Nuuskommentaar: My erfenis is vir my mooi – ook die volkslied

‘n Rugbyondersteuner sing driftig die Volkslied saam.

Vanjaar is die gees van die Suid-Afrikaanse erfenis reeds geskend toe Paul Matashile, die minister van kuns en kultuur, met die aanvang van erfenismaand aangekondig het dat die tema vir die maand die verering van “die helde en heldinne van die bevrydingstryd” is.

Die militaris-staatsman, Otto von Bismarck het reeds geleer dat dit onwys is om ‘n verslane vyand in die vredesooreenkoms te verneder.

Die herkoms en bedoeling van Erfenisdag in Suid-Afrika word waarskynlik ten beste in die Nederlandse Wikipedia beskryf:

Erfenisdag is een Zuid-Afrikaanse feestdag die wordt gevierd op 24 september. Tijdens de overgang naar een democratisch Zuid-Afrika heeft de regering van dat land besloten dat er een dag moest komen waarop Zuid-Afrikanen, van elke bevolkingsgroep dan ook, hun afkomst moesten gedenken. Dat betekende dat niemand moest vergeten wie hij was en waar hij vandaan kwam. Iedereen moest op die dag zijn eigen geschiedenis en cultuur in ere houden. Oud-president Nelson Mandela heeft zelf het woord regenboognatie verzonnen om de unieke verscheidenheid aan culturen in Zuid-Afrika te beschrijven. Erfenisdag moest een viering van die verscheidenheid worden. De eerste erfenisdag was op 24 september 1995. Erfenisdag gaat echter niet over elke culturele groep apart. Het is juist een feest die over die grenzen heen kijkt en de samenwerking viert.

In die Suid-Afrikaanse vredesakkoord is daar nie sprake van ‘n verslane vyand nie, en het die bedeling deur ‘n breë vredesproses, wat die Kemptonparkse Akkoord insluit, tot stand gekom. Die ooreenkoms bevat ‘n wye reeks kompromieë, is der mate dat die FW de Klerkstigting in sy Erfenisdagboodskap skryf dat die erfenis van alle Suid-Afrikaners belangrik is.

Gedeelde vreugde in ‘n gedeelde erfenis is in die aanloop tot Erfenisdag erg geskud toe die polisievakbond, Popocru, by Cosatu se nasionale kongres voorgestel het dat die Engelse en Afrikaanse strofes uit die Volkslied gehaal word. Dit is nie aanvaar nie, maar die blote feit dat dit op die tafel geplaas is dui daarop dat daar by ‘n groep mense so ‘n minagting van die skikking is dat hulle bereid is om nie net die Grondwet te wysig nie, maar die gees waarin dit gegiet is.

Presies hoe sensitief die kwessie is, blyk daaruit dat die groot Afrikaanse koerante met die Burger vooraan, die kwessie in ‘n hoofartikel aangespreek het, gevolg deur Beeld en op die vooraand van Erfenisdag, ook Rapport. Vandag, op Erfenisdag, is dit ook die tema van Volksblad se hoofartikel. “Die idee wat verlede week op die Cosatu-kongres in Midrand geopper is – dat die Afrikaanse en Engelse dele van Die Stem uit die volkslied verwyder moet word – is een van die skadelikste voorstelle wat in ’n lang tyd die lig gesien het. Die inklusiewe en verdraagsame gees van die 1994-skikking was gegrond op die harde feit dat geeneen van die vegtende partye ’n klinkklare oorwinning oor die ander behaal het nie.Die volledige hoofartikel kan hier gelees word.

Onsensitiewe plek- en straatnaamsveranderings skep al lank spanning, en ironies is vanuit die drywers van hierdie veranderings al dikwels aangevoer dat dit juis verander word om versoening te bewerkstellig.

Hierdie soort optredes plaas diegene buite die ANC-dampkring, soos die FW de Klerkstigting wat die huidige Suid-Afrika se belangrikste erfenis beskou as juis die grondwet “wat eeue se bitterheid en verdeeldheid oorkom het om ‘n nuwe, nie-rassige grondwetlike demokrasie te vestig,” binne die Afrikanergemeenskap wat meen dat sy volkeregtelike minderheidsregte vertrap word, in ‘n baie moeilike posisie.

Die Woolies-debakel ontlok in die kuberruim steeds intense debat, waarvan die kern goed deur Beeld se rubriekskrywer, Ferdie Greyling saamgevat word: “Die antwoord hierop is dat die menswaardigheid ontken word van ’n wit jeugdige wat van geleenthede uitgesluit word weens velkleur. Net so met middeljarige wit mense wat hul werk weens hul velkleur verbeur. Hul lewe is dan mos ‘minder werd’ as swart lewens.”

Die polarisasie wat in Suid-Afrika vaardig is het die regering genoop om vanjaar, in Kliptown, ‘n kongres oor sosiale kohesie te hou. By dié beraad het dr. Corné Mulder gevra vir ‘n ministerie van minderhede, wat minagtend – en heel waarskynlik on grondwetlik – deur dr. Nkosazan Dlamini-Zuma afgemaak is. Die afloop van die beraad is goed deur die Afrikanerbond saamgevat wat in ‘n verklaring gemeen het die regering het meer kwaad as goed met die beraad gedoen en het met dié beraad die wig tussen Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde en rasse dieper ingedryf.

Dr. Mulder self skryf in Beeld: ‘Die aanhef van ons Grondwet sê duidelik: “Ons, die mense van Suid-Afrika, glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” Dit is ’n baie sterk stelling. Indien hierdie stelling ernstig deur die regering opgeneem is, sou ons reeds sosiale kohesie gehad het en sou ons baie verder op die pad van nasiebou gewees het. Suid-Afrika het een van die mees diverse gemeenskappe ter wêreld.’

Beeld en Die Burger in ‘n baie eendersluidende hoofartikel skryf vanoggend oor Erfenisdag: “Die magsoordrag van 1994 en die tydperk sedertdien het verskillende reaksies by mense uitgelok, reaksies wat relevant is vir ’n dag soos vandag, synde Erfenisdag. Sommige het ná 1994 oordrewe polities korrek geword: Erfenis, veral die Afrikanererfenis, is weens die apartheidsverlede besmet en verwerplik en moet in die buitenste duisternis uitgewerp word. Ander weer het juis in reaksie hierop oordrewe gaan vasklou aan alles uit die Afrikanerverlede. Die houding van sommige kom in die praktyk daarop neer dat hul liefde vir hul eie erfenis gemeet word aan hul haat en afkeer vir die erfenis van alle ander groepe.” Die volledige teks kan hier gelees word.

In die VSA val die fokus met erfenisdae op die kulturele erfenis van verskillende groepe, soos die Native American Heritage Day, die Dutch American Heritage Day en ander. Die naaste ekwivalent van dit wat die regering in Suid-Afrika met Erfenisdag probeer bereik, is wat in die VSA as “Thanksgiving” bekend staan. Daarin kry elke kulturele bydraer tot die Amerikaanse droom egter volledige erkenning sodat dié dag werklik feestelik en wyd gevier word.

Dlamini-Zuma het die Suid-Afrikaanse droom wat by Kemptonpark gebore is by Kliptown stukkend geprik, en as daar skadebeheer uit haar party gedoen is, was dit nie baie sigbaar nie.

Baie mense sal dus vandag hul vakansiesdag vier deur te fokus op Nasionale Braaidag. Maar die Afrikanererfenis bied oneindig meer as om ‘n paar kastele se nekke te knak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.