak nou in die dryfsand laat vasval. Solidariteit se regsaksie teen die SAPD se toepassing van regstellende aksie word ook nou in beter perspektief gestel. In plaas van regstellende aksie soos die grondwet bedoel, het baie munisipaliteite dit vervang met die ras-nepotistiese “affirmative action” met ras as dominante en basies enigste faktor, en baie het eenvoudig ras as kriterium bly gebruik lank na die demografiese “kwotas” voltrek is. Mangaung by Bloemfontein en Dihlabeng by Bethlehem is in ‘n stadium genoem as munisipaliteite waar verteenwoordiging ver by die “kwotas” verbygedryf is voor alarm gemaak is. Kundigheid en ervaring is eenvoudig ondergeploeg.

Daar is ook ander probleme met ‘n meer internasionale karakter wat daarop dui dat munisipale regering nie kinderspeletjies, of liefs, kaderspeletjies is nie.

Toe die Kaliforniese stad, Stockton onlangs formeel bankrot verklaar is, was dit die grootste stad in die VSA wat nog onderdeur gespring het. Die slegte nuus is dat talle munisipaliteite kan volg.

Die Christian Science Monitor beskryf die toestande wat tot dié dreigende bankrotskappe lei as die perfekte storm van te min mense wat munisipale belasting betaal, die hoë koers van mense wat vir aftredingskortings kwalifiseer, deelstate wat self noustrop trek en nie kan uithelp nie, en swak fiskale besluite.

Die probleem tref munisipaliteite dwars oor die VSA, groot en klein.

Verskeie groot Amerikaanse munisipaliteite het in die verlede byna onderdeur gespring. Onder die bekendstes is Cleveland wat in die moeilikheid beland het en jare lank gespook om skuld van $30 miljoen af te werk en uiteindelik in 1978 daarin geslaag het.

New York het in 1975 in die moeilikheid beland en sake het eers begin stabiliseer toe die deelstaat sy finansies oorgeneem het en $2,3 miljard deur die Kongres geleen is. Teen 1981 kon die stad weer normaal lenings aangaan.

Die Amerikaanse voorbeeld kan ook op baie ander lande van toepassing gemaak word, en baie van die redes is net so, of in effens gewysigde formaat op Suid-Afrika van toepassing.

Suid-Afrika sit met ‘n kombinasie van groot bevolkingsaanwas, gekoppel aan ‘n groot instroming van onwettige immigrante, wat in plakkersgebiede om stede saamtrek. Weens die hoë werkloosheid en die groot aantal werkendes wat baie lae lone ontvang, maatskaplike probleme soos drankmisbruik en die gebruik van ander afhanklikheids vormende middele, is die betaling van munisipale rekenings – waar dit hoegenaamd gelewer word – laag op die prioriteitslys.

Boonop hou pensioene en ander toelaes nie tred met die tempo van styging van munisipale rekenings nie. Die tempo waarteen raadslede en senior munisipale amptenare se salarisse en toelaes styg, is hoegenaamd nie aan die OG-bevindings van daardie munisipaliteite gekoppel nie.

Sentrale en provinsiale staatsdepartemente skuld munisipaliteite ook enorme bedrae aan dienstegelde, soos vir kragverbruik.

Trouens, die sentrale en provinsiale regerings faal die munisipale regerings oor ‘n breë spektrum, ten spyte van die grondwetlike voorskrifte oor interregeringsamewerking en onderlinge hulp.

Sake gaan ook, soos Shiceka se voornemens, ‘n hersenskim bly as die OG se verslag weer min of meer straffeloos deur munisipaliteite geïgnoreer word. Die minister van finansies maak nou stem dik dat kriminele vervolgings ingestel moet word waar misdade gepleeg is, maar dit is ook laat in die dag as hiermee gewag is tot nog net 5 % van die munisipaliteite skoon oudits oplewer.

Die kaderbeleid, al word hoeveel lippediens gelewer aan ‘n voorneme om dit aan vermoë te koppel, neem nou eenvoudig rampspoedige afmetings aan, in so ‘n mate dat dit op ‘n duidelike skending van die grondwet neerkom, waarvan die beginsels reeds tot die grondwetlike beginsels teruggevoer kan word. Artikel XX van die grondwetlike beginsels ken wetgewende en uitvoerende magte aan regeringsvlakke toe wat hulle in staat sal stel om effektief te funksioneer.  Artikel XXI.2 vereis die daarstelling van standaarde waaraan dienslewering moet voldoen.

In die grondwet self, in die hoofstuk oor samewerkende regering, artikel 41(1) (c) word die voorsiening van effektiewe, deursigtige, verantwoordbare en samehangende regering voorgeskryf.

Nou wag ‘n enorme taak om munisipaliteite weer vlot te kry, maar dit sal by voorbaat moet wag tot volgende jaar omdat die vasvat van soustreinkaders die ANC se leierskapsverkiesing die einde van die jaar kan beïnvloed.

Maar so kan dit ook nie aangaan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Ebert ·

Baie goeie kommentaar Herman.

My enigste verskilpunt is dat dit natuurlik so kan aangaan. Die belastingbetalers kan nog steeds baie opdok en die staat kan nog heelwat geld leen. Daarbenewens is daar ook nog geen duik aan ondersteuning vir die ANC nie. Dit kan nog lank so aangaan.

Jy wys vir ons weereens hoe impotent die Grondwet werklik is.

H J Bester ·

Baie dankie vir ‘n goed geskrewe stuk, Herman en met ‘n bekvol inhoud wat baie om die lyf het – dis alles sprekend van wat in die werklikheid aan’t gebeure is.

My kommer is dood eenvoudig dat die kommerwekkende tendens net eenvoudig nie indruk maak op die regerende owerhede nie en dat dit maar onverpoosd sal voortduur want die doel met regstellende aksie is grootliks bereik en is die agtergebelewenes ook nou aan ‘n werkie gehelp. Dit lyk so asof bevoegdheid nie eintlik ‘n rol speel nie of is dit omdat die oorgeskiktes wat die aanstelllings maak, ook op hul beste onbevoeg is.

Waar gaan dit eindig en wat gaan die gevolge wees ? Hoe gaan dit diegene raak wie byvoorbeeld voorsiening gemaak het vir ‘n sorgvrye aftrede maar word alle strukture verswelg deur onbevoegdes wat eenvoudig alles verpletter en ongedaan maak. Mens sidder om hieraan te dink.

Frans Rootman ·

Die antwoord le in self doen. Ons moet teruggaan na die wortels en weer besef waar munisipaliteite oorspronklik vandaan kom. Geskep uit die mense vir die mense. Nou is dit in wetgewing vervat en het munisipale dienslewering ‘n politieke kleur, terwyl water bv. geen kleur het nie. Daarom Munsolve se benadering: gebruik die grondwet, nasionale wetgewing oor Plaaslike Bestuur, munisipaliteite se beleid en ordonansies en dring daarop aan dat munisipaliteite in terme van wetgewing geformuleer na 1994 optree.

Die antwoord le in saamstaan. Besoek gerus http://www.munsolve.co.za en sien wat ons reeds in ‘n paar maande reggekry het vir belastingbetalers in Rustenburg! As daar een ding is wat ons van mede-burgers kan leer, is dat huidige regeerders nie luister na een persoon nie. Sodra daar egter aksie kom, dan eers word daar aandag aan probleme gegee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.